Charlize - skoonheid en ondier

    charlizeVan Putfontein se plotte tot Hollywood heldin, Chris Karsten se vuurwarm en nuwe biografie oor Charlize Theron, vertel haar lewensverhaal so na aan die waarheid soos ons seker ooit sal kom….

    Ek glo meeste Suid-Afrikaners is gefassineerd met Charlize omdat ons graag dink dat sy “ons s’n” is. Soos biltong en Mrs Balls blatjang

    ons s’n is. Omdat Charlize se naam maklik op ons tong val. Omdat baie van ons al Benoni gesien het. En dat sy Hollywood verower het. (meer…)

    Share/Save/Bookmark

    Crackpots!

    poniesJulle ons is nou soveel bloggers ek moet myself identifiseer as “Hi! Ryno hier!”

    By einste funksie waaroor ek voorverlede week berig het, het ek vanuit die glaskasteel waarin die partytjie gehou is, die goue aandlig in ’n oogwink sien verdwyn. Mens kon nie kwalik geneem word om eers te glo dis ’n sonsverduistering of die apokalips nie. Dit was erger.

    Die sluwe Chardonnay van Wyk het die trappe bestyg.

    Groter as die lewe self, gedek in ’n grootse jas met imposante kraag, het Chardonnay ’n glimlag wat te alle tye oor haar gul gesig gesper is sodat sy haar slagtande ontbloot: Chardonnay is uitgenip vir die PR wêreld. En net soos onkruid is sy altyd terug nes jy dink sy is van die gras af. Tog is sy een van daardie kreature wat onophoudelik hunker na haar fantasmagoriese verwagting van die glansbedryf. Mens moet die TV daarvoor blameer dat al hierdie blinkoog poppies glo dat joernaliste word links en regs met geld gegooi om te partytjie saam met celebs. In elk geval, dis te betwyfel of Chardonnay haar eie uitnodiging gehad het – publisiteitsagentskappe is nie in die gewoonte om kompetisie op komplimentere ontwerpershappies te trakteer nie. Chardonnay was seker die gas van snippie-met-die-spits-gesig.

    “Ek hoor-” Die imposante kraag dobber op en af.

    “Mens moet nie jou ore uitleen nie, Chardonnay” antwoord ek die kraag.

    Die kraag wikkel weer en maak ’n meewarige aanmerking oor joernaliste se salarisse maar my aandag het my onwillekeurig geneem na nog ’n stewige meisie met ’n groot mond. Ek het pas Yolanda Barnard se Die Ponies Galop – Seks en skandale van die Sterre onthul gelees.

    Jy kry skaam. Jy wil eintlik die boek wegsteek. Jy is soos Whitney Houston oor haar crack-pyp.

    Dis ’n sappige ou boekie! Die soort wat maak dat jy drie agtereenvolgende aande takeaways kry vir aandete en jy vergeet om jou gesinslede te groet as jy by die huis kom want jy moet nog gaan lees!

    Noem maar op, sy skinder oor hulle:
    Steve en Natasha,
    Steve en Janine,
    Steve en ’n stewige persentasie van die plattelandse vroubevolking maak natuurlik ’n groot deel van die boek uit.

    Ek het verwag dat Yollie drie flou skinderstories aanmekaar gaan string en uitbou tot 180 blaaie met haar persoonlike stryd met vetsug en ’n voorliefde vir fles vat maar die boek is tjok-en-blok vol skok! Jy sal hoendervleis kry! En nee ek gaan NIE vir jou enigeiets vertel NIE want ek sou jou leesgenot bederf! (En die stories is net te gruwelik om oor te vertel in goeie geselskap… so nou lees almal my kopie voos.)

    Dat Yolanda Barnard dit in die eerste plek gepubliseer gekry het is ’n wonder. Die boek is in der waarheid ’n oomblik in die Afrikaanse uitgewersbedryf. Ek was onder die indruk dat ons Afrikaners te vroom is om sporthelde en musieksterre wat verbete aanbid en beskerm word, se gaterige onderbroeke aan die groot klok te hang?

