Nuwe uitdagings

    Almal hou van nuwe uitdagings en moet se^ hierdie jaar voel vir my kompleet asof ek nou ‘n groentjie op universiteit is!

    Jammer oor die stilte - maar die afgelope maand het ek gevoel soos ‘n warrelwind wat van oos na wes en dan van noord tot suid voortwoed!

    Die rede? ‘n Totale loopbaanverandering! Ek het op 1 Februarie by Franz Marx Films ingeval in die pos van publisiteits-konsultant - of soos my kollegas dit hier noem “sterre bou”.  En ja, ek is dol oor die nuwe uitdaging!

    Maar wat doen jy daar - ons dog Egoli maak nou klaar ?(Dinsdag 2 Maart is voorwaar die heel laaste episode van die langslewende sepie in Suid-Afrika) vra baie vriende en vreemdelinge my.

    Wel, ek kan nou nie heeltemal die kat uit die sak uit haal nie maar kom ek gee vir julle sommer ‘n aptytwekkertjie: ek help met die bemarking (of ’sterre-bou’) van Franz se splinternuwe rolprent - die Egoli-rolprent - wat op 16 Junie ons rolprentteaters soos ‘n bliksemstraal gaan tref. Ja, so te midde van die 2010 W^reldbeker-sokkertoernooi.

    En vir al die Egoli-aanhangers of nie-aanhangers: die rolprentgaan ‘n GROOT verrassing wees. Ek het ‘n voorskou van die rolprent verlede week gesien en as kykers dink hulle kan net nog ‘n episode van Egoli verwag, misgis hulle hul lelik.

    Dis nie ‘n rolprent vir sissies nie - selfs die geharde bierdrinkende mans met harde baarde gaan nog lank nadat hulle uit die rolprentteater geloop het aan die tameletjie kou.  En glo my, hul vrouens gaan ook na hul asems snak. Dis ‘n rolprent wat die psige van die mens ondersoek - en ook vir baie van die ouer garde dalk gaan laat selfondersoek doen. Hoekom? Wel ek laat julle maar vir eers met daardie raaisel…gaan kyk self en dan sal julle sien!

    Wie speel almal in die nuwe Egoli-fliek? Dis ook op hierdie stadium ‘n groot geheim - Huisgenoot en You gaan wel binnekort in Maart die hele rolverdeling bekend maak…..daar’s ‘n paar bekende Egoli-karakters, maar ook ‘n nuweling of twee.

    Nou ja, en benewens Franz Marx sit ek ook hand by met Storm Rekordz (eksbaas van
    Absa Steve Booysen is die finansier van die platemaatskappy) se bemarking. Storm Rekordz het reedws ‘n paar opwindende kunstenaars soos Mel Botes, Varez, Lara Frances, Tobi Jooste, Don Delinger, die Ses Snare en een van die dae ook die gewilde Nederlandse sanger Stef Bos en een van my gunsteling akteurs en sangers, richard van der Westhuizen onder hul vaandel….ek gaan julle in die loop van die jaar sommer goed op hoogte hou van Storm Rekordz se kunstenaars se doen en late.

    Dan het Andre Schwartz (die sanger) my ook ingespan om hom te help met sy bemarkingsprojekte - ek het reeds hand bygesit met die Clover Cream Diamond Dive wat op Valentynsdag by Marks Park in Emmarentia plaasgevind het.  Dit was ‘n prettige dag waar ‘n hele rits bekende persoonlikhede soos Nadia Beukes (kykNET aanbieder, aktrise en sangeres)  Leigh Jansen van Vuuren (Illonka van Egoli), Chantelle Gertse (Veronica van Binnelanders), Ulla Pakendorf, Carla van Niekerk (laasgenoemde twee albei van Ontbytsake), Rozanne McKenzie (veldaanbieder Kwela), Gigi (Survivor), Natasja Jacobs (Bonnie van Song vir Katryn) en Alexa Strachan (aanbieder Kamp dit uit op Kyknet en aktrise en sangeres) almal in ‘n poel met skuimroom geduik het om ‘n kontantbewys van R10 000 (wat die wenner aan haar gunsteling welsynsorganisasie moes skenk) te vind.

    Nadia Beukes was die gelukkige wenner en het vandag die R10 000 aan haar gunsteling welsynsorganisasie Dayenu, ‘n organisasie wat na ongetroude ma’s en hul kinders omsien, oorhandig.

     

    Nou ja, dis nou in ‘n neutedop die dinge waarmee ek myself deesdae verwyl……volgende week vertel ek nog meer van die “sterre bou”-aksies , Storm Rekordz se groot planne en Andre Schwartz se uitdagende projekte!

     

    Tot wederom!

    Share/Save/Bookmark