Mooi van binne
Ons skiet vandag met Amore Bekker, die gul, diep stem van RSG.
Met die intrapslag bied Amore aan om te help dra aan die dosyne tasse grimering, klere en kameratoerusting wat ’n tydskriffoto moontlik maak. Sommer plat op die aarde, nie een van hierdie celebs wat hiet en gebied nie.
Ons gesels oor liefde vir jou werk. “Work is love made visible.” En om jou Kaapse wortels te verplant na Afrika se weergawe van New York, die liggiestad, die goudstad.
“Ek het eiendom daar maar ek is uitgeKaap, uit vir die werk daar, die manne, al die opsies is uitgeput!” Sy lag daai lekker lewenslustige lag wat so bekend is want jy hoor dit elke dag in jou kombuis, in jou motor, waar jou radio ook al aan is. Sy en Dollar die grimeerkunstenaar ruil staaltjies uit oor romanse.
Amore is ’n inspirasie. Sy vertel hoe sy haar droom om RSG aanbieder te word na 7 jaar se probeer bewaarheid het.
“God wat die hele universe geskep het, die skepper van die Niagara waterval, wat is dit vir Hom om jóú droom te bewaarheid?”
“Jy moet net glo in Hom,” sê sy en kyk mens vas in die oë.
Maar HOE kry mens dit reg om altyd so opgewek en ‘n inspirasie te wees? Radio omroepers moet mos ook af dae hê, padwoede ervaar of rou oor ’n verhouding wat verby is. Hoe gee jy altyd vir ander die beste as dit jou werk is om die land daagliks op te beur?
“Hoor hier ou skat, as jy die dag gekneus voel, dan praat jy stadiger, jy loop stadiger, jy loop gebukkend.”
(Amore demonstreer.)
“Maar weet jy, as jy jouself forseer om vrolik te wees, met ’n drafstap te loop en jou mondhoeke in ’n glimlag op te trek…. Dit is wetenskaplik bewys dat daar ’n konneksie is tussen jou glimlag en jou pituïtêre klier,” sê sy en druk met haar wysvinger in die middel van haar voorkop. “Jy skei happy hormone af en jy voel gelukkiger. Dis ’n feit!”
Amore haal uit haar handsak ’n grimeerpalet in die mooiste tin kassie - iets wat lyk asof dit gebere was in jou ouma se trommeltjie wat al jare in die dakkamer stof vergaar. Amore verduidelik aan Dollar sy het dit maande terug by die MAC toonbank gekoop en soos so dikwels gebeur met vroue, is sy nie seker hoe om dit te gebruik nie. ’n Impromptu skoonheidsles begin en voor jy jou oë uitvee het Amore sag-smeulende oë wat haar lila uitrusting komplimenteer.
Sy bekyk haarself in die spieel.
Aitsa!
“Ek het in Amerika ’n yskasmagneet gelees: Inner beauty won’t get you laid!” Die span skaterlag vir haar astrante grappie.
Voor sy uitdraf om haar middagprogram aan te bied, groet sy. Sy gryp my aan die pols en sê “lig en liefde vir jou.”
Ek hoop om weer saam met Amore te kuier. Want selfs al werk jy, saam met Amore is elke oomblik ’n viering van die lewe.
NOU OP DIE RAK - AMORE BEKKER VERTEL OP BL. 106 IN DIE APRIL UITGAWE VAN FINESSE HAAR SUKSESVERHAAL.
Posts