Villa Rosa vier ‘n mylpaal

    Therese Lieb en Chantell

    Therese Lieb en Chantell

    Haai, hierdie maand is besig om so vinnig weg te glip, ek kan amper nie glo dit is al amper Julie nie!
    En so tussen al die gewoel en gewerskaf bibber ons almal…van die Kaap tot in die Transvaal!
    Ek was op 12 Junie so bevoorreg om saam met die span van Villa Rosa (dis nou die regisseur, skrywers, akteurs ens.) by Moyo, Dieretuinmeer, te kuier om ’n groot mylpaal saam met hulle te vier….die 1000 ste episode.
    Johan van der Vyver, die uitvoerende vervaardiger, het die dag gesê dis ’n groot eer vir die Villa Rosa-span, want hulle is nou nie juis ’n sepie met ’n groot begroting of een van die sepies wat so baie publisiteit kry nie (ons sal nou nie name noem nie). Wys jou nou net…so stil-stil maak die Villa sy merk.
    Die Villa Rosa-span is darem ook gelukkig verseker van brood op die tafel vir nog ’n jaar, want hul kontrak is deur kykNET hernieu….al die sepies (gedagtig aan die benarde finansiële situasie by die SABC) is ook nie so gelukkig nie.
    Maar terug by die party….ons het omtrent lekker gesmul en gekuier…..dit was so lekker om weer vir die nimlike Lieb Bester (prof in Villa Rosa), Harold Richter (Charl Retief) en Jaco Spies (Hein Barnard) te sien…..hulle voel al soos familie. (Ek ken vir Jaco al donkiejare van die ddisselblom-dae af en hy is seker een van die aangenaamste jong kunstenaars in die bedryf.)
    ’n Nuweling wat my sommer baie impress is Dawid Louw (Petrus Steyn), wat sy merk op die verhoog in Samurai gemaak het. Jana Nortier (Sussie, of almal ken haar in die Wimpy-advertensie) lyk ook na ’n baie oulike girl.
    En dan was Chantell Stander en Therése Benade ook natuurlik daar….
    Dit was ’n heerlike kuier en ek moet sê wat my opgeval het is dat almal so plat op die aarde is. Hier’s niks airs of flairs nie…
    Ek wil nou defnitief ’n punt daarvan maak om meer Villa Rosa in die toekoms te kyk….Ons moet Afrikaans en ons Afrikaanse programme ondersteun!
    *En o ja, baie geluk met die mylpaal, Villa Rosa! Doe so voort!

    Share/Save/Bookmark

    Geloof, Hoop en Liefde - Lindie Strydom

    Ek het in Februarie as bemarkingsbestuurder van Solidariteit Helpende Hand begin.  ‘n Organisasie wat se leuse sê:  “Hoop vir ons kinders.”  Ek het intussen al baie kop gekrap oor hierdie tema van HOOP:  Hoe lyk hoop en hoe gee ons dit vir ons kinders.  My gevolgtrekking is, ek glo nie mens kan hoop vir iemand gee nie - hoop is ‘n keuse.  Maar wat kan ek vir my kinders en vir jou kinders en al die kinders van Suid-Afrika gee sodat hulle hoop sal kies?  LIEFDE.

    Liefde as ‘n doen- en werkwoord.  Liefde wat jy kan sien in betekenisvolle aanraking. Liefde wat jy kan hoor in opbouende woorde en woorde van hoë waardering.  Liefde wat ‘n kind se potensiaal vir hom/haar verwoord as hy nog nie self verstaan wat dit is nie en dan aktief betrokke is by daai potensiaal om te verseker dit word verwesenlik.  Liefde wat uitkyk vir mekaar se kinders:  oor die muur, in die straat af, by die winkel en die mall.

    Liefde wat my tyd vra, my volle aandag, my oogkontak en in-die-oomblik teenwoordigheid terwyl ons speel en stoei en lees en geduldig leer.