    Die ergste is dat al die sterre wat ek oor die boek uitvra, bevestig dat Yolanda nog aan die oppervlak krap. Blykbaar is daar veel meer en dink hulle die boek is koue pampoen…. Maar EK en JY het dit nie geweet nie! Het ons ’n reg om te weet? Die sterre se brood word gebotter met publisiteit. As hulle jok oor wie hul rêrig is moet hul nie gaan snotter op Coenie de Villiers se groen volstruisleerbank as die mense wil sien wanneer hulle onderrokke uithang nie. Of praat ek tjol?

    Share/Save/Bookmark

    (Non)celebrity pa’s en hulle kinders

    launchSo min tyd en so baie om te deel!

    Fashion Week het gekom en gegaan en ek kan jou vertel oor… die prettige Asley Haydn wat ek op die balkon van die Santon Convention Centre ontmoet het – iemand wat jy beslis by jou braai wil hê. Klere wat jou laat wens jy was Kylie Minogue sodat dit heeltemal aanvaarbaar sou wees om ’n leotard gemaak van klein spieëltjies oor middagete te dra. Of die vrou wie se hare in ? reuse pynappel-vorm gestileer was langs my sodat ek later vooroor op my stoel gebuk het en grondlangs na die shows moes kyk.

    Eergister aand was ek plus gade by die bekendstelling van die Brasiliaanse mode ontwerper Patricia Nascimento. Onmodieus vroeg. Ek het nie die uitnodiging fyn gelees nie so die Prinses van Pretoria wou ’n hongerfloute vang teen die tyd wat die standaard salmhappies en mini vegetariese pizzas uitgepak is. Liezel van der Westhuizen, vanjaar se Idols aanbieder was die compère. Uitgevat in ’n woudgroen skepping wat so gelyk het asof sy daarin gegiet is. Die eintlike idool, SMS Jason, het senuagtig gelyk maar ek dink dit was dalk omdat hy te vinnig afgekyk het na sy eie uitrusting wat soveel strepe gehad het dat hy heelaand vir my uit fokus uit gelyk het. Die Prinses, wat graag haar ongeërgdheid oor celeb gedoentes veins, was toe vreeslik opgemaak met Neels van Jaarsveld – die “met eish” akteur. Hy en Reynardt Hugo, Dr Tertius van Binnelanders, is verseker van die nice’ste mense wat ek in ’n lang tyd ontmoet het. Maar ek wou nie lank bly nie want Ryno se vierbeen kinders was alleen by die huis.

    Ja, kindersssssssss. Meervoud.

    Want Marseilles die poedel het ? pikswart boetie gekry. Anders as Madonna se kinders is hy nie aangekoop in Malawi nie so in plaas van Mercy of Lovemore het ons hom Xavier gedoop. Hy is ? vrolike karnallie wat almal wil lek en hy maak nog sy toilet onder die trap maar hy is ’n bondeltjie onvoorwaardelike liefde.

    Toe ek die TV aanskakel het ek op CNN die 12-jarige Paris Katherine Jackson op haar pa Michael Jackson se herinneringsdiens sien snik: “My Pappa was die beste Pa ooit.” Onvoorwaardelike liefde. As jy gelukkig is, het jy dit. Want dit sien alle foute oor.

    Share/Save/Bookmark

    Nuuskierige agie

    Hoor hier – ek het ’n uitnodiging gekry na Mpumalanga Fashion Week. Wat volgende! Parys / New York / Milaan / Nelspruit?

    Dis klaarblyklik ’n Suid-Afrikaanse ding. As ons nie een ding ordentlik kan doen nie kom ons doen dit aanmekaar verkeerd. Kwantiteit as kompensasie vir kwaliteit. Soos die son op ’n stadium nie gesak het oor die Britse koninkryk nie is dit altyd iewers in Suid-Afrika modeweek. Op hierdie stadium behoort die organiseerders van al die affêres eintlik die gulde geldelike geleentheid hier raak te sien onder die lot fashionista wat kwalik grond vat tussen die een modeweek wat net-net end kry voor die volgende een begin. Wat van mobiele McBotox stalletjies? Waar die glitterati gevriesde gesigsuitdrukkings opnuut kan laat fossiliseer?

