Viva alle vroue! Viva!

    Dis Maandag Vrouedag en vir baie vroue ’n dag van luilekker bederf, salig by die huis bly of watookal.
    Party vroue gaan spa’s toe, ander woon funksies by waar vroueregte ensomeer bespreek word, ander drink net heerlik wyn of sjampanje.
    Ander nou ja, werk….
    Ons vroue-joernaliste is nie so geseënd nie - want heelparty van ons is van die talle vroue wat werk op vakansiedae. En wrintiewaar ook op Vrouedag. Verpleegsters, nooddienste, verkeersbeamptes, polisievroue ens werk ook op vakansiedae. As jy ’n joernalis is - of seker in ’n beroep soos verpleegster is - word dit maar deel van jou lewe en jy aanvaar dit so. Vakansiedae is dus ’n luukse!
    Maar terug by vanjaar se Vrouedag - onthou om Sondag die Rapport te koop en die artikel (deur die uwe) oor Anna-Mart van der Merwe in die Rapport Tydskrif te lees. Anna-Mart is so ’n spesiale vrou met spesiale kwaliteite, en ons het besluit om haar te kies vir Vrouedag. (Binnelanders-kykers sien haar nou in die reeks as prof. Leonora Hanekom, ’n deskundige op haar gebied van endokrinologie.)
    Ek wonder net so op die vooraand van Vrouedag….hoeveel vroue weet regtig waarom ons hier in Suid-Afrika ons eie Vrouedag het? Wel in 1956 het 20 000 vroue in Suid-Afrika hul stemme dik gemaak. Swart Vroue. Hulle het opgeruk Uniegebou toe. Maar ek kon nie mooi uitvind waaroor hulle hul stemme dik gemaak het nie? (Dalk weet een van die lesers en kan insette gee.) Ek neem aan dit was om vir vroueregte te veg, maar watse vroueregte? Gelykheid? Stemreg?
    Tannie Milla Louw (Tannie Schoeman van 7de laan-faam) vertel my dat talle wit vroue in 1938 opgeruk het Voortrekkermonument toe….en ek kon tot op hede ook nie so mooi uitvind waaroor die betoging gegaan het nie? (So laat weet ons, asseblief Finesse-lesers!)
    Internasionale Vrouedag word amptelik op 8 Maart swarsoor die wêreld gevier. Internasionale Vrouedag het ook ’n lang - interessante - geskiedenis.
    Volgens die internet word Internasionale Vrouedag al sedert die begin van die 19de eeu gevier. Tydens die era was daar ’n groot omwenteling in die industriële wêreld en ’n groot bevolkingsaanwas en die begin van nuwe radikale ideologieë.
    Die erge onderdrukking van vroue het in 1908 daartoe aanleiding gegee dat vroue hul monde begin opmaak het en betoog het. In daardie jaar het 15 000 vroue deur die strate van New York City gemarsjeer en op korter ure, beter betaling en stemreg aangedring.
    In ooreenkoms met ’n verklaring deur die Sosialistiese Patrty van Amerika is die eerste amptelike Nasionale Vrouedag op 28 Februarie in Amerika gevier. Tot en met 1913 is Nasionale Vrouedag op die laaste Sondag in Februarie gevier. Later het dit toe 8 Maart geword.
    Ek sal Maandag maar so stil-stil Vrouedag op my selwers agter my rekenaar vier…..en natuurlik jaloers wees op al die ander gelukkige en bevoorregte vroue wat kan uitspan.
    Gelukkige Vrouedag alle Finesse-lesers!

    Share/Save/Bookmark

    Lewer Kommentaar