Crackpots!
Julle ons is nou soveel bloggers ek moet myself identifiseer as “Hi! Ryno hier!”
By einste funksie waaroor ek voorverlede week berig het, het ek vanuit die glaskasteel waarin die partytjie gehou is, die goue aandlig in ’n oogwink sien verdwyn. Mens kon nie kwalik geneem word om eers te glo dis ’n sonsverduistering of die apokalips nie. Dit was erger.
Die sluwe Chardonnay van Wyk het die trappe bestyg.
Groter as die lewe self, gedek in ’n grootse jas met imposante kraag, het Chardonnay ’n glimlag wat te alle tye oor haar gul gesig gesper is sodat sy haar slagtande ontbloot: Chardonnay is uitgenip vir die PR wêreld. En net soos onkruid is sy altyd terug nes jy dink sy is van die gras af. Tog is sy een van daardie kreature wat onophoudelik hunker na haar fantasmagoriese verwagting van die glansbedryf. Mens moet die TV daarvoor blameer dat al hierdie blinkoog poppies glo dat joernaliste word links en regs met geld gegooi om te partytjie saam met celebs. In elk geval, dis te betwyfel of Chardonnay haar eie uitnodiging gehad het – publisiteitsagentskappe is nie in die gewoonte om kompetisie op komplimentere ontwerpershappies te trakteer nie. Chardonnay was seker die gas van snippie-met-die-spits-gesig.
“Ek hoor-” Die imposante kraag dobber op en af.
“Mens moet nie jou ore uitleen nie, Chardonnay” antwoord ek die kraag.
Die kraag wikkel weer en maak ’n meewarige aanmerking oor joernaliste se salarisse maar my aandag het my onwillekeurig geneem na nog ’n stewige meisie met ’n groot mond. Ek het pas Yolanda Barnard se Die Ponies Galop – Seks en skandale van die Sterre onthul gelees.
Jy kry skaam. Jy wil eintlik die boek wegsteek. Jy is soos Whitney Houston oor haar crack-pyp.
Dis ’n sappige ou boekie! Die soort wat maak dat jy drie agtereenvolgende aande takeaways kry vir aandete en jy vergeet om jou gesinslede te groet as jy by die huis kom want jy moet nog gaan lees!
Noem maar op, sy skinder oor hulle:
Steve en Natasha,
Steve en Janine,
Steve en ’n stewige persentasie van die plattelandse vroubevolking maak natuurlik ’n groot deel van die boek uit.
Ek het verwag dat Yollie drie flou skinderstories aanmekaar gaan string en uitbou tot 180 blaaie met haar persoonlike stryd met vetsug en ’n voorliefde vir fles vat maar die boek is tjok-en-blok vol skok! Jy sal hoendervleis kry! En nee ek gaan NIE vir jou enigeiets vertel NIE want ek sou jou leesgenot bederf! (En die stories is net te gruwelik om oor te vertel in goeie geselskap… so nou lees almal my kopie voos.)
Dat Yolanda Barnard dit in die eerste plek gepubliseer gekry het is ’n wonder. Die boek is in der waarheid ’n oomblik in die Afrikaanse uitgewersbedryf. Ek was onder die indruk dat ons Afrikaners te vroom is om sporthelde en musieksterre wat verbete aanbid en beskerm word, se gaterige onderbroeke aan die groot klok te hang?
Die ergste is dat al die sterre wat ek oor die boek uitvra, bevestig dat Yolanda nog aan die oppervlak krap. Blykbaar is daar veel meer en dink hulle die boek is koue pampoen…. Maar EK en JY het dit nie geweet nie! Het ons ’n reg om te weet? Die sterre se brood word gebotter met publisiteit. As hulle jok oor wie hul rêrig is moet hul nie gaan snotter op Coenie de Villiers se groen volstruisleerbank as die mense wil sien wanneer hulle onderrokke uithang nie. Of praat ek tjol?
Posts