Celebrity Diaries (hoofstuk 1)
Ek lees die memoir met die boonste titel geskryf deur Mark Frith. (Hy is die redakteur wat Heat omskep het in die sappige skindertydskrif wat mense vandag verslind) Hy skryf “my sensasionele inside story van die celebrity dekade is ’n storie oor verspotte ego-maniakke in wie se gekheid ek vasgevang was.” Elke bladsy wat ek boek omblaai, wil ek uitroep “maar dit het nou die dag met ons gebeur!”
As jy lid is van die pers is jou ervaring met celebrities, universeel. Wel, ter wille van korrektheid: skinderskrywers en stiliste ervaar ’n kant van sterre wat min mense sien. Die kant wat die joernaliste wat skryf in meer genadige publikasies as Heat, nié sien nie.
Nee, vir joernaliste wat kwistig is met ’n heuningkwas, bied sterre ’n meelewende glimlag, ’n treffende aanhaling oor hul liefde vir gade/gesin/troeteldier, hul diepsinnigheid en wonderlike loopbaan word in een asem genoem. En hulle beroemde hart bloei vir ’n medemens wat krank is. Die ster gee soveel om vir melaatses en mankes dat hulle fondse sal skenk aan diesulkes mits gewone sterflinge soos jy die ster se nuutste cd aanskaf. As die ster betaal word vir die onderhoud kan hulle ’n traan wegpink en bieg oor hul hartverskeurende egskeiding. Hulle praat nie Afrikaans nie, hulle praat voorblad opskrifte! Die melodrama word poleer om impak op die skaal van ’n Griekse tragedie te hê. Want wie se hofdrama, dwelmprobleem, vete of skeisaak kan erger en meer glansryk as ’n celeb s’n wees?
Mens kan nie die joernalis kwalik neem nie. Dalk is hulle naïef en slurp die spookasem op wat die bekende kwytraak? Maar ’n joernalis behoort tog slimmer te wees? Of dalk is die mediamense desperaat-naïef om te glo dat so bietjie van die glamour en glorie sal reflekteer op hulle wat joernaliste is. ’n “Oe, ek het mos sus-en-so op speed dial” mentaliteit. Die naakte waarheid is meeste van die sterre het een ware liefde: hulself.
’n Poplap wat deur ’n romantiese teleurstelling werk, het haar beste rol vertolk. Ons heldin het gebroke dog dapper geglimlag ten spyte van die skok onthulling dat haar man ’n string flerries aanhou. Sy was verskriklik geskok hieroor terwyl die res van die land eers verdeeld en nou verveeld is met die nuus. Op ’n stadium gooi sy haar kop agteroor, sug diep en kondig aan dat sy sal flou val as sy nie dadelik eet nie. (Soos ek gesê het sy werk deur haar pyn.) Gou het haar getroue vriendin-cum-sidekick wat oral met haar saamgaan, haar dagboek vir haar reël en die ster se kroos rondkarwei, nader geskarrel met ’n energie-stafie om die ster te voer. ’n Ligte teleurstelling want ek wou hoor of ’n lugleegte ’n slag maak as dit die vloer tref. Helaas is ons ster se floute afgeweer en sal ons nooit weet nie.
’n Ander persoonlikheid wat werklik haar plek in die vermaaklikheidswêreld met reg vol sit, is Suid-Afrika se kletskoningin, ons eie “Oprah”. ’n Lewende bewys dat kamera truuks wondere verrig want in persoon het sy selfs meer van ’n reuse teenwoordigheid. In so ’n mate dat klere dit met moeite akkommodeer. Mini-Oprah rook lustig terwyl haar grimering aangepleister word, blaf as die grimeerkunstenaar nie volgens die kletskoningin se sin verf nie en vertel breedvoerig hoe die sangeresse Christina Aguilera en Will Young hulself skuldig maak aan gruwelike diva gedrag. (Pop poplap Christina wou nie haar onderhoud doen voordat sy 6 pizzas kan bestel waarvan sy elke topping persoonlik kies nie en teen die tyd wat dit by die SABC studio’s afgelewer is het sy intussen besluit sy is vegetaries.) Terug by ons eie Oprah. Sy val oor in ’n vertelling oor haar inkopie verslawing, haar koop-orgie in Parys (nie die een duskant Hartebeespoort nie) en haar beste oefening is om ’n winkeltrollie te stoot. Nadat sy ’n poffertjie poot wikkel uit ’n blink sandaal sien ek in die skoensool dis Jimmy Choo. Dae na ons fotosessie bulk die kletskoningin soos ’n walvis (via e-pos via haar persoonlike assistent). Haar artikel moet radikaal herskryf word: sy is glad nie materialisties nie en het ’n intense voorliefde vir daaglikse gym sessies. …Het ons geliefde kletskoningin raad geneem van Christina en Will?
Oor Kurt Darren, sy klere groottes en kafee-middagetes het ek geen uitlatings nie. Dit is ’n herinnering wat ek wil laat vervaag soos ’n nagmerrie wat jou in koue sweet laat uitslaan.
Maar more kan ek julle so bietjie insae gee in die diva gedrag van ’n beroemde nagtegaal met ’n soet stem en ’n swak manier van sit….
Posts
2009/05/12 om 12:31
Sjoe Ryno, dis ‘n mond vol, hoor!!! Baie goeie lees stof. sien uit na hoofstuk 2!!!