    Hierdie gevolgtrekking van LIEFDE het gevloei vanuit ‘n kindermisdaadverslag wat ons op 4 Junie bekendgestel het.  Ek het besef daai woordjie misdaad moet reg gedefinieer word, want misdaad kan ook beteken gebrek aan daad, mishandeling beteken ook gebrek aan handeling.  Ons verontskuldig onsself dat ek niks verkeerd doen nie, maar dit kan ook wees omdat jy net eenvoudig niks doen nie!  Jy pynig dalk nie daai klein lyfie nie, maar jy koester en vertroetel dit ook nie. Jy spreek nie harde woorde of verskree jou kind nie, maar jy praat ook nie opbouende en positief met hom nie.

    Ek wil ‘n goed-dadiger wees wat met hande-vuil maak liefde HOOP vir ons kinders bring!

    Share/Save/Bookmark

    Conspiracy theory - Lindie Strydom

    Ek het vandag ‘n nuwe conspiracy theory:  daai ding van “kopluise hou van skoon hare”…
    Sou ouers hand opgesteek het as hulle gesê het kopluise hou van vuil, sweterige, warm kopvelle wat een keer ‘n week gewas word en floreer in vuil huise op vuil kinders?   Laat mens wonder wat’s die waarheid.

    Share/Save/Bookmark

    Partytjie etiket - Lindie Strydom

    lindie1

    Ek wag vir Emsie Schoeman se boek:  wat mag en wat mag nie, want Kinderpartytjies is soos ‘n sport wat se reëls almal ken, maar my nog nie geleer het nie! Die Mammas nooi wyd, die temas is indrukwekkend om die minste te sê en die uitnodigings kom nou al met vrywarings-vorms!

    Ek word ge-sms, ge-epos en gebel by die huis as ek nie betyds r.s.v.p. nie – dis erger as die mafia as hulle eers op jou spoor is! Verder sien ek laas Saterdag by een van die okkasies die vreemdste verskynsel:  Mammas laai hulle kinders af en ry dan weer om te gaan shopping doen of toonnaels te verf saam met hulle vriendinne!  En dit in die stad!  Nou moet ek bysê, ek wil ook nie by elke partytjie small-talk vir 3 ure met wild vreemde mense tot my kinders klaar ge-springkasteel en hanswors het nie.  Maar aflaai en ry?  My 3 klein bloedjies?

    Ek is beslis nog nie fiks vir die affêre nie en nooi dus my een vriendin met haar 4 kinders en dan voel dit in elk geval soos ‘n partytjie.  Of ek nooi my en Sakkie se vriende en sê hulle kan hulle kinders saam bring.  Die einste kinders wat pragtige vriende en selfs lewensmaats vir my kinders sal maak…

    Laat mens maar die goed beheer so lank jy kan, nè.  Of tot die etiket boek my anders oortuig!

    Share/Save/Bookmark

    Roetine - Lindie Strydom

    Ek roem nie op baie dinge nie.  Ek is slim genoeg om te weet dat ouerskap soos golf baie nederig-makend is - jy is so goed soos jou laaste hou.  (hmm - miskien nie so ‘n goeie vergelyking nie…)   Nes jy dink jy het nou gearriveer as suksesvolle ouer, doen jou kinders iets horribaal wat jou verneder tot in die 4de geslag.
    Maar as ek belowe om nie die eer te vat nie, wil ek tog brâg oor iets wat werk in die Strydom-huis.  Ek het 3 kabouters wat soggens hardloop om tande te kan borsel en hulle bitter sleg multi-vitamien te drink!  Jy het nog nie so iets gesien nie - vra my man Sakkie!

    Ek weet self nie hoe het dit gebeur nie.  Al waaraan ek dit kan toeskryf is dalk my gil van plesier voor ek die aankondiging van die oggend roetine maak en die feit dat die verloop van gebeure (redelik) presies dieselfde is:  Trek aan, borsel tande en drink medisyne. Trek aan, borsel tande, drink medisyne.

