JAN BLOHM IS ‘N DORING!
Soms vorm ’n mens ’n opinie van iemand sonder dat jy die persoon nog ooit ontmoet het, of leer ken het.
Ek dink ons almal maak ons daaraan skuldig. En baie mense is geneig om bekende persoonlikhede op hul baadjie te takseer. Ek hoor dit gereeld: “Ag ek hou nie van so en so nie, want hy is dan so wintie!” of “Ek hou nie van daardie sangeres nie, want dit lyk of sy baie arrogant is/common is/of luidrugtig is.”
Nou ja, ek moet bieg, ek maak my self ook soms daaraan skuldig. Ek dink die probleem is, dat ons almal ons ore uitleen. As iemand vir jou sê so-en-so is só, dan glo jy dit. Sonder om eers die betrokke persoon behoorlik self te leer ken.
So vorm ons ’n opinie van ’n persoon en is met ander woorde bevooroordeeld! Ek het nou al my les so baie geleer en in my beroep maak ek eers ’n punt daarvan om die persoon eers te leer ken voordat ek ’n uitspraak maak.
As iemand in ’n gesprek of aan ’n tafel dus vir my sê: “Ek hoor so-en-so is wintie of grootbek of watookal, dan sal ek antwoord: “Ek weet nie, want ek het hom of haar nog nie leer ken nie, of ek ken hulle nie.”
Maar nou ja, so van die os op die jas, doen ek toe my eerste onderhoud met Jan Blohm so twee weke gelede. En ja, ek het ook al gehoor mense het in die verlede gesê Jan se “skielike roem het na sy kop gegaan” of “hy’s wintie.” Nou besef ek, dis niks anders as jaloesie nie.
Was ek nou aangenaam verras met die rocker . Jan is nie deur ’n maklike tyd verlede jaar nie en het so stil-stil uit die kollig verdwyn (Lees gerus hierdie Sondag my artikel oor hom in Rapport Tydskrif). Hy het sy middelafhanklikheid by die horings gevat en nek omgedraai!
Maar benewens sy manhaftigheid, deursettingsvermoë en wilskrag wil ek nog ’n lansie vir hierdie talentvolle woordkunstenaar breek: hy gun dat die son oor almal skyn.
Daar’s niks van snedige opmerkings oor kommersiële kunstenaars nie, hy bejeën ander kunstenaars wat goed verkoop, of beter as hy verkoop, net met respek. En by Jan is daar niks naywer of jaloesie nie, ook nie verwyte nie met ander woorde: live and let live, is sy leuse. Sy lewensfilosofie is in der waarheid: The past does not equal the future.
Ek het Jan baie interessant, ingelig, beskeie en aangenaam gevind. Hy is beslis in ’n ander klas wat sy emosievolle lirieke en musiek betref. As jy na sy musiek luister, dan raak dit jou en dit kerf tot op die been. (Luister gerus na sy nuutste album 7 Jaar!). Ek kan nou nie wag om na sy live vertonings te gaan kyk nie.
My broer Pedro (50plus), wat in Londen woon, is seker Jan se grootste fan. Ek het nog altyd gewonder hoekom, maar nou weet ek.
Posts