    “Ek wil asseblief upsize met ekstra kollageen in my lippe.”

    Jy kan afslag koepons kry as jy jou liposuction vet aan Madonna se vetkerse-vir-liefdadigheidsfonds skenk ten bate van weeskinders in Malawi.

    Wat is dit met fashionistas wat dink dat daar onmoontlik nie iets belangriker kan gebeur as fashion week nie?

    Ek voel asof ek die blindings moet toetrek en in die gangkas deur ’n strooitjie moet asemhaal sodat niemand mag weet SKOK SKOK GRUWELS!! dat ek die openingsaand van modeweek gemis het om liewer by die huis te bly nie.

    “Maar hoekom?” vra die moderedaktrise van ’n studente tydskrif. Sy het baie klein ogies en ’n vreeslike groot bril.

    Ag…

    “Ryno, waar was jy???” Haar hoed is avant-garde en word twee sitplekke van sy eie geallokeer. Enige een wat agter haar sit moet weet hulle is in die ontwerper se slegte boekies. Persona non grata. Enige een wat oorkant haar sit moet hul beste doen om nie voorste ry etiket te breek nie (om altyd die stugste moontlike gesigsuitdrukking te hê). Ek weet van een moderedaktrise wat nie haar lag kon hou nie en met ’n proes byna ’n synaat losgegiggel het. Persoonlik dink ek net sy het die storie versprei ter illustrasie van haar oorwinning van die dieetafwyking.

    Weg.

    “Wat het jy gemaak???” Sy dra so ’n papperige broek wat lyk soos die resultaat van kruisbestuiwing tussen Aladdin se kostuum en ’n doek vir volwassenes.

    Ek was op ? ego trip.

    Gedorie. Dat mens so baie vrae kan vra! Dis nie net alles flitsende kameras en aandrokke nie jy weet. Partykeer moet fashionistas ook werk. En op die sewende dag rus.

    Dis die dat ek en die Prinses die dagreis na Beige-ville aangepak het. Gewoonlik sal ek so ’n uitnodiging na die buitewyke van die stad besweer deur lank genoeg na Sandton City shopping mall te gaan tot die gedagte oorwaai maar ek moes my nuwe Gucci knock off sneakers inbreek. Al is dit dan op die long road to Beige-ville. Ek het nie geweet dit gaan drie ure retoer lank wees nie. Dis so ’n grys plek dat as dit nie padtekens gehad het nie sou jy dwarsdeur dit kon ry sonder om agter te kom hier woon mense met spoeltoilette. So grys was ek in my gemoed dat al wat ek kon uitkry by ons aankoms was “Dorothy, we’re not in Kansas anymore.”

    (Maar ek vertel julle later waarom ons Beige-ville toe is.)

    Share/Save/Bookmark

    My loopplank debuut

    As ek begin by die begin dan sal julle dalk meer empatie hê.

    Aan die begin van die jaar pas ek soos gewoonlik ’n onmoontlike hoeveelheid goed in ’n reeds tjok-en-blok skedule sodat ek my wenkbroue kan laat herstileer by die wenkbrou ghoeroe vir die sterre. Haar dagboek is ’n jaar vooruit bespreek maar sy neem my onder hande oor etenstyd want ons ken albei iemand met oorredingsvermoë. In die kantoor langsaan is Edith Venter se estetiese dokter (dit is wat hulle deesdae genoem word in Sandton waar almal een het op speed dial) en hy vertel my bessies is die antwoord. Terwyl hy sit en pik uit ’n bakkie vol daarvan. En as dit waar is dat hy ’n oom van 50 is en nie ’n lat van 32 soos hy lyk nie, dan steek daar iets daarin. So Ryno verspeel nie tyd nie en neem sy nuwe blonde wenkbroue na die gesondheidsemporium om ’n peperduur bottel Goji bessiesap te koop. Dit klink wonderlik eksoties en met visioene van ’n gesig so stralend soos ’n lui mens wat die Lotto gewen het is ek met my twee-liter onder die arm huis toe. Slegter as tamatiesap en ’n kleur identies aan Plascon Burnt Sienna high gloss verf sluk ek maar terwyl die visioen vervaag soos wat my gesigspiere onwillekeurig vertrek. Ek wil immers straal in die voorste ry by die eerste aand van mode week.