    Het ek genoem van die koekie as beloning na die sluk medisyne?

    Share/Save/Bookmark

    ‘n Rowwe Rol - Lindie Strydom

    Ek het hierdie week vir ‘n fondsinsameling vir my kinders se kleuterskool ‘n praatjie gelewer.  Die tema het ek by my baie goeie vriendin, Adriana, se een-vrou-stuk, “Rowwe Rol” geleen.  Ek het gehou van die dubbelsinnigheid daarvan en het gehoop om so klein bietjie nuuskierigheid uit te lok.  (Ek het eerlikwaar ook nie geweet waaroor ek met ander Mammas – nes ek – gaan praat nie, so die interessante tema het vir my tyd gekoop vir voorbereiding tot op die laaste.)

    Die Rowwe-Rol-geselsie het toe uitgedraai  in ‘n belydenis van my tekortkominge as ouer, my opregte gewilligheid om die rowwe rol van ma-wees tog reg te kry en die druk wat ek en baie Christen ouers ervaar om te bewys ons Christen metodes werk en dat dit mooi voorbeeldige kinders lewer.  Ek kan verantwoordelikheid aanvaar vir die aanslag wat ek as ouer kies, maar die uitslag is eintlik buite my beheer.  Op die ou end is my belangrikste rol dié van ‘n fasiliteerder wat my kinders na Jesus toe moet bring en hulle nie verhinder soos die goed-bedoelende dissipels nie.

    Die volgende oggend in die parkeer area van die skool kry ek aanbod op aanbod om my te help dra aan die 3 lomp boksie tassies en 3 woelwaters wat elkeen hulle eie koers kies die oomblik wat daai voetjies die teer slaan.  Daar is iets anders.  Amper soos Steve liedjie: “ek en jy verstaan mekaar.”  Miskien het dit iemand gevat om te bieg, “ek kry nie hierdie ma-ding altyd reg nie”, om al die ander ouers vry te maak van die vals juk van ouer-perfeksie.

    Nou wanneer ek die kinders op- en aflaai is daar hierdie wetende wenkbrou groet wat sê ek dink ook dis ‘n rowwe rol en sterkte vir joune vandag…

    Share/Save/Bookmark

    Goue advies - Amy Kleinhans

    Hierdie onderwerp is ‘n doring in die vlees in elke huisgesin.  Al drie my kinders kom baie goed oor die weg en speel almal lekker saam, maar in dieselfde asem is daar insidente waar een by my kom kla of een wat begin iemand huil ens. ens ens.

    Die meeste van die tyd los ek hulle om hulle eie onderonsies uit te sorteer.  Daar is uitsonderlike gevalle waar jy moet intree wanneer dit tot konflik lei wat hulle nie kan self uitsorteer nie of wanneer konflik wat homself herhaal permanente negatiwiteit kan manives tussen boeties en sussies.  Wat ek onlangs in my eie gesin gesien het is dat Phillipa (11) en Thomas (9) vir die kleintjie, Georgia (2) boelie en terg.  My eerste reaksie is altyd om vir hulle te vra om te dink wat hulle vir Georgia leer deur hulle optrede of dit nou verkeerde maniere is, boelie, terg of moedswilligheid ens.  Die booskap wat ek probeer oordra het is dat hulle haar moet help dat die negatiewititeit nie haar karakter verander of beinvloed nie.

    Die resultaat na die gesprekke hou net altyd vir ‘n kort rukkie en het toe besluit om my strategie daar rondom te verander en vra toe vir hulle hulp om mekaar en Georgia mooi groot te maak.   Hierdeur het ek aan hulle die voorreg geskenk om saam met my Georgia op te voed en daardeur ons almal se interpersoonlike eienskappe te deel en te versterk.  Ek het dadelik geweet ek is op die regte pad om die probleem permanent aan te spreek omdat ek gedurende die gesprek kon sien hoe die liggies aangaan.

