Jippie…die lente is in aankoms…..staan bietjie stil
Die weke spoed verby….en dit is asof die jaareinde al hoe haastiger raak, amper soos ’n stoomtrein wat jaag om betyds by sy bestemming te wees. En let wel, ek sê stoom, want ons almal begin dan stoom afblaas!
So met die einde van die jaar begin al die afskeids- en Kersfunksies en dit is amper of ons onsself verloor in hierdie dolle gejaag…
Met die lente in die lug besef ’n mens weer eens die wonder van die natuur…en dit is amper of mens dan gelukkig bietjie tot stilstand gedwing word…..
Maar praat van tot stilstand geruk word….
Ek was gister by die roudiens van prof. Willem de Klerk, hy was ’n mentor vir so baie mense in die lewe. Ek het hom op sesjarige ouderdom leer ken, toe hy Gereformeerde predikant van die Totiusdal gemeente in Pretoria was. Hy en sy eerste vrou, Elzabe, en my ouers was goeie huisvriende en ons kinders het heerlik saam met die De Klerkies gespeel.
In my matriekjaar (die De Klerks het toe intussen Potch toe verhuis) het ek en my ouers by oom Wimpie en tannie Elzabe gaan kuier. Ek moes op daardie stadium besluit wat ek sou gaan swot….my ma was vreeslik trots dat ek op daardie stadium oorweeg het om kleuterskoolonderwyseres te word….want sy was ’n Graad 2-juffrou en soos enige ma, wou sy graag dat een van haar kroos in haar voetspore volg.
Ek sou Pote (Potchefstroom Onderwyskollege) toe en nadat ek die streng reëls onder oë gehad het (en tot my ma se ontsteltenis in die asblik gegooi het) het ek besluit….basta! nie nog ’n hoër skool nie.
Met ons kuiertjie by die De Klerks het oom Wimpie my eenkant toe geroep en vir my vertel van die wonderlike nuwe kursus op die Puk (BA Kommunikasiekunde) en heel rebels besluit ek om toe joernalistiek te gaan swot. En ek sleep toe op die koop toe ’n paar skoolpelle saam om Komm-kunde saam met my te gaan swot.
Gister het ek besef hoe bevoorreg ek tot dusver was om joernalistiek te kon swot en al die jare joernalis te wees….die ongelooflike wonderlike mense wat my pad gekruis het, die reise wat ek kon meemaak, die ondervindings wat ek met so baie spesiale mense kon deel…
Maar gister se roudiens het so baie van ons tot stilstand geruk, want oom Wimpie se afskeidsbrief het baie stof tot nadenke nagelaat. As hy sy lewe weer kon oorhê, het hy geskryf, sou hy meer tyd in die natuur en gesellig saam met mense wou verkeer.
Geniet die lente wat nou in aankoms is!
Posts