Vat vlam

    simon_rademanEk het heelnag in tamatierooi gedroom. Alles maar alles in my droom was rooi. Dit kan wees dat Tamara Dey se vlamrooi hare my inspireer het. (Sien ons kiekie so twee blogs gelede. Die res van die niggies op die foto is haar backup dansers… Net ’n grappiekie! Dit is die ontwerpspan van Diamond Face Couture en hulle maak uitsonderlike mooi aandrokke. Onthou hulle naam!).

    Tamara, man, sy is die alternatiewe popster wat so lekker kon tiekiedraai op die realiteitstelevisie dans show. Sy is ’n absolute sweetie pie in realiteit. Heel stemmig maar o-so-sjiek.

    Iemand anders wat se voorliefde vir die fynere dinge duidelik is is een van die hoë priesters van haute couture in Suid-Afrika, meneer Simon Rademan. Eerder as met ’n entourage by fashion week te loop en soentjies blaas (soos wat daar ’n geneigdheid is om te doen by die funksies) het hy stil-stil arriveer en is hy ewe lae-profiel weggeswiep in ’n donker, luukse motor wat hom by die rooi ferweel toue opgelaai het.

    En dit, mense, is styl.

    Dit lyk my daar is nie ’n middeweg nie, in Johannesburg val die beroemdes in een van twee kategorieë of subtiel of soos ’n nommer uit ’n abstrakte sirkusvertoning.

    Maar ek moet begin tassies pak vir ons eerste mode reis van die jaar… ons gaan woestyn toe!

    Share/Save/Bookmark

    Miaauuwww!

    heniheniAl was fashion week se gemorspos nie van herwinde papier nie was die ontwerpers wel groen in hul keuse vir ons komende winter. So bottelgroen dat jy nie kon kwalik geneem word as jy dink jy het by die jaarlikse sitting van die Sioniste kerk ingestap nie. Hoera vir Heni Este-Hijzen wat die seisoen se geruite patrone interpreteer het deur die modelle te laat Voortrekker kappies dra!

    Laasjaar het ek dit aan my buurvrou in die media sitplek langs my genoem dat die modelle nogal drillerig is. Dit het my toe ’n noue ontkoming op ’n radiostasie veroorsaak waar ek moes verduidelik dat baie, selfs meeste, van my vriende en geliefdes het gesonder en ronder figure maar dat mens se verwagting by ’n modeskou is dat die meisies soos klerehangers lyk. Hierdie jaar is hulle brandmaer.

    Geen wonder loopplankmodelle het sulke lang gesigte nie! Die leefstyl redaktrise van ’n nasionale koerant bied aan om hulle met kos te gooi dat hulle vroliker raak.

    Tussen vertonings praat ek en die leefstylredaktrise-van-die-nasionale koerant oor studente partytjies (slegter klere, beter geselskap, ons lewe in die pre-botox era) en ek noem aan een mode ontwerper van hierdie ongelooflike boek wat ek lees ’n Nuwe Aarde. Hy kry ’n frons en sê “al wat mens hoef te lees is jou kredietkaart statement”. Ons is inderdaad by Fashion Week.

    Dit laat my terugdink aan modeweek in Kaapstad toe ek twee etenstye agter en een glas wyn voor was en ek, op soek na die kleedkamers, ’n voormalige Mej Suid-Afrika raakloop. Sy het op daardie stadium haarself herskep as ’n aanbieder van ’n tydskrif-styl TV program en verloofde van ’n sportman. In die media industrie het mense haar die bynaam MTN gegee. (She is) Everywhere you go. Nuwe restaurante, nuwe hotelle wat oopgemaak word, as ’n koevert oopgemaak word, dan is MTN daar. MTN het die betrokke aand ’n skepping aangehad wat mens laat dink aan ’n jas wat vol Smarties geplak is.

    Ek is bietjie voorbarig. “Ai, maar jy het ’n vrolike jakkie aan! Wie het dit vir jou aanmekaar gestik?”

    “Versace!” sis sy. Sy het nie my kompliment waardeer nie.

    Versace, Visagie, dink ek terwyl sy soos ’n skouperd weg klippetie-kloppetie in haar hemelhoë skoene met strikkies onder die hakskene.
    Die volgende oggend toe sy grimeer word vir ’n welwillendheid fondsinsameling sien ek dieselfde eks-Mej Suid-Afrika met leepogies en knikkende kop terwyl die grimeerkunstenaar die divette (dis nou ’n mini diva) se kennebak met die een hand moet regop hou en haar mond met die ander hand probeer inkleur.

    “Fire Engin!” mompel MTN. Die grimeerkunstenaar kyk haar net so en verf verwoed voort. “FIRE ENGIN!” bulk MTN. “Fire engin rooi lipstiek!” Die grimeerkunstenaar snork en haal die rooi lipstiek uit volgens die instruksies.

