Klassieke lafenis
Haai in die dolle gejaag na wind van een keertyd tot ’n ander is dit soms net lekker om agteroor te sit en te ontspan….en na strelende klassieke klanke te luister.
Hoe op dees aarde jongmense vandag na al daai raserige doef-doef en rap en hip-hop-musiek luister, weet ek nie.
Ek het in ’n klassieke huis grootgeword en het dus klassieke ore (ek sing so nou en dan koor). My pa het in Truk se operakoor gesing en ek het vandag wonderlike herhinneringe van hoe ek met sy lieflike tenoorstem in die oggende - toe ek op laer skool was - wakker geword het. Hy het arias uit operas soos La Traviata, Il Travatore en La Boheme geoefen.
Ek het my eerste opera - Il Travatore - bygewoon toe ek agt jaar oud was. Die koorlede en ander sangers se families is na die repetisie voor die groot openingsaand genooi en as kind het ek my verwonder aan die wonderlike atmosfeer in die Opera by die Staatsteater. Ek het selfs tot heel voor tot by die verhoog geloop om te gaan loer hoe die orkes hul instrumente stem - Leo Quale was die dirigent. Dit was ’n belewenis wat my hoendervel gegee het.
En sedertdien moet elke dag my ‘doepa’ klassieke musiek inkry, dit is soos bloed deur my are. Ongelukkig kom ek so min by klassieke uitvoerings of opera-vertonings uit.
Maar so land ek toe Donderdagaand by Foxwood-teater in Houghton waar die bariton Christiaan Snyman en die sopraan Ronette Botha optree. Christiaan (35) wat in Klerksdorp grootgeword het, woon en werk deesdae in Duitsland. Ronette (sy is van die Oos Rand) het sopas ’n beurs gewen om in Londen te gaan studeer. Albei het onder Nellie du Toit studeer. Wat ’n manjifieke program was dit nie! Christiaan en Ronette het albei werke van Mozart uitgevoer en Ronette het selfs gewys hoe veelsydig sy is en ook ‘n liedjie van Gershwin gesing: Someone to watch over me. Christiaan het ook twee meer moderne werke uit Camelot gedoen.
Michael Nay, wat die twee sangers begelei het, het hom baie goed van sy taak gekwyt.
Dit was werklik ’n besielende ervaring en ek het weer eens besef hoeveel wonderlike talent in Suid-Afrika is - of oplewer.
Ek moet net as ’n naskrif opmerk: Foxwood House in Houghton (die eienaars is Jan Groenewald en Pieter de Vos) is ook ’n ware lafenis vir die siel en gemoed. Kyk gerus op Foxwood se webwerf www.foxwood.co.za na al die wonderlike vertonings wat by die teater aangebied word. (Op die oomblik word Jan Groenewald se ’n Tyd om lief te hê Sondae by die teater aangebied).
En dan is die kos by Foxwood ook uit die boeke. Jy kan die teater met ’n heerlike buffet-ete kombineer, of net daar gaan eet. Lekker boerekos soos jou ma of ouma dit gemaak het….en probeer gerus die hoenderpastei. Foxwood House se tuin is seker een van die mooistes in Johannesburg (dit voel of jy in Knysna se Tuin van Eden is) en die ou herehuis is in die regte Herbert Baker-styl en propvol interessante antieke besienswaardighede. En o ja, die huis is nogals famous, want dit is die buite-aansig van die Villa Rosa-huis wat ons daagliks in die kykNETsepie Villa Rosa sien.
Glo my, as jy een keer by Foxwood lafenis vir jou siel gesoek het en jou innerlike met die wonderlike spyse gevoed het, wil jy weer teruggaan!
Posts