Afskeid

    Afskeid is nooit ‘n maklike ding nie, of ons nou vir mense wat die tydelike met die ewige wissel totsiens moet se, of dit dalk iemand (vriend of familielid) is wat verhuis.

    Ek sal nooit die dag vergeet toe my kleinsus besluit het om Afrika vir europa te verruil nie - dis nou seker al vyftien jaar gelede.
    Sy het besluit om in Kopenhagen te gaan woon en werk (nadat sy ‘n aanloklike aanbod van IBM gekry het). Sy het voor die tyd Deens begin leer , haar tasse gepak en kort nadat Mandela tot ons nuwe staatspresident verkies is, koebaai gese.

    My broer - en pa - was saam op die lughawe met die groot afskeid en ek het snot en trane gehuil toe ons groet. My broer het getroos met die woorde: “Toemaar, sy sal ok wees.”

    My straatwyse sussie woon nou die afgelope sewe jaar in Londen en die afgelope vyftien jaar - of ek nou daar gaan kuier het of sy in sonnige Suid-Afrika - was die afskeide op die betrokke lughawens altyd baie swaar. Intussen het my broer en sy gesin ook na Londen verhuis - dis nou vier jaar gelede - en moi is nou die enigste van ons drie wat nog hier woon. (Kan iemand my kwalik neem as ek lughawens haat, want ek assosieer dit altyd met trane en afskeid).

    Maandag moes ek ook van ‘n baie getroue en geliefde vriendin afskeid neem. Tannie Milla (ofte wel tannie Schoeman van 7de laan-faam soos baie kykers haar ken) het Maandag finaal verhuis Port Elizabeth toe. Twee van haar dogters, Milla en Susan, woon in die vriendelike stad en op 88 het tannie Milla nou finaal (!) besluit om af te tree.

    Ek kan nie in woorde vir enigiemand beskryf wat tannie Milla die afgelope 28 jaar vir my beteken het nie - sy het my surrogaat-ma geword na my ma se afsterwe en sy was ALTYD daar vir my (ons was eers 12 jaar bure in Brixton, dis hoe ons mekaar leer ken het).

    Sy was so ‘n wonderlikie rolmodel vir my gedurende al hierdie jare - sy gooi nooit tou op nie, het altyd ‘n oplossing vir ‘n probleem gevind, het ‘n onwrikbare geloof in haar God, ongelooflik onbaatsugtige liefde vir haar medemens…..

    Haar studente by die ADK het haar ook leer ken as iemand wat altyd ‘n skouer en ‘n oop hart en wyse raad het vir enige probleem. dit was ongelooflik om deur al die jare te sien hoe baie hulle almal vir haar omgee….en sy vir hulle.

     

    Ek sal nooit daardie prentjie van tannie Milla vergeet toe sy Maandag op die stoep gestaan het en vir my totsiens gewaai het nie….ek kon beswaarlik die trane onderdruk.

    Soos reeds gese^, afskeid is nooit maklik nie, maar ek hoop dat sy in hierdie jare wat nog vir haar voorle^net goeie gesondheid sal geniet….en dat sy baie lekker sal rus by die see en haar familie! Want sy verdien dit!

    Share/Save/Bookmark

    Lewer Kommentaar