Kaapse draai
Julle! Het ek ’n heerlike naweek gehad. Laat my toe om bietjie te “brêg” – ek glo baie van julle het ook ’n storie of wat om te deel? Jy stem sekerlik saam die enigste negatiewe is om ? maand te moet aanpak SONDER die vooruitsig van al die salige publieke vakansiedae….
Boulders Beach Lodge in Simonstad, Kaapstad het laat weet ek moet ’n draai kom maak. As ’n bederfde Kapenaar-by-oorsprong het dit nie vir my gelyk na ’n besonder eksotiese eindbestemming nie, ek is mos gek oor alles wat kleurvol en outlandish is – volksvreemd soos Oubaas sal sê in 7de Laan. En die Suidelike skiereiland was nog nooit iets wat my in besonder aangetrek het nie – al my herinneringe daaraan het te make met komplekse fotosessies in die dae toe ek die modeblaaie van ’n wilde tienertydskrif stileer het. Ons het onder andere ’n fotosessie gedoen op ’n skip wat ’n week later gesink sou word – almal het geskeurde denim aangehad en my enigste verskoning hiervoor is Christina Aguilera wat in my prulle jeug my inspireer het met haar gaterige klere. Dit was die 1990’s orraait, ’n ander millenium!
My ervaring met die deel van die Kaap laas naweek was soos ’n herontmoeting met ’n kennis wat jou voorheen nie interesseer het nie maar wie jy nou nogal sjarmant vind ’n dekade later. (Mens moet net seker wees dit het nie te make met goeie beligting, duur wyn en die skielike afwesigheid van jou rekenaar nie, wat genoeg is om enige een se helder denke te befomfaai nie…)
Ek en die Prinses van Pretoria (kom ons noem haar PvP ter wille van bondigheid) - laasgenoemde deliries van opgewondenheid asof ons gaste gaan wees van die Sultan van Broenei - kom eers laataand by die oord aan weens tegniese probleme waaroor ek nie gaan uitwei nie (“ek sê jou mos jy moet eers later afgedraai het!”) oppad vanaf die lughawe. Die weer doen gestand aan die eertydse “Kaap van Storms” titel met winde en ’n gotiese volmaan wat soms tussen onheilswolke deurskemer. Sterk in kontras met Boulders Beach Lodge. Die plek is ’n vrolike Madeliefie-geel huis met blou afronding wat uitkyk oor reuse geronde rotse wat rys uit die see, hier waar die twee oseane aan die punt van Afrika bymekaar kom.
En, asof dit so gereël is, waggel ’n pikkewyn in sy manelpak, snawel in die lug, tot reg by die ingang om ons te verwelkom.
Hy strek tot op heuphoogte maar met sy waardige houding neem ek aan die meneer is die gasheer!
Ons is té laat om Boulders se legendariese aandete te geniet maar betyds om ’n Skotse toeris te hoor prysliedere sing daaroor en te vertel dat hulle daar bespreek het omdat vriende van hulle so lekker hier geëet het op besoek aan Suid-Afrika. Die bestuurder – die vrolike Jenine Genade – verwelkom ons hartlik met vrolike geskater en staaltjies asof ons al jare bure is. En my badkamer met sy skeepsvenstertjie wat uitkyk oor ’n kinderboek-mooie prent is meer as ’n troos. Alle sorge vergete met die wispelturige maar passievolle Kaapse verwelkoming.
Die volgende dag sluit ek aan by enkele Japannese toeriste voor ontbyt. Ons gaan maak kennis met die vrolike en vriendelike pikkewyn kolonie wat nuuskierig na mens nader stap totdat jy retireer want… die skattige dierasies ruik nogal sterk na die see! Ek koop die mooiste klein pikkewynbeeldjie uit klip gekap en loer deur die curio winkel. As iemand my sou vertel oor so ’n wegbreeknaweek sou ek “nee dankie” sê maar dis asof ek weer terugklim in myself. Jy raak weer grootoog kind hier.
Ek en PvP eet regtig een van die lekkerste brêkvisse (soos ons eg Kaapse kelner praat) ooit. Ek haal diep asem, die lug hier is verfrissend. Jy voel nie langer soos ’n skarnier in ’n masjien wat olie kort nie.
Later die dag gaan stap ons in koddige klein winkeltjies in Kalkbaai, kyk uit oor die Suidelikste punt van Afrika by Kaappunt, eet die varsste seekos en ry op wit perde op die Noordhoek strand.
Maak tyd vir jouself, moenie dat jou binnelewe vergaan nie. Boulders Beach Lodge is ’n plek waar jy dit terug kan vind.
VIND MEER UIT OOR BOULDERS BEACH LODGE OP www.bouldersbeach.co.za OF SKAKEL 021 786 1758. 

Posts