    “En as jy so lyk?” vra ek vir MTN. Sy sukkel om te fokus as sy na my kyk en vertel met ’n sleeptong hoe haar drankie blykbaar gedokter sou wees. Dan onderbreek sy haarself en steek met ’n slap arm haar sjampanjeglas uit sodat haar Ma, wat nou ook haar persoonlike assistent is, dit haastig kan hervul.

    Seker maar selfmedikasie, nê?

    Share/Save/Bookmark

    Sonder styl, soesji of Steve

    tamara-dey3

    Fashion Week – die herfs/winter 2009 program. Dit voel asof die skedule al vier maal verander het en teen die hoeveelste BBP en Media akkreditasie vorm wat ek kry, het ek lus en e-pos die neurotiese bemarkingsmeisie:

    AG WAT, AMERICA, [Regtig. Haar naam is America. Bid jou dit aan as Afrikaanse mense hulle kinders na plekname begin vernoem] VUL DIT SOMMER SELF IN

    In Johannesburg gebeur daar elke 2, 7 of 13 minute iets. Gewoonlik iets onwettig. Een daarvan is modeskoue. Dit sou waarskynlik elke 3 minute gebeur het as die program nie altyd ’n halfuur laat was nie. Kan al die liewe fashionistas nie maar hul skêre uit mekaar se rug trek en die politiek vir die politici los nie? Dan hoef ek net twee maal per jaar nuwe skoene te koop. As die organiseerders dit nog die moeite werd gemaak het vir ’n mens om jou bolla op te klits vir die affêre.

    By die internasionale modeskoue kry diegene wat in die voorste ry sit geskenkpakkies vol luukse bederfies op hul stoele. In die stad van goud bederf hul jou sitplek met tydskrifte wat al laas maand van die rak af is.

    (En pamflette. Klomp daarvan. Iemand moet die polities modieuse klerebedryf laat weet dat gemorspos nie groen is nie en dat daar bome afgekap word om die oorgroot confetti te maak wat net onder die pawiljoen by die Sandton Konferensie sentrum bly lê lank na die laaste ontwerper sy buiging gemaak het.)

    By die internasionale modeskoue kry jy soesji en skemerdrankies. Hier kry mens fruit chutney tjips en Weense worsies.

    Of so hoor ek want ek daag toe 10 minute laat op vir die eerste vertoning so ek het die trots Suid-Afrikaanse vingerhappies gemis.

    Koester die media, mense! Hulle is die spreekbuis wat die man op die straat laat weet wat is nuut, waar sonder jy nie kan klaarkom in jou lewe nie. Viennas op tandestokkies is nie een van die dinge nie.

    Gepraat van goed wat verby hul rakleefperk is. Hoe stief is die media nie met Oom Steve nie! Gee die man krediet vir sy kreatiwiteit. Hy het selfs sy sporadiese stoelgange as koerantopskrifte ingespan. En dan, minder oorspronklik, gevolg in die voetspore van deeltydse hartdokter en voltydse woerwater oorlê Chris deur sy bedspringery en parkeerarea-vryery te boekstaaf. Die nuwe stomende biografie verkoop blykbaar soos soetkoek. My laaste asem. Of so iets. Ek gaan stem in die volgende munisipale verkiesing vir wetgewing wat sulke siele verban na die eertydse tronkkolonie Nieu-Seeland. Want nie alle kwynende sterre het daardie sweempie waardigheid om dit uit eie keuse te doen nie.

    Maar terug by Fashion Week.

    Of nee. Ek vertel jou môre.

    Ek wil nou die hoofstuk oor die Brooklyn parkeerarea en die showgirl lees….

    Share/Save/Bookmark

    Uit en tuis

    trein-in-berlyn5

    …Ek onthou ’n dowwe geklop aan die toiletdeur maar ek het gedink dis iemand wat ongeduldig is…? Dit moes Pretoria Prinses se poging gewees het om my aan te jaag. My en Pretoria Prinses se gesprek hardloop deur my kop. Ons stasie is beslis eers ’n stop of wat later. Ek wil begin lag (op die histeriese manier) maar my mondhoek trek-trek net so snaaks aan die een kant want dis te koud vir standaard funksionering.

    Hier is ek alleen op ’n vreemde trein, in ’n vreemde stad, op ? vreemde kontinent waar niemand klaarblyklik Engels kan of wíl praat nie, oppad na die-hemel-weet-waarheen. Dit vat my reg terug na toe my ma my op 5-jarige ouderdom tydens haar inkopiemanie op ’n uitverkoping by die nuwe Hyperama in Brackenfell verloor het. Naby die hardeware afdeling. Dit verduidelik my aversie vir enige iets van praktiese aard. Hierdie keer kan ek egter nie my longe uit skrou nie.