    Dit het hulle baie trots gemaak dat ek vir hulle om hulp gevra het.  Dit het nie ons geskinskinders-onderonsies heeltemal geelimineer nie, maar het defnitief die byt daaruit gehaal.

    ‘Jy is die som van almal rondom jou’ so gaan Georgia die som wees van ons gesin en ons optrede.

    Share/Save/Bookmark

    Mark is nog van die ouskool gentlemans!

    Haai, net vir julle wat gedink het ek het toe die land verlaat…ek was vir twee weke met verlof. Nou nie juis met vakansie nie, meesal by die huis (dis nou in J’burg) rondgeluier en tussen-in het ek ook so bietjie gewerk (in Kaapstad).

    So uit die bloute moes ek die week voor verlede week toe vinnig Kaapstad toe….om onderhoude te doen met drie van die aanbieders van M-Net se splinternuwe tydskrifprogram, All Access. (Die drie aanbieders is die sjarmante Mark Bayly, voorheen aanbieder van Survivor: South Africa, en mede-ankeraanbieder van All Access, Tammy-Ann Fortuin en TV-nuweling Ewan Strydom).

    Dit is nou mos maar die ding van keertye…dis net soos vliegtuie, dit wag nie. En die onderhoud met Mark Bayly moes inderhaas gedoen word, want dit is vir Rapport Tydskrif se uitgawe van eerskomende Sondag, 21 Junie (toevallig Vadersdag). Basta dus met die verlof, ek is toe Kaaptoe om die drie onderhoude te doen.

    My pelle dink altyd ek het die lekkerste job in die hele wêreld, deels omdat ek gereeld moet rondrits. Maar glo my, dis nie altyd lekker om in ’n vreemde omgewing te werk nie. Soms voel jy net uit jou diepte uit.

    M-Net was so gaaf om my in die Southern Suns Hotel in Kaapstad (Waterfront) in te boek en vir my ’n motor te huur.

    Maar o wee, toe ek die Donderdagmiddag om 16:00 in Kaapstad land, toe reën dit oumeide en knopkieries. En om met ’n vreemde motor na ’n vreemde plek te ry is regtig nie grappies nie, veral nie as jy sukkel om die hotel waar jy bly, te kry nie.

    En die verkeer…nou ja, gewapen met my GPS (op my selfoon) dog ek toe dis kinderspeletjies om die hotel te kry, maar toe ek by die Waterkant kom, toe staan die verkeer botstil. Ek draai nog so ewe regs in ‘n straat en daar is ek toe in die middel van al die verkeer met aankomende verkeer wat op my afpeil en toet…en ek kan nie beweeg nie.

    ’n Verkeersbeampte het my toe kom verwilder met “Mevrou, mevrou, draai hiernatoe…” sodat ek nie die aankomende verkeer blokkeer nie. My senuwees was skoon gedaan toe ek uiteindelik in die hotel inboek….vandat ek geland het, twee uur later!

    Toe my wekker die volgende oggend lui, dog ek dis in die middel van die nag…halfagt die oggend is dit nog pikdonker in die Kaap!! Ek dog dis in die middel van die nag. Sjoe, daar’ nie eers ’n beduidenis van son nie, kompleet soos winter in Londen!

    Toe begin die onderhoude en ek werk saam vir die eerste keer saam met die fotograaf, Julian Goldswain.

    Julian het al die foto’s van die drie aanbieders in die hotel geneem en die hotel was so behulpsaam om alles vir ons net gerieflik en gemaklik te maak.

    Gelukkig is Mark Bayly, Tammy-Ann en Ewan al drie ’n joernalis se droom, met ander woorde maklik om mee onderhoude te voer en natuurlik heerlik om te fotografeer: want die gode was hulle baie goedgesind toe voorkomste uitgedeel is. (Tammy-Ann en Ewan is gekonfyt as modelle, maar Mark is soms maar bietjie skugter wanneer die kamera kliek.)

