Kings & Queens

    cleoDaar is heelparty dinge wat ’n mode, skoonheid en sosiale redakteur kan laat hiperventileer in jou goodie bag. Of gillend in die stylkantoor se gang laat afhardloop terwyl jy jou kop met al twee hande vashou dat jy net rooi skoensole sien spaander:

    1 Jy kan jou sitplek in die voorste ry by mode week afstaan aan ’n junior moderedakteur omdat jy oor die verkeerde celebrity-ontwerper geskinder het.
    2 Jy kan jou afspraak vir emergency Botox voor mode week misloop.
    3 Jou Botox kan sleg versprei en jy moet modeweek mis want jy het een slap ooglid wat jou buite weste getrek laat lyk selfs al is jy ’n streng lakto-ovo-geheelonthoudende vegetariër.

    Maar ek het die strooitjie wat die kameel se rug kan breek op die harde manier ontdek.
    Vanoggend.

    Cleopatra - die mode assistent -
    gaan
    weg.

    Ek het haar sterkte toegewens in haar nuwe posisie by ’n glanstydskrif, ’n niggie van Finesse, en toe gewens dat as daar een ding is wat ek haar kon oorhaal om te doen is dit om vir my ’n knertsie in ’n heupflessie saam te dra vir my moeilike dae. Orraait ek maak net ’n grappiekie! (Maar in Frankfurt het ek tot my stomme verbasing gesien mense drink bier by ontbyt! Dan wil ek ook nie weet hoe sal die Duitsers se gemoedere wees as hulle NIE bier het vir ontbyt nie….)

    Met gitswart hare, sneeuwitjie vel en bonkige oprygstewels lyk sy meer soos ’n karakter uit ’n moderne feeverhaal as jou tipiese mode assistent. Maar dalk het sy stewels nodig om die fyntrapwerk te doen wat sy moes doen. En weet sy van ’n steunpilaar wees! Terloops, dit is regtig haar naam. (Haar kleinsussie se naam is Columbia.)

    Cleo het oornag opgang gemaak in die modewêreld van ’n stil en skrikkerige poplap na een wat divas wie laat kom vir fotosessies en moeilik is oor wat hulle eet, gou-gou regruk met ’n streng blik, ’n stywe korset en die perfekte bykomstighede. Cleo maak my sinne klaar, bring tuisgebak vir teetyd en deur alleen te vra “is als reg?” dra sy meer omgee oor in drie woorde as wat ander mense met ’n sensasionele bos blomme bedoel.

    Ons almal het ’n Cleopatra in ons lewe nodig. Dit hoef nie jou persoonlike assistent te wees nie.

    Dalk is jy gelukkig en dit is jou geliefde. Dis seker die beste kwaliteit waarvoor jy kan wens in ’n eggenoot?

    So ’n mens wat kan raakvat, kortvat en omgee altyd op die regte moment. Of dit kan ’n vriendin of ’n suster of ’n broer wees. Of dalk is dit iemand wat in jou lewe instap vir ’n moment. Dit laat my daaraan dink dat mens moet moeite om ’n Cleopatra te wees vir iemand anders. Jouself van die troon af te haal en te vergeet van jou hoofpyn, jou skuld, jou mini-drama om regtig belang te stel in iemand anders.

    Maak ’n koppie tee, vra hoe dit gaan of gee ’n opregte glimlag. Jy kan dalk net al die verskil maak aan daai mens se lewe.

    Ugh, ek voel my frons. Laat ek eers vir Cleo vra om vir oulaas vir Dr du Toit te bel vir my noodafspraak.

    [Hyg, hyg]

    Waar is my goodie bag….

    Share/Save/Bookmark

    Een Kommentaar op “Kings & Queens”

    1. Cleo

      Ryno… you saw my special qualities right from the start and gave me this wonderful opportunity – something I must always be grateful for. There will always be people in my life who will open doors on my journey to a successful career and you were one of them and for that I will never forget you.

    Lewer Kommentaar