MEL BOTES OP SY BESTE

Mel Botes
Ek was Maandagaand by Mel Botes se bekendstelling van sy nuutste album Nice to Meet You by die Performer Teater in Pretoria.
Moet sê, net om in Pretoria uit te kom is nogals “’n mission|”. Benewens die verkeer, is die padverleggings ’n nagmerrie….en so tussen al die verkeer vleg ’n paar motors toe met blou ligte ook deur, besig om ’n staatsmotor te begelei. Was dit dalk ons nuwe staatspresident? het ek en my vriendin Mariana gewonder.
Maar aan die einde van die dag is die sweet in die verkeer toe alles die moeite werd.
Ek is die afgelope sewe jaar al betrokke by Mel se bemarking (van my Beeld-dae af en ook toe ek by Select Musiek gewerk het). As Vuurdoopliedjie-wenner (’n liedjieskryfkompetisie wat ek en Driekus van Janus Musiek destyds begin het) van een jaar (ek kan nie meer onthou watter jaar nie) het sy uitsonderlike musiekstyl en meesterlike kitaarwerk my uit die staanspoor beïndruk. Mel mag maar!
Sy nuwe Engelse album, Nice to Meet You, bevat 12 liedjies waarvan tien uit sy pen. Twee covers, nogals, die een van ABBA (nogal!) Summer Night City wat hy ’n baie lekker nuwe beat gee en dan natuurlik sy grande finale op die album Here my train a comin’ van Jimi Hendrix. Fenomenale kitaarwerk!
Ek het nog altyd gesê Mel is een van die beste kitaarspelers in ons land (in dieselfde klas as ander bobaas-kitaarspelers soos Mauritz Lotz en Denny Lalouette). Maar na Maandagaand se konsert kan ek omonwonde sê: daar’s nie ’n kwessie nie, Mel is die beste kitaarspeler in die land! Sy vertolking van Here my train a comin’ (ook die finale song by die konsert) het natuurloik ’n staande ovasie uitgelok.
Ek hou persoonlik meer van die tweede deel van sy album: so regte lekker laid-back Chris Rea gevoel. Heerlike musiek vir die langpad…..die heavy rock (die eerste deel) laat ek maar meer aan die jong rockers en jollers oor.
Mel het ook nuwe talent by sy konsert bekendgestel: ene ‘Bob Larney’ ’n nuwe groep sonder naam, het in sy voorprogram opgetree. Die groep het ’n regte “Bob Marley” gevoel en het baie positiewe reaksie van die gehoor gekry. Selfs Amore Bekker van RSG het na die tyd na my gekom en gesê: “Maar is die ouens nie cool nie?” Hopelik hoop ons om meer van die nuwe ouens n die toekoms te hoor en gaan hulle ook eersdaags hul eie album uitreik.
Hul musiek het ook ’n lekker laid-back-gevoel. My reaksie daarop was: Jy kan die kokosneute van die eiland ruik!
Dit was ’n heerlike aand en veral om ou vriende soos André Swiegers, Jannie Moolman en ander ou pelle by die konsert raak te loop.
NS: Net gewonder: Dozi het luidkeels gesê hy woon Mel se “launch” by, saam met ’n metgesel…maar het geskitter in sy afwesigheid. Hy en Mel loop al ’n lang pad saam en het in hul jong dae baie saam musiek gemaak. Wat sou sy verskoning die keer wees?
Posts