    Mark is nog van die ouskool-gentlemans (lees maar gerus my artikel oor hom hierdie Sondag in Rapport Tydskrif), Tammy-Ann is baie vriendelik en onpretensieus, sy voel sommer soos ’n ou vriendin en Ewan, ’n model wat veral in die Ooste al naam gemaak het, is sommer ook ’n honey! (My artikels oor Tammy-Ann en Ewan verskyn later in Rapport Tydskrif).

    Nog iets wat ek toe van Mark wyser geword het tydens ons onlangse trippie in Zambië is dat hy ses maande gelede pa geword het van ’n pragtige blou-oog seuntjie, Cooper….en dit klink of Mark sommer ’n modelpa is….

    Nou ja, later vertel ek julle nog van die wonderlike Navi Redd-konsert wat ek verlede week bygewoon het….

    En onthou om volgende week (25 Junie) om 19:30 na M-Net se nuwe tydskrifprogram All Access te kyk. Wat ek alles gehoor het, gaan dit nogals Wow! wees….

    Share/Save/Bookmark

    Nuuskierige agie

    Hoor hier – ek het ’n uitnodiging gekry na Mpumalanga Fashion Week. Wat volgende! Parys / New York / Milaan / Nelspruit?

    Dis klaarblyklik ’n Suid-Afrikaanse ding. As ons nie een ding ordentlik kan doen nie kom ons doen dit aanmekaar verkeerd. Kwantiteit as kompensasie vir kwaliteit. Soos die son op ’n stadium nie gesak het oor die Britse koninkryk nie is dit altyd iewers in Suid-Afrika modeweek. Op hierdie stadium behoort die organiseerders van al die affêres eintlik die gulde geldelike geleentheid hier raak te sien onder die lot fashionista wat kwalik grond vat tussen die een modeweek wat net-net end kry voor die volgende een begin. Wat van mobiele McBotox stalletjies? Waar die glitterati gevriesde gesigsuitdrukkings opnuut kan laat fossiliseer?

    “Ek wil asseblief upsize met ekstra kollageen in my lippe.”

    Jy kan afslag koepons kry as jy jou liposuction vet aan Madonna se vetkerse-vir-liefdadigheidsfonds skenk ten bate van weeskinders in Malawi.

    Wat is dit met fashionistas wat dink dat daar onmoontlik nie iets belangriker kan gebeur as fashion week nie?

    Ek voel asof ek die blindings moet toetrek en in die gangkas deur ’n strooitjie moet asemhaal sodat niemand mag weet SKOK SKOK GRUWELS!! dat ek die openingsaand van modeweek gemis het om liewer by die huis te bly nie.

    “Maar hoekom?” vra die moderedaktrise van ’n studente tydskrif. Sy het baie klein ogies en ’n vreeslike groot bril.

    Ag…

    “Ryno, waar was jy???” Haar hoed is avant-garde en word twee sitplekke van sy eie geallokeer. Enige een wat agter haar sit moet weet hulle is in die ontwerper se slegte boekies. Persona non grata. Enige een wat oorkant haar sit moet hul beste doen om nie voorste ry etiket te breek nie (om altyd die stugste moontlike gesigsuitdrukking te hê). Ek weet van een moderedaktrise wat nie haar lag kon hou nie en met ’n proes byna ’n synaat losgegiggel het. Persoonlik dink ek net sy het die storie versprei ter illustrasie van haar oorwinning van die dieetafwyking.

    Weg.

    “Wat het jy gemaak???” Sy dra so ’n papperige broek wat lyk soos die resultaat van kruisbestuiwing tussen Aladdin se kostuum en ’n doek vir volwassenes.

    Ek was op ? ego trip.

    Gedorie. Dat mens so baie vrae kan vra! Dis nie net alles flitsende kameras en aandrokke nie jy weet. Partykeer moet fashionistas ook werk. En op die sewende dag rus.

