ODE AAN MATHYS - EEN VAN DIE BESTES!!

    Lucas Maree het gisteraand op TV-nuus gesê dat hy net begin dink het hy het sy vertroue in die mensdom verloor, maar na Mathys Roets se ernstige motorfietsongeluk het hy weer besef hoe baie mense daar is wat omgee.

    Van Dubai, Australie”, Kanada tot Brittanje het al die boodskappe van meelewing en wense dat Mathys gou-gou beter sal word en sal herstel ingestroom.

    Toe ek verlede week vir my bekommernis oor Mathys se beserings teenoor my neef Retief uitspreek, toe sê hy: “Mathys is ons almal se vriend. Dis verskriklik!”

    En daarmee het hy sommer opgesom hoe ons almal oor Mathys voel. Mathys is almal se vriend.

    Ek het Mathys die heel eerste keer leer ken toe ek ’n artikel oor hom vir Beeld gedoen het. Dit was seker al so vyftien of wat jare gelede. Hy het daardie aand in Jargonelle’s, op daardie stadium een van die lekkerste musiekrestaurante in Johannesburg, opgetree en ek het self die foto geneem.

    Mathys was vreeslik skaam en hy kon beswaarlik vir die kamera kyk!

    Die nederige man met die poniestert en die mooi diep stem…so het ons Mathys leer ken. Met die jare het ek Mathys beter leer ken. Ek was vir ’n paar jaar verhoogbestuurder vir Beeld se musiektent op Aardklop. Ek het met honderde kunstenaars baie nou saamgewerk en hul buie, sommige se prima-donna-houdinkies maar bowenal talle se menslikheid leer ken.

    Mathys, Theuns Jordaan, die Grafsteensangers (en later Kurt Darren) was die grootste trekpleisters. As hulle gesing het was daar nie ’n plek vir ’n muis in die tent nie. En Mathys se konserte saam met sy twee sang-buddies, Kevin Leo en Danie Niehaus, was natuurlik een van die hoogtepunte. As Drie van die Bestes het hulle jong meisies tot gryskop-ouma’s se knieë lam gemaak.

    ’n Paar jaar later, toe ek begin het om sangers te bemark, het Mathys my gevra of ek sal help met sy bemarking. Ek het byvoorbeeld hand bygesit met die bemarking van een van Mathys se solo-vertoings in Centurion….sowat 1000 aanhangers het daardie aand opgedaag en Mathys het half senuagtig en nederig agter die verhoog vir my gesê: “Sjoe kyk hoe baie mense is hier!” My antwoord was: “Dit wys net hoe baie mense van jou en jou musiek hou!”

    Mathys se familie is ’n baie hegte familie en altyd daar om te kom help by sy konserte: sy ma en pa help met die kaartjieverkope, sy broer help om die DVD’s en CD’s te verkoop, ensovoorts.

    Sy nederigheid, vriendelikheid maar veral vredeliewendheid was nog altyd vir my ’n riem onder die hart. “Hoekom stry van die sangers so onder mekaar? Ek gaan iets reël sodat hulle mekaar beter kan leer ken en lekker saam kan kuier,” het hy ’n paar jaar gelede vir my gesê. So het hy toe ’n heerlike kuier op sy plaas in Memel vir ’n hele paar sanger-vriende gereël en dit het toe sommer ’n instelling geword.

    Mathys praat nooit sleg van enige kunstenaar of enigiemand nie, sy kinders is die punt van sy hart en dan is hy natuurlik versot op musiek, die natuur en buitelewe, sy gadgets…en ongelukkig motorfietse.

    Daar’s nou ’n baie seer plekkie in my hart omdat een van die “bestes” in ons bedryf so seer gekry het, maar ek is seker met al die duisende gebedjies wat vir hom opgaan, gaan Mathys sommer een van die dae weer perdfris wees. Vasbyt, ou maat, ons bid elke dag vir jou!

    Share/Save/Bookmark

    Lewer Kommentaar