Mooi so Coenie en Sasha-Lee!

    sahsa-leeWat ’n opwindende naweek in die musiekbedryf. Wel, vir eers was daar die SAMA-toekennings Vrydag- en Saterdagaand in Sun City. En dan natuurlik die Idols-finale Sondagaand in Johannesburg.
    Ek kon ongelukkig weens onvoorsiene omstandighede nie vanjaar die SAMA-toekenningsgeleenthede in Sun City bywoon nie. Dit is die derde agtereenvolgende jaar wat ek beoordeel het en ek het vanjaar omtrent my naels afgebyt vir wie ek in die kategorie beste Afrikaanse kontemporêre album moet stem. Die grootste mededingers in die bedryf was natuurlik diva Amanda Strydom en liedjieskrywer par excellence Coenie de Villiers. Hulle is albei my gunsteling-kunstenaars (l.w. ek noem hulle kunstenaars en nie net sangers nie, want hulle kan baie meer doen as net sing…) en albei se albums wat vanjaar in aanmerking gekom het vir SAMAS was van hoogstaande gehalte. As ons beoordeel, het ons nie ’n “clue” vir wie die ander beoordelaars stem nie en die uitslag is dus ’n groot verrassing.
    Maar dit was ’n kwessie van: As Amanda wen, sal ek bly wees en as Coenie wen, sal ek ook bly wees. En toe wen Coenie…en my hart het gebokspring van vreugde.
    Wel, toe gebeur dieselfde Sondagaand met Idols (ek was nou net nie ’n beoordelaar nie). As Sasha-Lee sou wen, sou ek jubel en as Jason sou wen, sou ek ook jubel.
    Jason was van die begin af my gunsteling en het deurgaans met elke vertoning hom baie goed van sy taak gekwyt. Met ander woorde, hy was konstant en het nie wipplank-optredes soos sommige van die finaliste (ek dink nou aan Graeme en Lendel) gehad nie. Hy is ook ouer en meer volwasse as die ander deelnemers. Dus genoeg rede om met die Idols-titel weg te loop.
    Sasha-Lee, darenteen, is ’n sterretjie wat al hoe blinker en blinker begin skyn het. Met elke Idols-vertoning wat ek die afgelope tyd bygewoon het, het sy my uitgeboul, want elkeen van haar vertonings was beter as die vorige. ’n Meisiekind wat uit ’n enorme gesin (sy is een van tien kinders en het glo agt sussies!) kom en ’n slaapkamer (en klere en skoene) moes deel….nou ja, in ’n sekere sin ’n Aspoestertjie-verhaal. En wie hou nie van sprokies nie?
    Ek het ook gedink sy is baie bemarkbaar….so ’n jong ontluikende Beyonce of
    Alicia Keyes dalk? En hou die meisiekind maar dop, sy gaan dalk nog ’n verhoog in die toekoms met sangers soos Beyonce deel.
    Ek was baie bly toe Sasha-Lee gewen het, ek dink daar wink ’n baie blink toekoms vir die beskeie nagtegaal van Atlantis. Well done girl!
    Maar nog iemand wat darem haar slag met Idols gewys het, was Liezel van der Westhuizen, die aanbieder. Sy het haar deksels goed van haar taak gekwyt.
    By die perskonferensie na die groot aand het Sasha-Lee juis gesê dat sy hoop dat sy ’n rolmodel vir baie mense in Atlantis kan word….broodnodig!
    Nou ja, nou is die SAMA en die Idols-hype iets van die verlede. Maar more verkas ek Zambië op uitnodiging van M-Net vir die bekendstelling van I Wanna Be, M-Net se splinternuwe realiteitsprogram wat Idols se skoene Sondagaande nou moet volstaan.
    Ons gaan by die Victoria Watervalle bly en ek gaan baie waaghalsig wees, want ek gaan vir die eerste keer in my lewe op ’n olifant ry ( en bid maar vir my, want ek het hoogtevrees) ’n Helikopter-rit oor die Victoria Watervalle is ook op my lysie…die valle is glo skouspelagtig uit die lug…
    As ek Vrydag terug is, vertel ek alles…en ook meer van die celebs, Ed Jordan en Elana Afrika, die aanbieders van die nuwe reeks, wat saam gaan.

    Share/Save/Bookmark

    Lewer Kommentaar