Mathys sing nou mooier as ooit!

    Ek was verlede week by Mathys Roets se bekendstelling van sy jongste CD, Droomvrouens, by die Centurion-teater in Lyttelton Manor. Moet erken, daar’s min kunstenaars vir wie ek in die week Pretoria toe sal ry, maar Mathys is ‘n uitsondering.

    Dis is sy eerste vollengte konsert - ek het hom onlangs saam met die Ses Snare  gesien - wat ek bygewoon het sedert sy motorfietsongeluk waarin hy verlam is.  Mathys Maree het hom op die klavier ondersteun en saam is die twee Mathyse ‘n gedugte kombinasie!

    Mathys se vertolkings was nog altyd uit die boeke, maar dis amper asof hy nou met ‘n nuwe gewaarwording en nuwe deernis vir die lewe sing.  (Moontlik het hy dalk nou ook ‘n nuwe deernis vir vroue, ek hoop!)

    Daar’s min manlike sangers in ons land wat so absoluut suiwer (en diep) kan sing soos Mathys.  Van Leonard Cohen se Lisa,  So Long Mary-Anne en Joan of Arc tot ‘n paar van Piet Van Wyk se pennevrugte (Madelein) het hy passievol gesing. Twee sangeresse (die een is glo van die groep Shine 4 en die ander van Cutt Glas) het hom om die beurt en tegelyketyd met hul klokhelder agtergrondstemme ondersteun.

    Ek wou kort-kort ‘n paar trane wegvee, so het Mathys se basstem en vertolkings my weggevoer!

    Ek was Maandgaand by nog ‘n CD-bekendstelling - by Tobi Jooste s’n. Sy nuwe album, Amore,  is by die Silver Star Casino bekendgestel en het ‘n vreeslike groot opkoms gehad. Hou Tobi gerus maar dop (hy is een van die nuwe kunstenaars in die stal van die nuwe platemaatskappy Storm Rekordz) want hy is ‘n regte go-getter. Anders as baie ander kunstenaars, spring hyself uit om ‘n ding te doen - of dit nou nuwe borge is, of eposse uitstuur.

    Daarbenewens het die jong 27-jarige bariton beslis sangtalent - en ek dink hy het nou sy nis met die ligte, klassieke genre gevind.  Hy pas ook nommerpas in die kategorie van minnesanger - hy’s uiters sjarmant, beleefd en beslis iets vir die oog (after all het hy al baie modelweerk gedoen en het ‘n reuse-modelkontrak om oorsee modelwerk te doen van die hand gewys omdat hy op sy sangloopbaan wil fokus.)

     

    Ek hou veral van Amore, Andante Andante (ABBA) en Begin te leef (’n vertaalde weergawe van die trefferliedjie uit As It Is In Heaven).

     

    Nou ja, al die vroue wat van romantiese en meer strelende musiek hou, hier is beslis twee albums wat julle baie luistergenot gaan verskaf!

    Share/Save/Bookmark

    Lewer Kommentaar