    Dis die dat ek en die Prinses die dagreis na Beige-ville aangepak het. Gewoonlik sal ek so ’n uitnodiging na die buitewyke van die stad besweer deur lank genoeg na Sandton City shopping mall te gaan tot die gedagte oorwaai maar ek moes my nuwe Gucci knock off sneakers inbreek. Al is dit dan op die long road to Beige-ville. Ek het nie geweet dit gaan drie ure retoer lank wees nie. Dis so ’n grys plek dat as dit nie padtekens gehad het nie sou jy dwarsdeur dit kon ry sonder om agter te kom hier woon mense met spoeltoilette. So grys was ek in my gemoed dat al wat ek kon uitkry by ons aankoms was “Dorothy, we’re not in Kansas anymore.”

    (Maar ek vertel julle later waarom ons Beige-ville toe is.)

    Share/Save/Bookmark

    Om jou kind te vergoed of nie - Amy Kleinhans

    Jou kind sal net elke taak obtimatiseer indien dit direk in lyn is met sy/haar hoogste waarde.  Die beste motivering kom van binne en nie van buite nie.  Indien jy vir jou kind kan wys hoe om self die koppeling tussen die huidige taak en hulle persoonlike hoogste waarde/doelwit te maak, is die oorlog gewen.
    Ek het onlangs ‘n insident gehad met my seun, Thomas, 9.  Ons is besig om sy leestegniek te verbeter by die instituut, Wise Eyes waar hy weeklikse sessies moet bywoon om hom te help.  As deel van die program moet hy elke dag ook leesoefeninge doen by die huis.

    Hier is ‘n voorbeeld van wat in my lewe al gebeur het:  Een middag na ‘n sessie het hy verskriklik begin huil en gese dat hy dit haat om hierdie sessies by te woon en die huisoefeninge te doen.  Hy het dit duidelik gemaak dat hy nie omgee of hy skool druip omdat hy nie kan lees nie ens.  Ek het as terugvoer ‘n paar vrae aan hom gerig wat hom die lig laat sien het.

    Amy: Thomas, wil jy eendag ‘n helikopter vlieg?
    Thomas: Ja, Mammie
    Amy: Weet jy, jy het matriek en ‘n kwalifikasie nodig om ‘n helikopter te vlieg?
    Thomas: Ja, Mammie
    Amy: Weet jy, jy het nodig om te kan lees om matriek deur te kom?
    Thomas: Ja, Mammie
    Amy: Wil jy eendag onafhanklik wees, jou eie geld verdien sodat ek en jou pa nie meer vir jou hoef te se wat om te doen nie?
    Thomas: Ja, Mammie, nou verstaan ek

    Na die kort gesprek doen hy nou sonder ‘n stryd elke dag sy oefeninge en verstaand hoe dit hom gaan baat om sy groter droom
    te bereik.

    ‘n Interessante ekstrak uit ‘n praatjie van Alfie Kohn die ander dag gelees.

    “Extracts form an article written by Alfie Kohn
    Studies find Reward Often No Motivator/Creativity and intrinsic interest diminish if task is done for gain.
    In one study, girls in the fifth and sixth grades tutored younger children much less effectively if they were promised free movie tickets for teaching well. The study, by James Gabarino, now president of Chicago’s Erikson Institute for Advanced Studies in Child Development, showed that tutors working for the reward took longer to communicate ideas, got frustrated more easily, and did a poorer job in the end than those who were not rewarded.  Rewards encourage people to focus narrowly on a task, to do it as quickly as possible and to take few risks. “If they feel that ‘this is something I have to get through to get the prize,’ they’re going to be less creative,” Amabile said.  Second, people come to see themselves as being controlled by the reward. They feel less autonomous, and this may
    interfere with performance. “To the extent one’s experience of being self?determined is limited,” said Richard Ryan, associate psychology professor at the University of Rochester, “one’s creativity will be reduced as well.”  Finally, extrinsic rewards can erode intrinsic interest. People who see themselves as working for money, approval or competitive success find their tasks less pleasurable, and therefore do not do them as well.”

    Share/Save/Bookmark