Vat vlam
Ek het heelnag in tamatierooi gedroom. Alles maar alles in my droom was rooi. Dit kan wees dat Tamara Dey se vlamrooi hare my inspireer het. (Sien ons kiekie so twee blogs gelede. Die res van die niggies op die foto is haar backup dansers… Net ’n grappiekie! Dit is die ontwerpspan van Diamond Face Couture en hulle maak uitsonderlike mooi aandrokke. Onthou hulle naam!).
Tamara, man, sy is die alternatiewe popster wat so lekker kon tiekiedraai op die realiteitstelevisie dans show. Sy is ’n absolute sweetie pie in realiteit. Heel stemmig maar o-so-sjiek.
Iemand anders wat se voorliefde vir die fynere dinge duidelik is is een van die hoë priesters van haute couture in Suid-Afrika, meneer Simon Rademan. Eerder as met ’n entourage by fashion week te loop en soentjies blaas (soos wat daar ’n geneigdheid is om te doen by die funksies) het hy stil-stil arriveer en is hy ewe lae-profiel weggeswiep in ’n donker, luukse motor wat hom by die rooi ferweel toue opgelaai het.
En dit, mense, is styl.
Dit lyk my daar is nie ’n middeweg nie, in Johannesburg val die beroemdes in een van twee kategorieë of subtiel of soos ’n nommer uit ’n abstrakte sirkusvertoning.
Maar ek moet begin tassies pak vir ons eerste mode reis van die jaar… ons gaan woestyn toe!
Posts