Seksterapie, dankie!
Verlede Vrydag oggend ontdooi ek s-t-a-d-i-g. 04:00 (die oggend!) opgestaan om Vanderbijlpark toe te ry en te gaan gesig wys by Finesse se Nuwe Jy make over fotosessie. Te vroeg vir my om vogroom aan te smeer of my kuif in ’n rigting te pleister so ek trek ’n trui vol skreeuende kleure aan en hoop die feit dat ek iets so subtiel soos ’n sirkustent aan het, opmaak vir die saaiheid van my siel. Ek kou ongeskik hard borrelgom aangesien my atoompies baie stadig vibreer en ek só probeer om my ogies oopgesper te hou. Ons is in een van die suites by die Riverside hotel met die grimeerkuns en haarstileringspan.
Gou verhelder my bui toe Sonja, een van die finaliste met helder blou kykers en ’n 10 000 volt persoonlikheid, vir my vertel sy lees graag die FABULOUS blog om te hoor wat ek gistraand aangevang het. Op ’n stadium vertel my tante Liana sy geniet ook haar gate uit daarmee, lees dit getrou elke oggend en ’n vriendin Karin, wat ek ontmoet het deur die Estee Lauder maatskappy en ook eeue laas gesien het, bel om te sê sy koop deesdae die Finesse vandat sy op die blog afgekom het. So hiermee my groot DANKIE! vir elke een van julle wat my blog lees en dit aan julle vriende aanstuur. Dit laat my hart tjoklits klop om te dink julle deel in my lewe en deel in ruil julle lewe, wyshede, heimwee, geheime en grappe met my.
Sonja en Cornel, laasgenoemde ’n Nuwe Jy finalis wat my laat dink aan ’n boermeisie weergawe van Jennifer Lopez, het ’n gesprek oor bloederige versus verpoeierde biltong.
My enigste verklaring hiervoor is dat ons in ’n baie klein kamertjie met volumes haarsproei is wat nie deur die Vaaldriehoek se gesondheidsinspekteurs goedgekeur sou word nie.
“Deliciously!” hoor ek Cornel tjirp oor haar unieke biltong resep wat blykbaar ’n spesifieke Robertsons spesery behels. Cornel, as jy hierdie raaklees, laat weet ons wat jou reseppie is dat die dapperes onder ons hul hand en mond hieraan kan waag?!
Saterdagaand gaan kyk ek en die Prinses Confessions of A Shopaholic want die Prinses dring daarop aan dat dit my eerste stap na erkenning sal wees. Ons het sedert Feb 2008 ’n uitgerekte stryd gehad na ek ’n uiters raar haarproduk per eBay gesjôp het en dit eers laasmaand by my opgedaag het vanweë kwessies met die Suid-Afrikaanse posdiens. Het al weer my oog oop op ’n internet versamelstuk en die Prinses, by tye finansieel meer verantwoordelik as ek, skop hierteen vas soos ’n steeks skouponie.
Terug by die rolprentteater se voorportaal sien ek vir “Dr D” raak – jy sal haar herken as Suid-Afrika se TV persoonlikheid wat al sedert die dae van Felicia Mabuza not-so-Suttle ons volkie help met al hul katel kwellinge. Ek wou net begin dink alle agony aunts wat praat oor dié sakies waaroor mens nie aan etenstafel kan praat nie, is altyd kort van lyf/lank van tand/groot in omtrek (dink aan Dr Ruth – die ergste is doen bejaardes dit dan!!) tot ek anderdag (wat gefluister word) Suid-Afrika se top celebrity seksterapeut ontmoet.
Mense, lyk sy nou vir jou soos wat sielkundiges lyk op Amerikaanse TV!
Maar meer hieroor more….
Posts
2009/04/20 om 14:02
Hi Ryno, Jy sien, net wat ek jou gese het….. ek het nou al al my vriendinne gekry om jou blog vandag te lees!!! En, nee wat, jy het GREAT gelyk Vrydag oggend. Boggerol oogroompies of te not!!! Hou die BLOG asb net so met al jou pittige kossies!!!!
Groete
Sonja van Rhyn
Finesse NUWE JY 2009 deelnemer