Nuuskierige agie

    Hoor hier – ek het ’n uitnodiging gekry na Mpumalanga Fashion Week. Wat volgende! Parys / New York / Milaan / Nelspruit?

    Dis klaarblyklik ’n Suid-Afrikaanse ding. As ons nie een ding ordentlik kan doen nie kom ons doen dit aanmekaar verkeerd. Kwantiteit as kompensasie vir kwaliteit. Soos die son op ’n stadium nie gesak het oor die Britse koninkryk nie is dit altyd iewers in Suid-Afrika modeweek. Op hierdie stadium behoort die organiseerders van al die affêres eintlik die gulde geldelike geleentheid hier raak te sien onder die lot fashionista wat kwalik grond vat tussen die een modeweek wat net-net end kry voor die volgende een begin. Wat van mobiele McBotox stalletjies? Waar die glitterati gevriesde gesigsuitdrukkings opnuut kan laat fossiliseer?

    “Ek wil asseblief upsize met ekstra kollageen in my lippe.”

    Jy kan afslag koepons kry as jy jou liposuction vet aan Madonna se vetkerse-vir-liefdadigheidsfonds skenk ten bate van weeskinders in Malawi.

    Wat is dit met fashionistas wat dink dat daar onmoontlik nie iets belangriker kan gebeur as fashion week nie?

    Ek voel asof ek die blindings moet toetrek en in die gangkas deur ’n strooitjie moet asemhaal sodat niemand mag weet SKOK SKOK GRUWELS!! dat ek die openingsaand van modeweek gemis het om liewer by die huis te bly nie.

    “Maar hoekom?” vra die moderedaktrise van ’n studente tydskrif. Sy het baie klein ogies en ’n vreeslike groot bril.

    Ag…

    “Ryno, waar was jy???” Haar hoed is avant-garde en word twee sitplekke van sy eie geallokeer. Enige een wat agter haar sit moet weet hulle is in die ontwerper se slegte boekies. Persona non grata. Enige een wat oorkant haar sit moet hul beste doen om nie voorste ry etiket te breek nie (om altyd die stugste moontlike gesigsuitdrukking te hê). Ek weet van een moderedaktrise wat nie haar lag kon hou nie en met ’n proes byna ’n synaat losgegiggel het. Persoonlik dink ek net sy het die storie versprei ter illustrasie van haar oorwinning van die dieetafwyking.

    Weg.

    “Wat het jy gemaak???” Sy dra so ’n papperige broek wat lyk soos die resultaat van kruisbestuiwing tussen Aladdin se kostuum en ’n doek vir volwassenes.

    Ek was op ? ego trip.

    Gedorie. Dat mens so baie vrae kan vra! Dis nie net alles flitsende kameras en aandrokke nie jy weet. Partykeer moet fashionistas ook werk. En op die sewende dag rus.

    Dis die dat ek en die Prinses die dagreis na Beige-ville aangepak het. Gewoonlik sal ek so ’n uitnodiging na die buitewyke van die stad besweer deur lank genoeg na Sandton City shopping mall te gaan tot die gedagte oorwaai maar ek moes my nuwe Gucci knock off sneakers inbreek. Al is dit dan op die long road to Beige-ville. Ek het nie geweet dit gaan drie ure retoer lank wees nie. Dis so ’n grys plek dat as dit nie padtekens gehad het nie sou jy dwarsdeur dit kon ry sonder om agter te kom hier woon mense met spoeltoilette. So grys was ek in my gemoed dat al wat ek kon uitkry by ons aankoms was “Dorothy, we’re not in Kansas anymore.”

    (Maar ek vertel julle later waarom ons Beige-ville toe is.)

    Share/Save/Bookmark

    Lewer Kommentaar