Uit en tuis
…Ek onthou ’n dowwe geklop aan die toiletdeur maar ek het gedink dis iemand wat ongeduldig is…? Dit moes Pretoria Prinses se poging gewees het om my aan te jaag. My en Pretoria Prinses se gesprek hardloop deur my kop. Ons stasie is beslis eers ’n stop of wat later. Ek wil begin lag (op die histeriese manier) maar my mondhoek trek-trek net so snaaks aan die een kant want dis te koud vir standaard funksionering.
Hier is ek alleen op ’n vreemde trein, in ’n vreemde stad, op ? vreemde kontinent waar niemand klaarblyklik Engels kan of wíl praat nie, oppad na die-hemel-weet-waarheen. Dit vat my reg terug na toe my ma my op 5-jarige ouderdom tydens haar inkopiemanie op ’n uitverkoping by die nuwe Hyperama in Brackenfell verloor het. Naby die hardeware afdeling. Dit verduidelik my aversie vir enige iets van praktiese aard. Hierdie keer kan ek egter nie my longe uit skrou nie.
Diep asemhaal!
Ek gaan soek die mees Samaritaanagtige gesig op die trein en begin die storie van die Pretoria Prinses vertel. My beskermengel is Chandra Frank - ‘n meisie wat half Hollander, half Suid-Afrikaner is. Hoe toevallig is dit!
Twee uur later staan ek op die trem-stasie naaste aan my hotel. Selftevrede dat Pretoria Prinses slim was maar nie só slim nie - sy het haar nuwe Blackberry en paspoort in my sak gelos. Waarskynlik omdat haar tas te vol hitte-serums en haarysters is om haar natuurlike kroeskop Paris Hilton-agtig reguit te hou. Ek oorweeg dit nog om haar paspoort in die naaste grag te gooi toe ek haar skuins voor my sien verby dartel. Sonder om in te veel detail in te gaan was ons hereniging die begin van die einde.
Ek was bly om Sondagaand na ’n vlug (in ysige stilte!) terug te wees in my smal, regop huisie met die groot Victoriaanse vensters. Dit tref my skielik dat dit nogal lyk soos die huisies in Walletjiestraat in Amsterdam. Ek onderdruk dadelik my herinnering aan Holland en twyfelagtige blonde meisies wat nie moeilik is toe Grace Kelly, my huismaat se hond, op my nou deurgetrapte Prada-geïnspireerde skoene piepie van opgewondenheid toe ek die voordeur oopsluit nie. Alles maak vir Grace Kelly opgewonde. Ek sleep my tasse tot in die voorportaal en val op die sitkamerbank neer. Dollar, my huismaat, kom van die stoep af in. En jil. Om die waarheid te sê, ek het haar eers gehoor, toe gesien. (Dis gewoonlik hoe dit is. Eers ’n groot jil en dan sien jy haar Texas skoonheidskoningin haardos, neutbruin vel en rokerige ooggrimering.)
My gedagtes is reeds ver van die bevrore kanale van Amsterdam. Dis Fashion Week! En dit skop altyd af met een knaende gedagte. Wat om aan te trek?
LEES DOLLAR SE DRAMATIESE LEWENSVERHAAL IN DIE APRIL UITGAWE VAN FINESSE OP BL. 34
Posts