SKANDES!
WAARSKUWING: MOENIE LEES AS JY SENSITIEF IS NIE!
Lank, lenig, met ’n perfekte vel en ’n kapsel Hollywood hare wat sy skud in slow motion as sy met ’n deurdringende blik op jou afstap, dis hoe Suid-Afrika se sielkundige-vir-die-sterre lyk.
[En NEE!
Nee, nee, nee!
Net vir die rekord, ek het haar nié vir ’n konsultasie gaan sien nie! Dit was om professionele redes in my kapasiteit as ’n tydskrif joernalis.]
Maar uiteindelik was die gesprek sonder nut. Want
Mej. Enhoevoeljydaarooor wou nie ontken of bevestig dat Joost & Amor nou twee maal per week deur haar beraad word nie.
Soos dit ’n terapeutiese gedragskode betaam wou sy ook nie bevestig of sý die akteur en sy vrou behandel van wie vroulief blykbaar ’n ekstra inkomste as sekswerker maak terwyl haar man op ons kassies te siene is nie! (Ek BELOWE vir jou dis ’n gerug wat ek amper 99% seker is waar is maar ek gaan wraggies nie sê wie die akteur is nie. Ek weet julle sal almal ’n petisie opstel daarteen dat ’n kêrel wat soveel vrouens se knieë lam maak, met so ’n vrou opgeskeep sit. Dis nie altyd net die manne wat sulke vark-asems is nie.)
Die terapeut het wel bevestig dat sy nie soos haar eweknie in New York glo dat die skoenlapper posisie gewaarborg is om die vonk terug te sit nie. (Sies! Julle sal laasgenoemde posisie moet gaan google as julle so nuuskierig is!)
Sondagoggend is ek en die Prinses na die Guvon hotelgroep se Glenburn Lodge wat op die Muldersdrift pad geleë is, vir middagete. Sonder Marseille die poedel.
Wolgesiggie is erg bek-af hieroor. Sy is seker die mees bederfde poedeltjie in die groter Sandton aangesien amper geen uitstappie haar ontsien word nie: Marseilles het al immers model gespeel in Finesse Meisie tydskrif (sien die kiekies hier onder) en teen bekendes se enkels geskuur op die rooi tapyt - haar toiletmaniere is onberispelik. Haar garderobe sal menige meisies jaloers maak – van denim dungarees, pienk glitter hoodie tops, ’n check onderbaadjie en ’n T-hemp waarop staan “Voetsêk jouself!” Al het sy die spyskaarte van die beste Johannesburgse restaurante beproef kan ons ongelukkig nie beweer dat sy ’n fynproewerspalet het nie want sy snuffel steeds aan ’n dooie rot as ons haar vir die daaglikse staproete naas die Jukskeirivier neem. Selfs viervoetige brats beleef egter krisisse. Ons het onlangs besluit om haar nie meer na die Wendywood Doggy Day Care toe te neem nie want sy het luidkeels begin protesteer as ons haar soggens by die crèche wou aflaai. Aanvanklik was ons bekommerd dat sy geboelie word maar menige vriende en familielede is van mening dat sý dalk die boelie was en toe nie gehou het daarvan dat die juffrou haar dissiplineer nie. Die laagste punt was toe sy opgeneem is by die troeteldier kliniek weens ’n emosionele ineenstorting nadat sy vir twee ure lank deur die kompleks sekuriteit op gholf-karretjies agterna gesit is. (Die tuinier het nie gesien sy het uitgeglip nie en Marseille benut altyd die kans om ’n bietjie amok te maak - sy het ’n langstaande vete met die bure se Jack Russell tweeling.) Al wat Marseille nog kort is haar eie realiteitstelevisie reeks op Animal Planet kanaal en sy is die Paris Hilton van poedels.
Askuus! My aandag afleibaarheid het nou weer ingeskop….
Die Prinses was mal oor Glenburn se stoere boerekos. Dis die ideale plek om jou ouers en kroos heen te neem. Die buffet tafels kreun onder die allerheerlikste braaiboud en slaaie, daar’s vermaak vir die kleinspan en dit voel uit en uit asof jy by jou familie op die plaas gaan kuier het. As jy weer wonder hoe om die uitgebreide familie te trakteer op ’n Sondagmiddag, is Glenburn die plek!
VIR MEER INLIGTING OOR GLENBURN LODGE BESOEK www.guvonhotels.co.za


Posts
2009/04/21 om 13:23
Ryno Ryno, Paris Poedel is PRAGTIG!!!! Sy mag maar die CELEB van Sandton wees, hoor!!! Bederf, ja wraggies, sommer baie!!!
2010/01/04 om 16:06
Ek bly in Wendywood en is op soek na n Doggy Day Care. Is daar werklik so iets beskikbaar?
2010/01/05 om 15:06
Ek voel dit is ‘n skande, wat meer kan mens sê…..
2010/01/20 om 08:48
Haai Susan
Stuur my jou no of e-pos adres na ryno@carpediem.co.za en ek kan die creche vir troeteldiere se details vir jou stuur
groete
Ryno