Dis moeilik om te kies
Terwyl die verkiesingskoors hoog loop, is daar ook ander “kiesery” wat duisende mense op hol het, en nou praat ek natuurlik van Idols.
So sit ek en vriendin Mariana Vrydagaand by die opname van Idols in die groot Mosaïek-teater in Fairland en gesels eers oor die verkiesing, al die vuurwarm debatte wat die huidige verkiesing ontketen het, ens. ens. ens.
“Ek weet nog nie vir wie ek gaan stem nie?” sê ek uit die bloute.
Sy dog toe ek praat van Idols.
“Vir Jason, natuurlik. Wie anders?”
Wel Idols kon nie ’n beter afleiding gewees het vir die huidige politieke-resies nie.
En kyk net hoe oulik is die drie top-kandidate wat vanjaar in aanmerking kom vir die gesogte Idol vir 2009: Daar’s die skugter, nederige, soft spoken, petite en vroulike Sasha-Lee, of Wonder Woman, soos die beoordelaars haar noem. Week na week word die dogter van ’n pastoor (sy is een van tien kinders!) van Atlantis net beter en beter en haar vertolkings laat die gehore regop sit.
En net die feit dat sy op een program gesê het dat dit vir haar so lekker in die Idols huis is, omdat sy nou haar eie bed en eie skoene het, het my hart vermurwe.
Dan is daar natuurlik Jason, my persoonlike gunsteling vir die Idols-titel. ’n Man wat weet van bewaring, plante, grond, die natuur, diere, die buitelug, sterk familiebande. En ook iets terug sit in die gemeenskap, want hy leer mense hoe om die grond te verbou en plant sodat hulle kos vir die toekoms het. En baie belangrik: hy sing ’n barshou en gee alles wat hy het op die verhoog. Hy maak my knieë sommer lam as hy sing.
Laaste maar nie die minste is natuurlik Graeme, voormalige kelner, regte grapjas, poetsbakker, energiek of soos die jongmense vandag sê: ’n jol, cool….en daar moet ’n rede wees hoekom al die vroulike finaliste in die huis gesê het as hulle ’n ou in die Idols-huis moes kies met wie hulle sal uitgaan, dan is dit Graeme.
En so agter die skerms: ek het met ’n paar mense gepraat wat op Idols werk en hulle is dit eens dat Graeme ’n wonderlike persoonlikheid het.
Jason, Sasha-Lee of Graeme? Ek het al drie finaliste ontmoet en ek dink dit gaan vanjaar ’n taai stryd wees. Ek voorspel dat Sasha-Lee en Jason in die finale gaan wees. Maar ek weet dat maak nie saak wie die wenner is en wie nie, al drie hierdie talentvolle sangers gaan dit vir seker in die bedryf maak!
Wie dink julle gaan wen, Finesse-lesers en wie is jul Idols-gunstelinge vanjaar? toe…laat bietjie van julle hoor!
Posts
2009/04/24 om 08:53
Ek dink Jason en Graeme gaan die 2 finaliste wees. Sasha-Lee het regtig nie vir my wat ‘n “Idol” moet wees nie. Ek gee nie om oor hul persoonlikhede of agtergrond nie, hul stemme! En Sasha-Lee is maar net te veel van die noot af, te veel van ‘n “voorsanger” Ek kon nog nie sien of hoor waarvan sy gemaak is nie, sy aap nog net die hele tyd liedjies na. Nog niks van haar persoonlikheid het uitgekom in haar sang nie. Eintlik maar ‘n baie goeie kareoke sanger.
Ek wil nie eers kommentaar lewer oor ons landsverkiesing nie, ek is so moedeloos. Ons moet maar ons goedjies pak en gaan. Hier is net glad nie vir ons ‘n toekoms in die land nie. Ek weet nie hoe ons ooit kon dink dat daar enigsinds ‘n ander party as ANC aan bewind kan kom nie. Die verarmde massas glo steeds hul gaan huise en werk kry alhoewel geen kwalifikasies of ondervinding nie, die mense in posisies het dit so lekker, daar is nie ‘n manier dat hulle vir ‘n ander party sal stem nie, dan gaan hulle op meriete moet werk kry. Ek is baie moedeloos………..