X-files
Moenie paniekeer nie! Ek is terug uit die nimmereindigheid van die kuberruimte.
(My verskonings is…)
1. Vir ’n rede wat steeds onverklaarbaar is verskyn julle kommentare nie by my inskrywings nie. My paranoïde teorieë vier hoogty maar ons hoop dis net ’n kortstondige tegniese obstruksie en ons hou aan om die saak aandag te gee.
2. Dollar het na ’n skermutseling met die Noi Si gesin (hulle het haar daarvan beskuldig dat sy die Bassett-hond na hul kind Gracie vernoem het om hulle te treiter!?!) ons Walletjies-rige huisie opgegee en ek het getrek na ’n kompleks nader aan Finesse Torings. Die kompleks was verlede week op Top Billing en selfs na my halfdosyn desperate Facebook boodskappe vir hul vervaardiger en twee-daaglikse stapsessies met Marseille die Poedel in haar nuwe metallic onderbaadjie het ons nie die insetsel vir ’n millisekonde gehaal nie.
3. Die ander rede dat ek nie geblog kry, is dat ek kwalik ’n sin klaar kan tik met my een vlytige wysvinger want die Prinses van Pretoria se voorliefde vir techno-gadgets gee haar die jollie jeuk. Sy jil sonder end omdat ek Saterdag met Blackberry Storm opgradeer het. Die prinses verkneukel haar in die selfoon se UFO-agtige liggies en dat dit kan alles doen (behalwe om die poedel vir ’n wandeling te neem). PvP moes nou belowe om sagter uiting aan haar entoesiasme te gee anders vat ek my speelding terug.
Nou dat ons praat van ontneem wees van klein gelukkies.
Laas week bel my suster uit die Kaap van Goeie Hoop. Sy vertel my ek het die sjarme van ’n begrafnisondernemer. Blykbaar my Addams Family intonasie. Dit kan wees dat ek ’n voorgevoel gehad het oor wat sou volg.
Sy soek skoene.
[Voeg hier in gedetailleerde beskrywing van skoen in ’n boetiek in Stellenbosch gesien het.]
“Nou hoekom het jy dit nie gekoop nie?”
[Verkeerde grootte. En die winkelassistent wat soos E.T. lyk maak haar bang.]
“Whatever.”
[Kan ek met my kontakte reël dat sy die skoene in haar grootte kry. Die skoen het die perfekte lae hak.]
“?!
?!!
?!!!”
Dit kom nou van iemand wat vir alle praktiese doeleindes haar pad uit die moederskoot gebeur het in ’n paar 5 duim spykerhakke.
[Hierdie kant toe en daardie kant toe maar sy kan nie langer wees as die belastingekspert met wie sy deesdae uitgaan nie.]
Ek sit die foon neer vir ’n wyle en sprits Beautiful Earth Aromatherapy se Sanctuary Spritzer om my lessenaar. Dit bevat malvalekker ekstrak en ander terapeutiese dinge wat ons hoop ’n atmosfeer van kalmte en innerlike vrede skep so ek gaan deur ? bottel ’n week – altyd die week voor spertyd. Eliza Do Little, die gesondheidsredakteur, onderbreek haar getik-tik op die sleutelbord met ’n gesteurde trek op die gesig. Sy is immers besig met ’n fassinerende in-diepte ondersoek na die gesondheidsvoordele van suurstof kabinette. En ek dag net Michael Jackson slaap in sulke goed.
Hoe kan enige vrou haar skoene aanpas vir ’n man? Plat skoene! Nicole Kidman het probeer en lyk sy nie vandag haar beste sonder die bankspringende lid van die Kerk van Scientologie-ex van haar nie?
Bygones!
Hierdie week is ’n eerste op die modekalender. Ons kontinent kry ’n modeweek waar ontwerpers van regoor Afrika hul versamelings kom wys in die goudstad. Ek moet egter by julle bieg oor ’n stylemma wat ek gehad het by die laaste modeweek. Op daardie stadium het ek myself belowe dat ek die waarheid nie met ’n lewende siel ooit sal deel nie. Maar die terapeut van wie ek julle vertel het? Sy verklaar my blog as ’n katarsis ervaring. Vir my wat Ryno is. Nie vir haar as kopkrimper nie. Om te bieg is om bevry te word. Aldus haar. So ek gaan my moed bymekaarskraap en my sonde openbaar.
Maar vir nou moet ek terug teleport na my lessenaar toe.
Xoxo vanaf Planeet Fabulous!
Posts