SOOS ‘N WESKUSBLOM

    .
    Ek ken vir Anna-Mart van der Merwe al langer as twintig jaar. Of altans, ek dink dit moet al twintig jaar wees sedert sy in Jan Scholtz se dramareeks Sonkring gespeel het?
    Ek onthou nog daardie eerste onderhoud met haar en Phillip Moolman (haar eks) in hul huis in Yeoville, so goed soos gister. Hulle het nog nie lank in Johannesburg gewoon nie en was besig om wortel te skiet. Hul huis het niks oordadigs gehad nie, net die basiese en praktiese.
    Anna-Mart was vir my toe al soos ’n Weskusblom. Aards, vroulik en sensueel. Niks baldadig of uitspattig nie. Die afgelope twintig jaar het daar baie water in die see gevloei en Anna-Mart het sedertdien een van die gesogste aktrises in ons land geword. In rolprente het sy byvoorbeeld ’n onuitwisbare indruk as Klara in Katinka Heyns se pragtige rolprent Klara Viljee gemaak, op die verhoog het sy in tientalle produksies waaronder Uit die Bloute uitgeblink en op TV het sy sepiekykers gelukkig gehou met haar vertolking van die kunssinnige Christel in 7de Laan.
    Wat maak Anna-Mart so bemind onder kykers en so gesog onder vervaardigers en regisseurs? het ek al telkemale gewonder. Dit was nie moeilik om die antwoord te kry nie. Benewens die feit dat sy al meer as een keer as een van die mooiste vroue in ons land uitgesonder is, is dit haar onpretensie en natuurlike “aura” wat haar so gewild by kykers maak. Want ’n kamera lieg nooit nie!
    En ek kan sommer raai hoekom sy so gewild by regisseurs en vervaardigers en haar kollegas in die bedryf is: dit is nie net omdat sy so fotogenies en talentvol is nie, maar ook omdat sy so ongelooflik professioneel is. Voordat sy voor die TV-kamera gaan staan of voordat sy op die verhoog klim, ken sy haar werk. Sy is altyd stiptelik, het nooit ’n “af” dag nie en is net ’n groot plesier om mee saam te werk, sê diegene wat al die voorreg gehad het om saam met Anna-Mart te werk.
    Dié Weskusblom (sy het in Vredendal grootgeword) het goed verplant na Johannesburg, maar sy bieg onomwonde: “Ek sal baie graag weer eendag in die Kaap wil woon.”
    Sy is binnekort ’n bonus in M-Net se gewilde hospitaalsepie Binnelanders. Anna-Mart speel ’n interessante rol: dié van dr. Leonora Hanekom, ’n spesialis in Endokrinologie. Anna-Mart beskryf Leonora se koms na Binneland: “soos ’n kat wat tussen die duiwe losgelaat word.” Hmmm……ons kan maar met wag om te kyk wat gaan gebeur en watter dokter se hart sy dalk gaan steel?
    En vir al die Binnelanders-junkies: Dr. Leonora Hanekom is van Woensdagaand 29 Julie te sien in Binnelanders.
    Lees ook my onderhoud met Anna-Mart oor haar nuwe rol in die gewilde sepie sowel as haar verhoogoptrede . in Rapport Tydskrif van 9 Augustus. (Toevallig Vrouedag).
    Mooi loop en bly warm!

    Share/Save/Bookmark

    Lewer Kommentaar