Partytjie etiket - Lindie Strydom

Ek wag vir Emsie Schoeman se boek: wat mag en wat mag nie, want Kinderpartytjies is soos ‘n sport wat se reëls almal ken, maar my nog nie geleer het nie! Die Mammas nooi wyd, die temas is indrukwekkend om die minste te sê en die uitnodigings kom nou al met vrywarings-vorms!
Ek word ge-sms, ge-epos en gebel by die huis as ek nie betyds r.s.v.p. nie – dis erger as die mafia as hulle eers op jou spoor is! Verder sien ek laas Saterdag by een van die okkasies die vreemdste verskynsel: Mammas laai hulle kinders af en ry dan weer om te gaan shopping doen of toonnaels te verf saam met hulle vriendinne! En dit in die stad! Nou moet ek bysê, ek wil ook nie by elke partytjie small-talk vir 3 ure met wild vreemde mense tot my kinders klaar ge-springkasteel en hanswors het nie. Maar aflaai en ry? My 3 klein bloedjies?
Ek is beslis nog nie fiks vir die affêre nie en nooi dus my een vriendin met haar 4 kinders en dan voel dit in elk geval soos ‘n partytjie. Of ek nooi my en Sakkie se vriende en sê hulle kan hulle kinders saam bring. Die einste kinders wat pragtige vriende en selfs lewensmaats vir my kinders sal maak…
Laat mens maar die goed beheer so lank jy kan, nè. Of tot die etiket boek my anders oortuig!
Posts