(Non)celebrity pa’s en hulle kinders
So min tyd en so baie om te deel!
Fashion Week het gekom en gegaan en ek kan jou vertel oor… die prettige Asley Haydn wat ek op die balkon van die Santon Convention Centre ontmoet het – iemand wat jy beslis by jou braai wil hê. Klere wat jou laat wens jy was Kylie Minogue sodat dit heeltemal aanvaarbaar sou wees om ’n leotard gemaak van klein spieëltjies oor middagete te dra. Of die vrou wie se hare in ? reuse pynappel-vorm gestileer was langs my sodat ek later vooroor op my stoel gebuk het en grondlangs na die shows moes kyk.
Eergister aand was ek plus gade by die bekendstelling van die Brasiliaanse mode ontwerper Patricia Nascimento. Onmodieus vroeg. Ek het nie die uitnodiging fyn gelees nie so die Prinses van Pretoria wou ’n hongerfloute vang teen die tyd wat die standaard salmhappies en mini vegetariese pizzas uitgepak is. Liezel van der Westhuizen, vanjaar se Idols aanbieder was die compère. Uitgevat in ’n woudgroen skepping wat so gelyk het asof sy daarin gegiet is. Die eintlike idool, SMS Jason, het senuagtig gelyk maar ek dink dit was dalk omdat hy te vinnig afgekyk het na sy eie uitrusting wat soveel strepe gehad het dat hy heelaand vir my uit fokus uit gelyk het. Die Prinses, wat graag haar ongeërgdheid oor celeb gedoentes veins, was toe vreeslik opgemaak met Neels van Jaarsveld – die “met eish” akteur. Hy en Reynardt Hugo, Dr Tertius van Binnelanders, is verseker van die nice’ste mense wat ek in ’n lang tyd ontmoet het. Maar ek wou nie lank bly nie want Ryno se vierbeen kinders was alleen by die huis.
Ja, kindersssssssss. Meervoud.
Want Marseilles die poedel het ? pikswart boetie gekry. Anders as Madonna se kinders is hy nie aangekoop in Malawi nie so in plaas van Mercy of Lovemore het ons hom Xavier gedoop. Hy is ? vrolike karnallie wat almal wil lek en hy maak nog sy toilet onder die trap maar hy is ’n bondeltjie onvoorwaardelike liefde.
Toe ek die TV aanskakel het ek op CNN die 12-jarige Paris Katherine Jackson op haar pa Michael Jackson se herinneringsdiens sien snik: “My Pappa was die beste Pa ooit.” Onvoorwaardelike liefde. As jy gelukkig is, het jy dit. Want dit sien alle foute oor.
Posts