GEE JOUSELF OOR…..AAN SJOKOLADE!

Karin Hart en ekke in die Lindt-kombuis
Ek was al in kaasfabrieke, wynkelders, sjampanje-kelders (Frankryk), sampioen-kelders (Frankryk), whiskey-kelders (Skotland) en ’n likeur-kelder (Griekeland).
Maar nog nooit in ’n sjokolade-fabriek of sjokolade-kombuis nie. (Hoewel ek vyf jaar langs’n sjokolade-fabriek in Mobeni, Durban gewerk het toe ek werksaam by Rooi Rose was).
BBC Lifestyle, ofte wel hul skakelmaatskappy hier in Suid-Afrika, Total Exposure, het ’n paar lede van die media so twee weke gelede Kaapstad toe gevlieg vir die bekendstelling van ’n nuwe reeks Willie’s Wonky Chocolate Factory.
En was dit nou ’n treat! Eerstens het ons in die ultra-moderne hotel Fire and Ice in Tuine, Kaapstad gewoon. ’n Ongewone hotel met ongewone dekor - van Burlesque in die sitkamer, tot hiper-modern in die slaapkamers. En nog nooit het ek so ’n mooi stort (als in die tema van vuur en ys met mosaïekteëls) gesien nie.
Die eintlike groot bederf was die volgende oggend, toe Total Exposure ons na die Lindt-kombuis in Kaapstad geneem het. Hier het ons eers ’n voorskou van die eerste episode van Willie’s Wonky Chocolate Factory gesien (so fassinerend - of jy nou van sjokolade hou of nie!) en daarna sommer baie meer van al die verskillende sjokolades en hoe sjokolade gemaak word in die Lindt-kombuis geleer.
Meesterkok Alfred Henry het ons touwys gemaak oor sjokolade en ek moet byvoeg baie van die vroulike joernaliste het meer oor die sjarmante sjef as die sjokolade begin kwyl! (Hy het ons wel gou laat verstaan dat hy gelukkig getroud is! Eina!)
Nou ja, ons het die oggend onder meer geleer hoe om ’n manjifieke sjokolade soufflé, truffles en nougat te maak. En ons het so weggelê aan al die sjokolade en -versnaperinge dat ek daardie nag behoorlik maagpyn gehad het!
Dit was ’n baie leersame oggend en die eerste episode van Willie Harcourt-Cooze se nuwe BBC reeks het my gemotiveer om sommer baie meer eksperimenteel met sjokolade te wees (en ook nie skuldig te voel as ek sjokolade eet nie!).
Willie’s Wonky Chocolate Factory (L.W. dis die reeks en nie die fliek van Johnny Depp nie) begin Donderdag 23 Julie om 18:30 op BBC Lifestyle Of jy nou van sjokolade hou of nie, die passie van Willie Harcourt-Cooze en sy ondervinding op sy kakao-plaas in Venezuela en hoe .sy droom, ’n sjokolade-fabriek in Devon, daarna bewaarheid is, is baie inspirerend.
As jy die reeks gesien het, kyk jy beslis met ander oë na sjokolade…..en ja, dit proe ook sommer dan lekkerder omdat jy dit meer waardeer!
Posts