Hope Nuwe Blink Talent

    So is ek toe genooi om Woensdagaand Steve Booysen, eks-baas van ABSA,  se Musical Boardroom by Emperors in Boksburg by te woon.  (Dis ‘n vertoning wat Steve  Booysen bymekaargesit het en ‘n gelyknamige album met verskeie bekende kunstenaars is die aand deur Storm Rekordz, bekendgestel)

    Nou ja, ek het aanvanklik vreeslik opgesien om te gaan. Eerstens moet jy jaag om van die kantoor by die huis te kom, aan te trek en op te tof en weer jaag om betyds by die funksie te kom. En die padwerke en verkeer maak dit nie makliker nie. Teen die tyd wat jy sewe-uur by die funksie kom, is jy gewoonlik pap nat gesweet, jou nek is in ‘n spasma en jy bewe van stres.

    Ek en my vriendin Marianna het toe wel besluit om so uur en ‘n half voor die tyd die moeilike pad te vat. As ons genoeg tyd gehad het, sou ons selfs ‘n mandjie en toebroodjies vir padkos gepak het, want die Emperors is omtrent ‘n dagreis ter perd.

    Nou ja, daar kom ons toe net betyds by die teater aan! Als baie  fancy, en volgepak. Die konsert, met onder meer Mathys Roets, Lara Francis, Danie Niehaus, Tobi Jooste, Bobby Louw, Andries Botha en sy broer Ghapi, Clint Cunningham, Anna Davel, Mel Botes, Kurt Darren en Natasja Jacobs, Veraz en die Ses Snare is geadverteer as ‘n “oldies” konsert en ek is seker dit was beslis meer op die ouer garde gerig. (So tussen hakies, die eerste twee aande is die tafels aan verskillende maatskappye verkoop en die kaartjies het glo R1000 per persoon gekos. Die derde aand is die deure vir die publiek oopgegooi).

    Die liedjies op die program (en die album)  is alles Steve Booysen (ek sit maar elke keer Booysen by nou-nou dink mense dis Steve Hofmeyr) se persoonlike keuse: en dit is ou treffers so uit die laat sewentigs en vroee” tagtigs. Anna Davel het byvoorbeeld They Shoot Horses Don’t They gesing, Mathys het die liedjie Arms of Mary (wat baie ou herninneringe van my goeie Puk-dae opgeroep het) gesing en Liesl du Toit (ex Shine 4-meisie) het gesprankel met die op-en-wakker Jeans On. Moet se, die nuweling wat seker die grootste aftrek en reaksie gekry het is Veraz, ‘n 23-jarige sanger-liedjieskrywer van die suide van Johannesburg. Hy sing lekker reggae en het treffers van die Bee Gees soos To Love Somebody lekker opgeklits - en die gaste se dansvoete behoorlik gekielie. (Hou Veraz gerus in die toekoms dop, hy is ons eie boere Bob Marley).

    Die aand was na my sin bietjie uitgerek. Kurt was wel ‘n wonderlike compere en het die onkonvensionele aand op ‘n onkonvensionele, lekker informele manier aangebied…..Kurt is ‘n pro op die verhoog en weet net wanneer om die regte ding op die regte tyd te se^. (En Kurt se weergawe van die Van Morrison se Have I Told You Lately That I Love you het my behoorlik hoendervel gegee!! Wow, Kurt!)

    Nog ‘n groot bonus van die aand was die Ses Snare se keurspel - dit is die eerste keer dat ek hierdie ses musikante saam en live hoor speel en ja, Vya Con Dios se Neh Nah Nah Nah het die gehoor heeltemal gaande gehad. Die gehoor wou die ouens natuurlik ook nie laat gaan nie - en hulle moes nog ‘n toegif doen. Dis so lekker om hierdie ses te hoor en te sien musiek maak,  Leon Ecroignard, die grapjas van die ses, is natuurlik ‘n groot vreugde om dop te hou, want dit lyk of hy elke oomblik geniet wat hy doen!

    Dan moet ek nog byvoeg, dis lekker dat daar nie net jong latte op die verhoog was nie. ou veterane soos Danie Niehaus, Mathys en Bobby Louw het ook gewys hulle hoef nie’n tree terug te staan vir die nuwe talent nie.

    My hart het sommer na die tyd geswel van trots - ons het soveel talent in hierdie land en soveel belowende NUWE talent!!  Hopelik sal  nuwe jong sterre soos Lara Francis en Veraz nie sommer in die niet verskiet nie!

    Gaan kyk gerus op die CD-winkelrakke of jy Steve Booysen se My Musical Boardroom (Storm Rekordz) in die hande kan kry - veral as jy van die 70′’s en 80’s se musiek hou.

    Hopelik gaan Steve B. nog ‘n versameling treffers in die nabye toekoms uitgee, en ja, nou praat die Afrikaner-patriot binne my, ek hoop volgende keer is dit nie net in Ingels nie, maar ook van ons groot Afrikaanse treffers soos Mannetjies Roux, Liza se Klavier ens. wat bietjie afgestof word.

    Share/Save/Bookmark

    Katte wat dans en sing

    Dit is altyd lekker om na ’n musiekspel te gaan kyk, soos Pieter Toerien tereg hierdie week op Top Billing gesê het, jy kan net agteroor sit, ontspan en al jou sorge vergeet.
    En so baie van ons het deesdae net te veel sorge.
    Verlede Sondagaand ek en my ander vriendin Mariaan (ek het toevallig drie Mariaan-vriendinne) Cats by die Teatro, Montecasino in Fourways gaan kyk.
    En dit is beslis goeie ontvlugting. Die kostuums, danse en musiek is uit die boeke. Katjies wat kan dans, spring en sing! (meer…)

    Share/Save/Bookmark