Pure uit – SPA – ttigheid

Vrydagaand het Dollar, haar huisgas van Sydney, prinses Christina - deesdae werksaam by L’Oreal, Will Malherbe – die nasionale grimeerkunstenaar van Bobbi Brown, Pretoria Prinses en natuurlik moi, ’n ete partytjie gehou. Nie sommer enige een nie.
’n Murder Mystery een.
As jy hou van die Crime & Investigation kanaal – of lief is vir Cluedo, sal jy gek wees hierna! Noem dit maar die “realiteits” weergawe van die bordspel Cluedo.
’n Moord is gepleeg en die gaste moet dit oplos deur mekaar se geraamtes in die kas af te stof….
Will het aanvanklik ’n Kaapse Vlakte tema voorgestel – Midde-Oosterse nekserpies is mos juis nou so in die mode. Op die noot het hy, as eertydse Kapenaar, “nie verstaan waarom daar nog ’n Jan Smutslaan in die Wes-Kaap is nie? Tannie Helen Zille kon die straat lankal herbenoem na Najwa Pietersen Boulevard! Maar Tannie Helen is ’n ander koppie tee.”
…Ons het eindelik besluit op pizzas en kleurvolle Italiaanse karakters. Daar was ’n mafiabaas, ’n verleidster, ’n priester, ’n weduwee, ’n wynboer en ’n sokker stud. Die uitrustings het vir groot vermaak gesorg toe die kompleks se sekuriteitswag na ons huis bel en vra “of ons seker is dié mense moet ingelaat word!!” As jy wil deel in die pret, kry ’n soortgelyke interaktiewe bordspeletjie by jou naaste boekwinkel.
Saterdagoggend is ek en die Prinses ore in die nek na Silverstar Casino Soulstice spa. Jy word jou waarlik soos ’n ster behandel van die oomblik wat jy deur die hekke ry tot die oomblik wat jy langtand huiswaarts keer. Ek het in besonder daarvan gehou dat die personeel vriendelik, Afrikaans en behulpsaam is.
Ons bederf het begin met ’n halfuur dryf terapie. Jy gaan ’n skemer koepelvormige vertrek binne waarvan die mure oortrek is met fyn pers kristalle. Die plafon lyk soos ’n naghemel vol vonkelende sterre. Jy voel soos Aladdin in die grot van skatte na hy die towerlamp poleer het. In dié spasie is ’n vlak dammetjie louwarm water waarin een ton sout opgelos is. Jy klim in en skiet soos ’n kurkprop na die oppervlak. Strelende anderwêreldse musiek voer jou weg in ’n sluimering waar jy gewigloos is. Jy moet jouself die guns doen om op die besondere manier aan die wêreld daar buite se beslommernisse te ontsnap.
Hierna gaan mens na ’n terapie kamer – die interieur in skakerings van room en goud, waar twee vriendelike meisies Zenita en Natascha mens onder hande neem vir die Sulis Ontspanningsritueel en Thai voetbehandeling. Amper twee ure lank word jou vel sag gepoleer, ingesmeer en masseer. By tye kan dit voel asof klein voetjies oor die lengte van jou lyf stap. Jou nek, skouers, rug, hande, bene en voete se spanning word weggeknie. Ek het heelparty kere weggedommel in ’n toestand wat beter as slaap is soos wat jy dit ken.
Ek dink nie ek was in maande so ontspanne nie.
Net om daaraan terug te dink laat my met genoegdoening glimlag. Hierdie twee terapeute ken hulle storie!
Ingesluit by meeste dagpakkette is toegang tot Soulstice se stoomkamers, borrelbaddens en terapeutiese spa baddens. As die hongerpyne pla, sal die gawe kelners van The Pool Bar jou bedien met hul heerlike verskeidenheid. Ek het ’n sjokolade/piesang latté gehad en die Prinses het lui geteug aan ’n chillie/kaneel melkskommel. Opgevolg met salmhappies en toe die Pool Bar se bekende tuisgemaakte burger wat selfs die stoerste boer (en sy vrou) se honger sal stil.
Soulstice is ? plekkie waar die son en jou siel vir ’n oomblik stilstaan. Dat jy die helende eienskappe van water kan geniet, die mooi uitsig oor die Casino se indrukwekkende water- en ligspel in hul reuse fonteine kan geniet, of net jou oë sluit onder die blou lug terwyl jou liggaam en gees kans het om te herstel.
SKAKEL 011 662 7500 OF E-POS info@soulsticedayspa.co.za
Posts