IMMERGROEN CARIKE
Party mense word nie oud nie, hulle tel nie gewig op nie en hulle kry nie plooie nie.
Dis alles in die gene redeneer baie mediese kenners. (En dan is ek sommer vies oor my Van Wyk- en Roos-gene!)
Carike Keuzenkamp is seker die beste voorbeeld van ’n vrou wat net nie oud word nie.
Ek het Carike die eerste keer in my lewe ontmoet toe ek in standerd vier was. Carike het toe onderwys in Pretoria gestudeer en by ons laerskool, Lynnwood Laerskool, geproef.
Ons standerd-viertjies moes in die naaldwerkklas babasokkies brei. Ek is nie ’n goeie breier nie en het vreeslik styf gebrei. Gevolglik het my baba-sokkies baie kleiner as die res van die klas s’n uitgekom. (Ek dink my baba-sokkies was nommerpas vir ’n pasgebore babatjie).
Terwyl Carike by ons geproef het, het sy ’n draai in ons naaldwerkklas gemaak.
Ai, ons klomp meisiekinders was vreeslik opgewonde. Carike het op daardie stadium in die Afrikaanse rolprent Professor en die prikkelpop gespeel, sy was joolkoningin en haar liedjie I love you Timothy was ’n groot treffer. Dis min dat jy so ’n geleentheid kry om ’n ster in lewende lywe te ontmoet, wat nog daarvan te sê dat sy in jou klaskamer is!
Ons meisiekinders het behoorlik gegiggel van opgewondenheid toe sy in ons klas instap.
Carike het met groot aandag na al ons babasokkies gekyk en toe sy by myne kom, toe tel sy dit op en sê: “Dis te oulik!”
Ek het natuurlik gebloos maar my klasmaats het my sommer beny dat Carike my handewerk uitgesonder het!
Nou, twee-en-veertig somers later, is Carike vir my nog presies dieselfde wonderlike rolmodel as toe ek elf jaar oud was. Sy is nog net so beeldskoon, sy sprankel altyd, is baie vroulik, vriendelik en jy kan haar altyd deur ’n ring trek. En ja, hierdie ouma van twee pragtige kleinkinders word net nie oud nie.
“Hoe op dees aarde kry sy dit reg?” het ek vir Albertus Kotze, haar bemarker by SonyBMG gevra.
“Wel sy eet gesond en leef gesond,” het hy geantwoord. “En dan natuurlik die gene, het hy bygevoeg. Ja, jet ek beaam, die gene!
Verlede week was die bekendstelling van Carike se jongste album Carike Keuzenkamp Vriende en Legendes en ek het omtrent gestik in my mineraalwater toe ek sien hoe goed die vrou lyk.
Dit was ’n heerlike bekendstelling, want ’n paar van Carike se goeie sangvriende, soos Rina Hugo, Lance James en Gert van Tonder was ook daar sowel as baie ander vriende en kennisse in die musiekbedryf. En die nimlike Boet Pretorius, of Dimpels soos hy allerweë in die musiekbedryf bekend staan.
Carike sing onder meer saam met Kurt Darren, Juanita du Plessis, Johan Stemmet, Jaco, Theuns Jordaan, Bobby angel, Steve Hofmeyr en Dozi op haar nuwe album.
“Dit is ’n lewensdroom wat vir my waar geword het,” het Carike tydens die bekendstelling gesê.
Boet Pretorius, wat die afgelope dertig jaar reeds ’n pad saam met Carike loop, het die produksie behartig.
Dit is ’n lekker-luister duet-album en baie van die ou gunstelinge soos Byeboerwa (saam met Jaco), One Day at a Time (saam met Lance James) roep ou herhinneringe op.
En net in geval die jonges dink dit is nie musiek vir hulle nie, daar’s ook lekker nuwe nommers soos Loslappie (saam met ons pop-koning Kurt
Darren) en Soos Bloed (saam met Theuns Jordaan).
Darren) en Soos Bloed (saam met Theuns Jordaan).
Well done, Carike, is al wat ek kan sê na 42 jaar. Jy bly immergroen!
(NS Liewe Carike, kan ek asb .jou dieet en oefenprogram kry?)
Posts
2009/09/25 om 00:42
Ek het Carike se nuutse cd - Vriende & Legendes vandag as ‘n geskenk gekry. Ek wil net sê sy lyk pragtig en elke lied wat op die album met sorg uitgekies is, is ‘n wenner! Mag God jou stem seën en vir jou, Carike nog baie jare vir ons bewaar!!