Yogi-sit

    O my genade!

    Vrydagnamiddag spoed ek met ’n vaart om so ’n verkeerseilandjie in Sandton oppad na die Koninkryk Waterkloof en hier hoor ek die gebulk van ’n Metro-meisie in uniform oor haar luidspreker. Seker ’n spoedkaartjie dink ek so ek grawe solank vir my bestuurslisensie.

    Metro-meisie met mollige arms leun oor my oopgedraaide ruit, my hele groen gevaar (my karretjie se naam is Bapsie) kantel in Metro-meisie se rigting. Metro-meisie glimlag doodluiters en vertel my ek word gearresteer. Ek lag in falsetto en vra vir wat maak sy sulke grappies. Metro-meisie het nog steeds haar salige glimlag op en vra vir my rybewys. Ek oorhandig dit in immer optimistiese luim.

    Sy kyk na die kaartjie. Die glimlag verdwyn. Sy kyk na my en vra my om my volle name te resiteer asook geboortedatum en ID nommer en of my mangels al verwyder is. Metro-meisie lig haarself van my ruit af.

    “Eish! You’re a preeetty boy but theees picktcha? Aikôna.”

    Ek is toe regtig upset en besluit op die plek om my ID dokument en bestuurslisensie te verloor ten einde my foto’s te vervang met my gePhotoshopde redaksiefoto.

    Ek dwaal deur die res van die onderhandeling waar Metro-polisiemeisie my dreig, intimideer terwyl ek verdwaas na my bestuurslisensie foto’tjie kyk en wonder hoe ek bereid was om vir die volgende 5 jaar die wêreld aan te durf met die kiekie.

    Wat ? avonturier is ek nie. Toe sy hoor ek is ’n joernalis laat sy my gaan. (Ek het geen omkoopkontant op my nie, ’n slegte idee ten beste van tye as jy in die goudstad woon.) Toe ek daarna agter die mooi elektriese draad van my kompleks kom, soen ek soos die Pous in Rome die grond voor my Hollands geïnspireerde huisie en gaan trek die nuutste ontwerp in bulletproof partytjieklere aan omdat ek gaan vir ’n braai in Faerie Glen. Die uitnodiging lees dat jy net jou eie drankies en sekuriteitsmaatreëls moet saamneem.

    So ek wou die Yoga shopping trip storie vertel.

    Deesdae moet klere mos met ’n instruksie pamflet kom want alles raak net meer complicated maar met my antipatie teenoor enige vorm van riglyn probeer ek die grys en koningsblou speelpakkie met kaal hande en onbedekte entoesiasme aanpak. Die idee is seker dat jy al begin strekoefeninge doen in die aantrekhokkie want teen die tyd wat ek besef dat dit ’n top met ’n kappie is en nie ’n knielengte broek nie, tap die sweet my af en het ek al drie keer gesplit voor ek plat op my agterstewe teen die spieël neerplof. Net daar besluit ek om Adidas te bel in kantoorure en te vra dat hulle liewer die versameling met instruksie DVD vir my stuur. Selfs al stuur Adidas dit sal ek SafeCab Taxis moet bel om my na die Yoga sentrum te neem want die klere sit so ek sal waarskynlik op die agter sitplek moet lê vir die duur van die 3 minute reis na die onderkant van my straat waar die sentrum is.

    (Ek het darem al oefening gehad hiermee want toe ek nou die dag na Finesse se kantoor buite die stadsgrense van Sandton gery het moes Eliza, ons gesondheidsredakteur, my help om op die agtersitplek gesit te kry sonder dat my skinny jeans se naat oor my agterstewe oopruk as ek te vinnig uitasem.)

    LAAT GERUS VAN JOU HOOR AS JY AL JOUSELF UIT ‘N PENARIE MET DIE LANG ARM VAN DIE GEREG MOES PRAAT….

    Share/Save/Bookmark

    Lewer Kommentaar