om VET te wees kan jou JONGER laat lyk! (Die Tweeling navorsing)
Ja! Jy het reg gelees. As jy minder plooie wil hê, lê weg aan nog ’n smullekker happie van jou stoutste eetdingetjie…. En smak jou lippe van genoegdoening. Dis uiteindelik deur eksperts bewys dat vet jou mooier kan maak!
Hoe so?
Die Prinses van Pretoria het my ’n fassinerende storie in Time tydskrif gewys die naweek en daarvolgens kan ’n vetter en voller gesig jou amper 7 jaar jonger laat lyk as die ouderdom wat jou I.D. boekie weggee. Of só berig ’n studie wat deur die Plastic and Reconstructive Surgery Journal gepubliseer is vroeg vanjaar. Die verslag is geskryf deur ’n span plastiese sjirurge wie se lewenstaak dit uiteraard is om gesigte en veroudering te bestudeer. Die span het foto’s van 168 pare tweelinge geneem. Aangesien die tweelinge identiese genetiese materiaal deel kan verskille in hul voorkoms uit en uit toegeskryf word aan leefstyl. And the verdict was….
• As jy onder 40 jaar is laat vet jou ouer lyk maar as jy ouer as 40 is kan vet jou jonger laat lyk. Nou hoekom vertel hulle ons nou eers?! (Dit vuur ook die tendens aan dat jy jou gesig met vloeibare materiaal kan laat inspuit om kepe en plooie mee uit te pof en te versag.)
• As jy rook lyk jy meer verrinneweer later jare as wat jy sal lyk as jy nie rook nie. Haai nooit.
• As jy sonbrand verouder jy slegter as wat jy geprogrammeer is om te verouder. En nou vir die dinge wat ons (dalk) nie geweet het nie!
• Lede van ’n tweeling wat geskei is lyk 1.7 jaar ouer as hul identiese susters wat getroud bly maar…
• lede van ’n tweeling wat enkellopend bly, lyk jonger as hul identiese susters wat getrou het! Wat ’n goeie saak daarvoor maak dat dit beter is om gelukkig alleen te wees as om ongelukkig by iemand anders te wees.
• Stres laat jou agteruitgaan
• en wat erger is, is as jy medikasie neem hiervoor – ongeag of dit voorskrif pille is of selfmedikasie (met ’n doppie) - laat dit jou nog meer afgerem lyk.
Ek is nou nie seker waar die moeilikheid begin – as jy sonbaai of as jy trou nie. Dit tersyde, as jy een is van ’n identiese tweeling stuur asb julle kop-en-skouers foto’s dat die bloglesers jul ouderdom kan raai. Dan toets ons self of dit waar is!
LEES OP P. 78 VAN FINESSE SE JUNIE 2009 UITGAWE WAT IS DIE 7 GOUE RE?LS OM EWIGE JEUG TE GENIET.
Posts