Oggendskemer
In Windhoek koop Dollar en ek haarsproei, tandepasta en vars onderklere met dapper glimlagte. Gelukkig vir Dollar is Namibië die enigste plek op die planeet wat nog in ’n 1970’s euforie verkeer en waar daar geen rook-regulasies is nie. So jy kan inkopies doen terwyl jy ’n dampie blaas!
Ons probeer ’n haarsalon vind wat haarstukke verkoop want die model se hare kort volume. Ons vind gou dat een grens wel ? Babelse verwarring kan beteken. Ons verstaan nie die Namibiër se aanwysings nie en sy verstaan nie ons handgebare nie. Hoe meer ek die teendeel verduidelik, hoe meer weier sy dat ons haar poniestert probeer koop. Het sy gedink ons gaan dit net daar in die parkeerplek probeer afknip…? Ons kon nie die Nippelins straat vind wat sy oor en oor herhaal het nie. Ons het wel in Independence Boulevard afgery maar oplaas besluit dat haarverlengstukke net te veel gevra is.
Jörg, ons gids, is ’n vrolike Duitse oom met pienk wange en ’n kakiepak. In ons toerbussie vat hy nie nonsens van ’n bergpas nie en die modespan onderdruk gille en jille soos ons om die draaie jaag. Blykbaar ook die ideale oomblik vir ons half Griekse model om haar nuutgevonde Afrikaanse woordeskat uit te toets.
“@#$%&*!”
Ons stel voor sy gebruik nie haar nuwe uitdrukking aan etenstafel nie.
Namibië as landskap is aangrypend. Geen hoeveelheid stadschaos wat jou kop teister kan jou dit laat ignoreer nie.
Hier is ’n omgewing wat jou met jouself konfronteer. Jy haal dieper en stadiger asem, lag makliker, jy raak meer mens. Die Namib woestyn is ’n landskap van die siel. Oop en eenvoudig en terselfdertyd kry jy die indruk dat dit vol geheime is. Dat een sandstorm of wolkbreuk dit oombliklik kan verander.
Ons slaap in Sossusvlei Desert Camp se tenthuise. Jy voel soos ’n Touareg woestynbewoner. Snags hoor jy wilde diere wat huil na die volmaan en iets wat klein en wollerig moet wees en krap aan jou deur. Maar jy is nie bang nie. Ek slaap diep, dieper, die diepste wat ek in jare geslaap het. Ek het wonderlike drome. Ek word wakker en weet dat stilte en oopheid beter is as enige terapie.
Vlieg na Namibië met Air Namibia. Maak besprekings op www.airnamibia.com.na. Gaan tuis by Sossusvlei Lodge & Desert Camp. Besoek www.sossusvleilodge.com. Skakel +264 63 693223 of e-pos adventure@sossusvleilodge.com.
Vir meer inligting skakel 011 785 4626 of 021 422 3298. Besoek ook www.namibiatourism.com.na
Posts
2009/03/01 om 22:47
Gebore Suid Afrikaner is ek in 2000 Namibia toe saam met my nuwe man. Sonder om regtig te weet wat om te verwag. Met die gaan is ek groot oog en kan nie wag om die WOESTYN te sien nie. Vreemd dat Namibia vir my sinoniem met Woestyn was. Van die res het ek nie geweet nie - die Khomas hoogland, Mariental wat so totaal en al kan verspoel, die see by Luderitz …
Ons woon die eerste 3 jaar in Luderitz en ek raak diep lief vir die Suide. Al is dit droog en warm en stowwerig. Die woestyn boei my - dis nimmer dieselfde nie. Selfs na ek in ‘n sandstorm vasval in die duine wat so oor die pad ophoop, bly daar ‘n groot stuk wonder in my vassteek - so baie sand en God weet van elke korreltjie…
Die laaste 4 jaar dan in Keetmanshoop en ek leer mense ken wat jou hartmense word. Mense met wie mens ‘n pad kan stap en wat dan ook met my en my seuns ‘n doring en klip pad saamstap toe dit nodig word.
Dis hier waar die seuns saans tot laat nog in die straat kerjakker met hul maats. Waar ons laataand lê en sateliete soek tussen die sterre. Waar die sterre net ‘n armlengte ver weg is…
Die seuns leer jag en perdry en vakansies boer hulle met hul fietse in die koppies wat rondom Keetmanshoop lê. Sondae gaan ons kerktoe en gaan koop kuier-kuier ‘n brood en koerant by Hennie Theron.
Vandag is ek amper 2 jaar terug in die Republiek en my hart is steeds die van ‘n Namibier - dis asof die sand en klippe en berge en ja, die woestyn, daarin vasgewaai het en deel van my geword het. My hartland, miskien nie my geboorteland nie, maar my hartland.
Hoe mis ek nie vanaand hierdie stukkie van my hart nie!
2009/04/19 om 08:04
Amen. Kon dit nie beter gestel het nie! Jy behoort gepubliseer te word Monica - hoop jy maak die meeste van jou talent?