Ek ry op ‘n olifant!
En daar ry ek toe vir die heel eerste keer op ’n olifant!M-Net het verlede week twaalf joernaliste op ’n ongelooflike, nvergeetlike trip na Livingstone, Zambië geneem …en baie van ons drome waar gemaak.
Dit was natuurlik alles vir die bekendstelling van M-Net se nuwe realiteitsreeks, I Wanna Be, wat Sondagaande om 18:00 op M-Net uitgesaai word.
Ons het skaars Dinsdag in Livingstone aangekom (ons het in die weelderige Royal Livingstone, wat op die oewer van die magtige Zambezi-rivier geleë is, tuisgegaan) toe is ons oppad na ’n olifant-safari.
Wel, ek was ’n regte Bang Jan, omdat ek nog nooit voorheen op ’n olifant gery het nie. Maar die bestuurder van die olifante het my gou-gou gerusgestel en gesê dat hulle vir my ’n ‘bedaarde’ olifant sou gee om op te ry. Dit het wel nog baie mooipraat van die ander gekos voordat ek uiteindelik op die olifant, genaamd Maroela, geklim het. Gelukkig het Charis Labuschagne, ’n joernalis van Sarie, agter my gesit en dit het my gekalmeer.
Maar Maroela het skaars met sy nuwe passasiers weggetrek, of ek besef dat ons drywer ’n bier of wat agter die blad het. Dit hetmy nog meer verbouereerd gemaak. “Kyk links…daar is…of kyk regs…daar is….” van ons drywer het gou op dowe ore geval, want ek het hom gou laat verstaan dat ek baie senuagtig is en te bang is om links of regs te kyk, net-nou foeter ek af. En Moeder Aarde is doer ver, ver onder.
Bedaard is Maroela toe ook nie. Want elke keer as ’n sekere olifantbul (Ek dink sy naam is Madikwe) aangestap kom, dan kan ek sommer voel hoe Maroela retireer. My senuwees was dan eers op hol! Die drywer het gou verduidelik dat dit als oor “territory” en dominansie gaan. Sê nou-net Maroela hardloop nou vir die vale in die bosse in…
Die olifant-safari duur altesaam ’n uur en die olifante stap na ’n halfuur rustig af tot by die rivier waar dit dan, soos ons drywer gesê het, “Kodak Time” is en die olifante en die passasiers breed vir ’n foto kan glimlag. Nandi, die klein baba-olifantjie stap die hele tyd saam met haar ma, tog te oulik!
En as die olifante honger is, dan vreet hulle. Hulle maak sommer sulke systappies die bosse in om ’n takkie of twee beet te kry…en ons moet weer klou vir die vale.
Dit was ongelooflik om die pragtige omgewing so van bo-af te bespied. So in die hartjie van Zambië.
Ons het na die olifantrit geleentheid gekry om die olifante te voer en hulle te streel. Dié grootvoete is darem net ongelooflike, sensitiewe diere… en noudat ek dit eenkeer gedoen het en my vrese oorbrug het, kan ek nie wag vir my volgende olifant-rit nie!
Ons groep het die aand ’n vyfster-aandete by die Royal Livingstone Hotel genuttig en Ed Jordan, mede-aanbieder van I Wanna Be, het ons vreeslik laat skaterlag met sy kwinkslae. (Elana Afrika het eers die volgende dag by ons aangesluit).
Posts
2009/05/18 om 13:44
Jou gelukkige man!!! Jy moet tog net se as ek en jy plekke kan ruil!!! Ek laaik olifante….
Sterkte vir die res van die week!!!
2009/05/25 om 18:00
Hi Sonja! Nee, ek en Martjie blog op die webwerf so kyk onderaan elke storie dan kan jy sien wie die bydrae gelewer het. Op die stadium ry ek net Jan Tuisbly se karretjie