Reisroes
Eendag nie te lank gelede nie het ’n vryskut modestilis sy tasse gepak en getrek agter die goudpot aan die einde van die reënboog aan. Op die een of ander manier het hy in Johannesburg beland. By een van Suid-Afrika se mees geliefde tydskrifte as Leefstylredakteur. (’n Verkorting wat beteken as “mode, skoonheid- en sosiale redakteur”.)
Dit is my storie.
Ek is terug van Nuwejaar in Amsterdam. Eerder as om te herstel van laatnag jolyt in die pophuisagtige strate en juigende vuurwerke wat pffffewt… poef-poef oor die kanale skiet, herstel ek van intense melodrama.
My reismaat, ’n voltydse Pretoriaanse sosiale vlinder, het ’n loopneus gekry op dag 1 van ons warrelwind kuier. Ipekonders as jy my vra maar sy het opsluit besluit dis ’n nuwe killer virus wat die Oesbekistaanse vrou in 43E op Jet Airways naby ons uitgeproes het. Ek kon die konstante gesnuffel probeer oorsien maar iets gee my die idee dat die Prinses van Pretoria haar eie ding wil doen. Was dit toe sy tas en al van die ondergrondse stasie wat nié op ons reisplan was nie afklim, terwyl ek my weg in die rukkende trein se toilethokkie navigeer?
Ek kom uit, net om my pad geblokkeer te vind deur Oros oranje bagasie, ek sien in die gangetjie af ons leë sitplekke en instink laat my draai na die venster wat uitkyk oor die perron. Daar staan Pretoria Prinses. Uitdrukkingloos, snoesig in haar sneeujas gewikkel en maak ? halfhartige gebaar na die trok se skuifdeure wat besig is om toe te swiesj. Koue paniek oorval my. Elke atoom in my lyf voel meer ysig as die -8° wat dit reeds aan die kant van die aardbol is. Ek hardloop na die deure, slaan met mag aan die groen knop, trek aan ? stang wat lyk of dit die deure weer sal oopmaak. Ek betree ’n oomblik van tydelike versteurdheid waar ek myself oortuig dat hierdie situasie onmóóntlik nie met my kan gebeur nie, hardloop terug na ons sitplek, niemand is daar nie! Naakte histerie. “Stop! Stop!!!!!”
’n Duitse oom met akademiese boek kyk gesteurd op.
Van onder haar strooiblonde kuif trek Pretoria Prinses skreefogies wat sê “dis jou eie skuld!”
(word vervolg)
Posts