Mark is nog van die ouskool gentlemans!
Haai, net vir julle wat gedink het ek het toe die land verlaat…ek was vir twee weke met verlof. Nou nie juis met vakansie nie, meesal by die huis (dis nou in J’burg) rondgeluier en tussen-in het ek ook so bietjie gewerk (in Kaapstad).
So uit die bloute moes ek die week voor verlede week toe vinnig Kaapstad toe….om onderhoude te doen met drie van die aanbieders van M-Net se splinternuwe tydskrifprogram, All Access. (Die drie aanbieders is die sjarmante Mark Bayly, voorheen aanbieder van Survivor: South Africa, en mede-ankeraanbieder van All Access, Tammy-Ann Fortuin en TV-nuweling Ewan Strydom).
Dit is nou mos maar die ding van keertye…dis net soos vliegtuie, dit wag nie. En die onderhoud met Mark Bayly moes inderhaas gedoen word, want dit is vir Rapport Tydskrif se uitgawe van eerskomende Sondag, 21 Junie (toevallig Vadersdag). Basta dus met die verlof, ek is toe Kaaptoe om die drie onderhoude te doen.
My pelle dink altyd ek het die lekkerste job in die hele wêreld, deels omdat ek gereeld moet rondrits. Maar glo my, dis nie altyd lekker om in ’n vreemde omgewing te werk nie. Soms voel jy net uit jou diepte uit.
M-Net was so gaaf om my in die Southern Suns Hotel in Kaapstad (Waterfront) in te boek en vir my ’n motor te huur.
Maar o wee, toe ek die Donderdagmiddag om 16:00 in Kaapstad land, toe reën dit oumeide en knopkieries. En om met ’n vreemde motor na ’n vreemde plek te ry is regtig nie grappies nie, veral nie as jy sukkel om die hotel waar jy bly, te kry nie.
En die verkeer…nou ja, gewapen met my GPS (op my selfoon) dog ek toe dis kinderspeletjies om die hotel te kry, maar toe ek by die Waterkant kom, toe staan die verkeer botstil. Ek draai nog so ewe regs in ‘n straat en daar is ek toe in die middel van al die verkeer met aankomende verkeer wat op my afpeil en toet…en ek kan nie beweeg nie.
’n Verkeersbeampte het my toe kom verwilder met “Mevrou, mevrou, draai hiernatoe…” sodat ek nie die aankomende verkeer blokkeer nie. My senuwees was skoon gedaan toe ek uiteindelik in die hotel inboek….vandat ek geland het, twee uur later!
Toe my wekker die volgende oggend lui, dog ek dis in die middel van die nag…halfagt die oggend is dit nog pikdonker in die Kaap!! Ek dog dis in die middel van die nag. Sjoe, daar’ nie eers ’n beduidenis van son nie, kompleet soos winter in Londen!
Toe begin die onderhoude en ek werk saam vir die eerste keer saam met die fotograaf, Julian Goldswain.
Julian het al die foto’s van die drie aanbieders in die hotel geneem en die hotel was so behulpsaam om alles vir ons net gerieflik en gemaklik te maak.
Gelukkig is Mark Bayly, Tammy-Ann en Ewan al drie ’n joernalis se droom, met ander woorde maklik om mee onderhoude te voer en natuurlik heerlik om te fotografeer: want die gode was hulle baie goedgesind toe voorkomste uitgedeel is. (Tammy-Ann en Ewan is gekonfyt as modelle, maar Mark is soms maar bietjie skugter wanneer die kamera kliek.)
Mark is nog van die ouskool-gentlemans (lees maar gerus my artikel oor hom hierdie Sondag in Rapport Tydskrif), Tammy-Ann is baie vriendelik en onpretensieus, sy voel sommer soos ’n ou vriendin en Ewan, ’n model wat veral in die Ooste al naam gemaak het, is sommer ook ’n honey! (My artikels oor Tammy-Ann en Ewan verskyn later in Rapport Tydskrif).
Nog iets wat ek toe van Mark wyser geword het tydens ons onlangse trippie in Zambië is dat hy ses maande gelede pa geword het van ’n pragtige blou-oog seuntjie, Cooper….en dit klink of Mark sommer ’n modelpa is….
Nou ja, later vertel ek julle nog van die wonderlike Navi Redd-konsert wat ek verlede week bygewoon het….
En onthou om volgende week (25 Junie) om 19:30 na M-Net se nuwe tydskrifprogram All Access te kyk. Wat ek alles gehoor het, gaan dit nogals Wow! wees….
Posts