Katte wat dans en sing
Dit is altyd lekker om na ’n musiekspel te gaan kyk, soos Pieter Toerien tereg hierdie week op Top Billing gesê het, jy kan net agteroor sit, ontspan en al jou sorge vergeet.
En so baie van ons het deesdae net te veel sorge.
Verlede Sondagaand ek en my ander vriendin Mariaan (ek het toevallig drie Mariaan-vriendinne) Cats by die Teatro, Montecasino in Fourways gaan kyk.
En dit is beslis goeie ontvlugting. Die kostuums, danse en musiek is uit die boeke. Katjies wat kan dans, spring en sing!
Ek wou al die jare Cats sien en het seker al twintig jaar gelede na die liedjies uit die musiekspel geluister. Toe Cats die eerste keer in Suid-Afrika aangebied is, het ek dit ongelukkig gemis. En die kere toe ek in Londen was en die speelvak van Cats nog aan was, het ek dit ook om een of ander rede gemis. Intussen het die speelvak in Londen verstryk (Cats is after all al 21 jaar daar aangebied) en ek het net gedink ek gaan die gewilde Andrew Lloyd-musiekspel, wat op T.S. Elliot se werk gegrond is, nooit te siene kry nie. Dit was dus baie goeie nuus toe ek hoor Cats word weer vanjaar in Suid-Afrika op die planke gebring.
Ek was bevoorreg om ’n hele paar musiekspele in Londen te sien van Mamma Mia!(met ons eie Suanne Braun), Les Miserabéles, Hairspray en Chicago (met David Hasselhoff as Billy).
Hier ter plaatse het ek ook fenomenale produksies soos Phantom of the Opera en Beauty and the Beast (my absolute gunsteling) gesien.
Ek het Sondagaand met Cats weer besef hoe bevoorreg ons nou is om hierdie gehalte produksies in ons eie land te sien. Ons musiekspele hoef nie een tree terug te staan vir West End nie! Suid-Afrika spog met ongelooflike dansers, akteurs, choreograwe, sangers ensovoorts. En al ons wonderlike kunstenaars hoef nie oorsee te gaan om daar die potjie goud aan die einde van die reënboog te soek nie - hulle kan dit nou hier kry!
Posts