My loopplank debuut

    As ek begin by die begin dan sal julle dalk meer empatie hê.

    Aan die begin van die jaar pas ek soos gewoonlik ’n onmoontlike hoeveelheid goed in ’n reeds tjok-en-blok skedule sodat ek my wenkbroue kan laat herstileer by die wenkbrou ghoeroe vir die sterre. Haar dagboek is ’n jaar vooruit bespreek maar sy neem my onder hande oor etenstyd want ons ken albei iemand met oorredingsvermoë. In die kantoor langsaan is Edith Venter se estetiese dokter (dit is wat hulle deesdae genoem word in Sandton waar almal een het op speed dial) en hy vertel my bessies is die antwoord. Terwyl hy sit en pik uit ’n bakkie vol daarvan. En as dit waar is dat hy ’n oom van 50 is en nie ’n lat van 32 soos hy lyk nie, dan steek daar iets daarin. So Ryno verspeel nie tyd nie en neem sy nuwe blonde wenkbroue na die gesondheidsemporium om ’n peperduur bottel Goji bessiesap te koop. Dit klink wonderlik eksoties en met visioene van ’n gesig so stralend soos ’n lui mens wat die Lotto gewen het is ek met my twee-liter onder die arm huis toe. Slegter as tamatiesap en ’n kleur identies aan Plascon Burnt Sienna high gloss verf sluk ek maar terwyl die visioen vervaag soos wat my gesigspiere onwillekeurig vertrek. Ek wil immers straal in die voorste ry by die eerste aand van mode week.

    Na die onnoembare prys van die Goji bessiesap en my nuwe wenkbroue is daar geen sprake van my tipiese “vergeet die credit crunch en gee my ’n kredietkaartorgie!” twee ure voor die eerste klerehanger haar voete op die catwalk sit nie. So ek is in ’n sobere pakkie wat almal al gesien het buiten fashion week se gasvrou, die onder-minister van kuns en kultuur.

    Dalk om die wrang smaak van die goji bessiesap te beteuel of dalk om my garderobe insecurity te laaf – het ek’n rede gevind om die gratis sjampanje tafel met vergunning van die PR agentskap wat my genooi het te tref. “Hou my terug,” sê ek vir my vriendin Christine - ’n kliëntediens konsultant van L’Oreal - maar sy hou my glas vas.

    Ons vind ons plekke (of iemand s’n) in die media area. Vreemd genoeg is die loopplank in ’n U-vorm en die BBP’s sit in die vierkant omring deur die loopplank. Die vertoning is skaars in sy derde model in toe ek begin rondskuifel op my stoel. Dalk is dit al die stoom wat oor die verhoog geblaas word vir dramatiese effek of die feit dat daar tromdansers is wat soos sangoma’s lyk maar ek voel dit in my derms dat iets nie reg is nie. Ek kan my sit nie kry nie, die geskenksakkie kan my nie opbeur nie en toe daal daar op my ’n besef neer so gruwelik ek wil soos ’n onverantwoordelike ouer in die Sondagkoerant sê “dis die duiwel se werk”.

    Die gedagte wil by my posvat dat ek iets aan iemand moes doen om die vernedering te beleef maar daar is nou dringender dinge.

    Die natuur roep. Nee, sy skree!

    Maar die vertoning is ’n goeie 20 minute ver van klaarkry en nie ’n wonderwerk sal my nou daardeur kry nie. Ek wonder of ek genoeg geskenkpakkies onder die stoele naby my kan gaps om my te help kamoefleer as ek sou glips. Dis iets wat net met ? peuter moet gebeur!!! Vir verwyte is daar nie kans nie, ek dink ek gaan bars. My enigste ander prioriteit is om uit die media sone te kom. Ek sou nooit kon dink dat ek enige iets sou gee om in die verste donkerste hoek in die heel agterste ry te sit nie, die mode ekwivalent van varkgriep. Die volle nagmerrie tref my nou eers. Die enigste pad uit is om die loopplank te kruis. En die TV is vanaand hier. Die vertoning word lewendig uitgesaai op FTV en op groot skerms weerskante van die verhoog word die aksie en my situasie 20 maal vergroot.

    “Hou my terug,” sê ek vir my vriendin Christine, terwyl my oë traan. “Ek moet gaan en ek moet nóú gaan.”

    Sy kyk tweekeer na my voor sy snap.

    “Nou?! Knyp, verdeksels!” Christine tuur verbete in die teenoorgestelde rigting met die buiksprekersaanleg wat net ’n skinder-liefhebbende fashionista in voorste linies kan hê. Sis sy, “as jy dit doen ken ek jou nie!”

    Toe weet ek dis nou of nooit. My knyp is uit.

    Dit word ’n out of body ervaring:

    In stadige aksie sien ek myself, windmeul bene, rooi kuif en ’n geskenkpakkie wat waai (jy los nooit maar ooit jou geskenkpakkie agter nie) weg spring, oor die loopplank, voor ’n model in. Ek sien dit twee maal. Op al twee skerms. 1000 toeskouers sien dit ook.

    5 minute daarna sug ek die diepste sug van verligting ooit, skaars getemper deurdie hoop dat die modefoendi’s dink ek het die vertoning onuithoudbaar pynlik ervaar. Hulle sou nie half verkeerd wees nie. In daardie klompie minute het ek ’n dekade verouder.

    Basta met die bessies.

    NS. Kom gou weer terug - ek hou julle op hoogte van al die nuwe ontwerpe op die loopplank en die herontwerpte gesigte in die voorste ry by Africa Fashion Week.

    Share/Save/Bookmark

    Lewer Kommentaar