Boer soos ‘n vrou is soos ‘n sepie en komedie in een!

    Met die SABC wat nou besluit het om 500 miljoen aan plaaslike vervaardigde inhoud te sny, kan ek net dink hoeveel vervaardigers en hul werknemers sit met die hande in die hare.
    Die vervaardiging van tientalle reekse (volgens Beeld is dit honderde reekse) soos die natuurbearingsreeks 50/50, is vir ’n onbetaalde tyd uitgestel.

    Wel sekere vervaardigers soos ene Michael Lee, mede-eienaar van die Johannesburgse produksiemaatskappy Mahala Media, het tot drastiese stappe oorgegaan…soos om nou al te vas vir 18 dae. Protesoptredes is ook aan die orde van die dag.
    Tye is rof en my hart bloei vir al hierdie produksiemense wat dalk vir ’n onbetaalde tyd sonder werk gaan sit. Ons kykers by die huis (veral die wat nie DSTV het nie) sal nou net na heruitsendings op SABC kan kyk (benewens ’n paar tydskrifprogramme en aktuele programme). Tja! is al wat ek kan sê…wie wil nou na ou programme soos Maak ’n Las op ’n Vrydagaand kyk? Dit is soos ou opgewarmde koffie!
    Gelukkig is daar Boer Soek 2 ’n Vrou ook op ’n Vrydagaand op kykNET….en benewens No. 1. Ladies Detective Agency (M-Net en Movie Magic 1) moet ek bieg, ek’s ook verslaaf aan Boer Soek ’n Vrou 2!
    Die tweede seisoen is beslis vir my beter as die eerste …ek dink Elma Postma, die aanbieder, is meer op haar gemak en ek dink die program word nou beter geredigeer.
    Die realiteitsreeks is soos ’n sepie en komedie als in een!
    Heimlik hoop mens Kupido se pyltjies gaan hierdie keer ook raak tref, soos die geval met Tickey en Selmé-Louise en Jurie en Sharon in die vorige seisoen was. (Hennie het toe soos almal weet, eers later by die regte vrou uitgekom).
    Dit is die intriges wat hierdie tweede seisoen sulke lekker kykstof doen. Twee vroue wat by Flip gekuier het, het gou-gou besef hulle wil nie op daardie plaas (of in sy huis) woon nie en toe hul tasse gepak….en nou ja, die vonke het ook gespat by Pieter H. se perfekte plaaswoning toe twee vroue mekaar daar in die hare gevlieg het!
    Wel, as ek kon kies, sou ek defnitief vir Johan gekies het, hy lyk vir my na die gebalanseerdste van die hele spul. Boonop is hy ook baie gelowig, wat myns insiens ’n pluspunt is.
    Terug by plaaslike produksies wat dalk gaan opdroog, M-Net is wel erg aan die gang met die beplanning van ’n hele paar nuwe plaaslike produksies….Ek het hierdie week uit die perd se bek gehoor dat ’n nuwe Engelse sepie (wat eers in 2011 op die lug kom) beplan word sowel as ’n nuwe komediereeks.
    Gelukkig is kykNET ook baie produktief met nuwe programme. So tussen die twee kanale behoort kykers (en ’n paar vervaardigers) gelukkig gehou te word.
    Ons hou maar almal duimvas dat als by die SABC gou reg gaan kom!

    Share/Save/Bookmark

    Lewer Kommentaar