    Diep asemhaal!

    Ek gaan soek die mees Samaritaanagtige gesig op die trein en begin die storie van die Pretoria Prinses vertel. My beskermengel is Chandra Frank - ‘n meisie wat half Hollander, half Suid-Afrikaner is. Hoe toevallig is dit!

    Twee uur later staan ek op die trem-stasie naaste aan my hotel. Selftevrede dat Pretoria Prinses slim was maar nie só slim nie - sy het haar nuwe Blackberry en paspoort in my sak gelos. Waarskynlik omdat haar tas te vol hitte-serums en haarysters is om haar natuurlike kroeskop Paris Hilton-agtig reguit te hou. Ek oorweeg dit nog om haar paspoort in die naaste grag te gooi toe ek haar skuins voor my sien verby dartel. Sonder om in te veel detail in te gaan was ons hereniging die begin van die einde.

    Ek was bly om Sondagaand na ’n vlug (in ysige stilte!) terug te wees in my smal, regop huisie met die groot Victoriaanse vensters. Dit tref my skielik dat dit nogal lyk soos die huisies in Walletjiestraat in Amsterdam. Ek onderdruk dadelik my herinnering aan Holland en twyfelagtige blonde meisies wat nie moeilik is toe Grace Kelly, my huismaat se hond, op my nou deurgetrapte Prada-geïnspireerde skoene piepie van opgewondenheid toe ek die voordeur oopsluit nie. Alles maak vir Grace Kelly opgewonde. Ek sleep my tasse tot in die voorportaal en val op die sitkamerbank neer. Dollar, my huismaat, kom van die stoep af in. En jil. Om die waarheid te sê, ek het haar eers gehoor, toe gesien. (Dis gewoonlik hoe dit is. Eers ’n groot jil en dan sien jy haar Texas skoonheidskoningin haardos, neutbruin vel en rokerige ooggrimering.)

    My gedagtes is reeds ver van die bevrore kanale van Amsterdam. Dis Fashion Week! En dit skop altyd af met een knaende gedagte. Wat om aan te trek?

    LEES DOLLAR SE DRAMATIESE LEWENSVERHAAL IN DIE APRIL UITGAWE VAN FINESSE OP BL. 34

    Share/Save/Bookmark

    Reisroes

    Eendag nie te lank gelede nie het ’n vryskut modestilis sy tasse gepak en getrek agter die goudpot aan die einde van die reënboog aan. Op die een of ander manier het hy in Johannesburg beland. By een van Suid-Afrika se mees geliefde tydskrifte as Leefstylredakteur. (’n Verkorting wat beteken as “mode, skoonheid- en sosiale redakteur”.)

    Dit is my storie.

    Ek is terug van Nuwejaar in Amsterdam. Eerder as om te herstel van laatnag jolyt in die pophuisagtige strate en juigende vuurwerke wat pffffewtpoef-poef oor die kanale skiet, herstel ek van intense melodrama.

    My reismaat, ’n voltydse Pretoriaanse sosiale vlinder, het ’n loopneus gekry op dag 1 van ons warrelwind kuier. Ipekonders as jy my vra maar sy het opsluit besluit dis ’n nuwe killer virus wat die Oesbekistaanse vrou in 43E op Jet Airways naby ons uitgeproes het. Ek kon die konstante gesnuffel probeer oorsien maar iets gee my die idee dat die Prinses van Pretoria haar eie ding wil doen. Was dit toe sy tas en al van die ondergrondse stasie wat nié op ons reisplan was nie afklim, terwyl ek my weg in die rukkende trein se toilethokkie navigeer?

    Ek kom uit, net om my pad geblokkeer te vind deur Oros oranje bagasie, ek sien in die gangetjie af ons leë sitplekke en instink laat my draai na die venster wat uitkyk oor die perron. Daar staan Pretoria Prinses. Uitdrukkingloos, snoesig in haar sneeujas gewikkel en maak ? halfhartige gebaar na die trok se skuifdeure wat besig is om toe te swiesj. Koue paniek oorval my. Elke atoom in my lyf voel meer ysig as die -8° wat dit reeds aan die kant van die aardbol is. Ek hardloop na die deure, slaan met mag aan die groen knop, trek aan ? stang wat lyk of dit die deure weer sal oopmaak. Ek betree ’n oomblik van tydelike versteurdheid waar ek myself oortuig dat hierdie situasie onmóóntlik nie met my kan gebeur nie, hardloop terug na ons sitplek, niemand is daar nie! Naakte histerie. “Stop! Stop!!!!!”

    ’n Duitse oom met akademiese boek kyk gesteurd op.

    Van onder haar strooiblonde kuif trek Pretoria Prinses skreefogies wat sê “dis jou eie skuld!”

    (word vervolg)

    Share/Save/Bookmark