Haweloos en werkloos

    Daar het die afgelope twee weke sulke wonderlike wonderwerke met my gebeur, dat ek nie weet waar ek moet begin  vertel nie.

    Voorverlede Sondag het ons Nagmaal (ek kerk in Linden). Dis ‘n inspirerende diens en na die tyd het ons gemeente almal saam in die saal gee”et. Ek begelei toe vir oom Piet Malan (90 jaar) en tannie Hansie Malan (89 jaar) na die saal, maar oudergewoonte knoop die twee geselsies al langs die pad aan….hulle is baie lief vir klets, en elkeen in die gemeente wil Sondagoggende met oom Piet (die oudste oorlewende Springbok in die land oor die vorige dat se vername rugbywedstryd praat)

    Toe ons uiteindelik by die saal kom, toe is daar wel drie sitplekke oop aan een tafel. Ek help die twee flinke oues van dae (hulle was so tussen hakies my koshuisouers op Potch) na die twee oop stoele op die punt van die tafel. Aan die oorkant is nog ‘n oop stoel (die enigste oor in die saal) waar ek toe gaan plaas neem - langs ‘n boemelaar.

    Nou ja, en daar stel ek my toe eers voor aan die verslonsde vuil man. “Arnold” se hy vriendelik. (Ek steek nie my hand uit nie, groet net met die kop).  Vriendelike gesig, glad nie onaantreklik nie, kan doen met ‘n deeglike bad….dink ek…

    Nou ja as jy saam met vreemdes aan ‘n tafel sit, dan begin jy mos eers by die naam, dan die van, dan die omgewing waar die persoon woon, dan die tipe werk wat die persoon doen. So kry jy mos die aanknooppunte. Toe sit ek mos met ‘n dilemma = ek kan nie vir die man vra waar hy woon nie. Nou-nou se^hy onder ‘n brug of ‘n boom. Ek kan nie vir hom vra wat hy doen nie, dan gaan hy mos se^: “Niks”. Dus vermy ek hierdie vrae. Ek vra wel waarvandaan hy kom.

    “Van hier Linden,”" se^Arnold oopbek, tande daar, maar nie te skoon nie (ironies sit daar toe ‘n tandarts Herbert met pe^relwit Colgate-wit tande oorkant my). “Waar was jy op skool?” wou ek, tipies-joernalis nuuskierig weet. (Die man moes darem seker skooltoe gegaan het, dog ek bymyself. Ek kan nie hier ‘n flater maak nie…)

    “Louw Geldenhuys laer skool….1963 in graad een.” kom sy antwoord.

    Ek stik toe amper in my vrugtesap. “Ek was in 1963 in graad twee, ook Louw Geldenhuys”. Ons was dus saam op skool. Saam pouses op die rugbyveld in ons maroen-skooluitrustings gespeel.

    Volgende vraag: waar is jou familie? (Dalk moes ek eerder gevra het : het jy familie?)

    “O, dis ‘n sad storie…..my ma, my pa en my broer is dood. ‘n Ander storie….”

    Arnold  eet gulsig….tuna-lasagne…brood….slaai

    “Ai, maar die mense is honger!” se^hy en verwys eintlik net na homself. “Ek’s so bly die ree”n het nou opgehou….al my klere is nat!” (dit het omtrent vir drie dae aanmekaar geree”n). Hy klets te heerlik.

    Kobus Petzer, éen van ons baie aktiewe gemeentelede kom sit langs my….hy neem foto’s op sy sel van Arnold.

    “Hoekom neem jy foto’s?” wou ek weet.

    “Lang storie. Arnold het kort-kort aan my deur kom klop, gewoonlik onder die invloed. Tot eendag, toe kan ek dit nie meer verduur nie…..Die Here het nou al so baiekeer aan jou hart geklop! het ek vir hom hard gese^. Maar jy luister nie….”

    En toe het Arnold stil geword, vertel Kobus verder……..en toe raak Arnold bekeer. Hy wou sy lewe verander.

     

    Toe sit Kobus met sy hande in sy hare….waarheen nou met die man? Hy het ons leraars gebel….en nou lyk dit darem of MES vir hom ‘n dak oor die kop gaan gee…..en moontlik kry hy dalk ‘n werkie…

    Nou ja, toe ek huistoe ry, toe kan ek die storie en Arnold se gesig nie uit my gedagtes wis nie…..ons het min rede om te kla, dog ek…”Therefore I go but for the grace of God!”

     

    Ek wil so graag meer vir sulke mense doen, dink ek. Of net help. (Ek het my hulp ook daar en dan aan tafel vir Kobus aangebied).

    En toe kry ek die volgende Woensdag ‘n  oproep van ‘n ou vriend….uit die bloute…nog ‘n wonderwerk….maar ek vertel volgende keer verder.!

    Share/Save/Bookmark

    Lewer Kommentaar