Kry Afrika glans. Tjop-tjop.
Julle, gisteraand was ek by ’n swierige makietie van Elizabeth Arden. Ek sien toe weer net rooi. Rooi tapyte, ’n mooi rooi gebeurtenis aan Michelle Botes se uurglas figuur en rooi sousies by die salmgevulde pannekoekhappies.
Die rede vir so ’n affêre? Elizabeth Arden het vir die eerste maal ooit in die maatskappy se bykans 100-jarige bestaan ’n Suid-Afrikaner as spreekbuis.
Lerato, wie is sy?
Dit was presies my vraag toe die sanger Loyiso haar voorgestel het (met een van sy melodieë wat omtrent die gehoor se voete laat jeuk het). Lerato Moloi is ’n skugter model van Johannesburg se Heads agentskap. Nes haar internasionale eweknie Caterine Zeta-Jones, lyk sy jonger as haar ware ouderdom en versinnebeeld sy ’n gesonde voorkoms. Nie onrealisties maer of onhaalbaar perfek nie.
Anders as die gaste….
Die marmerteëls by Summer Place was geplavei met modelle en media mense. Jenna Dover, die bleek rooikop aktrise wat net glimlag wanneer sy in ’n Woolworths advertensie is, was al weer suur. Die pretliefhebbende grimeerkunstenaar Piers Braybrooke, deesdae moderedakteur vir De Kat, ook. Hy was ook daar bedoel ek. Elke keer as nog ’n skinkbord lekkernye na ons nadersweef neem hy twee bordjies voor my neus weg en fluister “gemaak” saggies vir die kelnerin “jy kan nie vir hom gee nie, hy gaan dit in elk geval netnou opgooi in die badkamer.” En dit komende van iemand wat tweekeer my lengte is, nie veel meer as ek weeg nie en nooit sonder vol kieste gesien word nie? Maar ek is gek na Piers. Julle sal ook wees. Hy lyk soos James Bond (maar een wat skurwe grappies maak). Precious Makgaretsa is ’n maltrap model – half Griek, half Xhosa. Sy het heelaand die moderedakteur van Move! tydskrif probeer oortuig dat sy wel soortvan swart is. Ek het natuurlik alweer my voete dwars in my mond gesit toe ek opgewonde iemand op al twee wange kus en vir haar vertel hoe fantasties ek hoor haar talent as grimeerkunstenaar is. Sy antwoord toe dat sy bly is mense dink so maar op die stadium gaan sy nie haar werk as aanbieder van TV program Studio 53 opgee om agter die kameras te werk nie.
Die enigste persoon wat my uit my verleentheid kon red sonder om dit te bedoel was Faith. Faith is ’n regte grimeerkunstenaar wat nog nooit ’n TV program aangebied het nie en wie se handsak te klein was om kontant en lipgloss in te pas. Sy het haar prioriteite heeltemal verkeerd gekry en die kontant ingepak en die lipgloss by die huis gelos.
“Faith van wanneer af eet jy varkvleis?” vra ek haar.
“Ek eet nie vark nie. Eintlik eet ek glad niks nie. ”
“Maar Faith dis ’n varktjoppie wat jy daar vashou.”
“O hierdie? Nee elke keer as ek sien iemand gaan met my kom gesels dan dep ek net my lippe met die tjoppie vet sodat dit lyk asof ek gloss aan het.”
“O-kay….”
Ek het huiswaarts gekeer met die vaste voorneme om meer TV te kyk. Ek wou omdraai om vir Faith te noem dat Elizabeth Arden se gawe mense gratis lipgloss weggee in die voorportaal maar toe ek haar daar in die banketsaal sien sit in haar stywe pers aandrok met ’n blink glimlag en haar tjop, toe lyk sy rêrig gelukkig.
Posts
2009/02/20 om 11:05
Ek is bly om te sien dat iemad saamstem oor Jenna Dover, die meisie is darm suur! dink al ewig sy is die kat se snor, ek het by myself gedink hoekom Gill Groger altyd dieselfde handsak het, die een met die rooi tossels! toe besef ek dat dit nie n handsak is nie, maar inderdaad Jenna Dover!
2009/02/20 om 13:47