    Na die onnoembare prys van die Goji bessiesap en my nuwe wenkbroue is daar geen sprake van my tipiese “vergeet die credit crunch en gee my ’n kredietkaartorgie!” twee ure voor die eerste klerehanger haar voete op die catwalk sit nie. So ek is in ’n sobere pakkie wat almal al gesien het buiten fashion week se gasvrou, die onder-minister van kuns en kultuur.

    Dalk om die wrang smaak van die goji bessiesap te beteuel of dalk om my garderobe insecurity te laaf – het ek’n rede gevind om die gratis sjampanje tafel met vergunning van die PR agentskap wat my genooi het te tref. “Hou my terug,” sê ek vir my vriendin Christine - ’n kliëntediens konsultant van L’Oreal - maar sy hou my glas vas.

    Ons vind ons plekke (of iemand s’n) in die media area. Vreemd genoeg is die loopplank in ’n U-vorm en die BBP’s sit in die vierkant omring deur die loopplank. Die vertoning is skaars in sy derde model in toe ek begin rondskuifel op my stoel. Dalk is dit al die stoom wat oor die verhoog geblaas word vir dramatiese effek of die feit dat daar tromdansers is wat soos sangoma’s lyk maar ek voel dit in my derms dat iets nie reg is nie. Ek kan my sit nie kry nie, die geskenksakkie kan my nie opbeur nie en toe daal daar op my ’n besef neer so gruwelik ek wil soos ’n onverantwoordelike ouer in die Sondagkoerant sê “dis die duiwel se werk”.

    Die gedagte wil by my posvat dat ek iets aan iemand moes doen om die vernedering te beleef maar daar is nou dringender dinge.

    Die natuur roep. Nee, sy skree!

    Maar die vertoning is ’n goeie 20 minute ver van klaarkry en nie ’n wonderwerk sal my nou daardeur kry nie. Ek wonder of ek genoeg geskenkpakkies onder die stoele naby my kan gaps om my te help kamoefleer as ek sou glips. Dis iets wat net met ? peuter moet gebeur!!! Vir verwyte is daar nie kans nie, ek dink ek gaan bars. My enigste ander prioriteit is om uit die media sone te kom. Ek sou nooit kon dink dat ek enige iets sou gee om in die verste donkerste hoek in die heel agterste ry te sit nie, die mode ekwivalent van varkgriep. Die volle nagmerrie tref my nou eers. Die enigste pad uit is om die loopplank te kruis. En die TV is vanaand hier. Die vertoning word lewendig uitgesaai op FTV en op groot skerms weerskante van die verhoog word die aksie en my situasie 20 maal vergroot.

    “Hou my terug,” sê ek vir my vriendin Christine, terwyl my oë traan. “Ek moet gaan en ek moet nóú gaan.”

    Sy kyk tweekeer na my voor sy snap.

    “Nou?! Knyp, verdeksels!” Christine tuur verbete in die teenoorgestelde rigting met die buiksprekersaanleg wat net ’n skinder-liefhebbende fashionista in voorste linies kan hê. Sis sy, “as jy dit doen ken ek jou nie!”

    Toe weet ek dis nou of nooit. My knyp is uit.

    Dit word ’n out of body ervaring:

    In stadige aksie sien ek myself, windmeul bene, rooi kuif en ’n geskenkpakkie wat waai (jy los nooit maar ooit jou geskenkpakkie agter nie) weg spring, oor die loopplank, voor ’n model in. Ek sien dit twee maal. Op al twee skerms. 1000 toeskouers sien dit ook.

    5 minute daarna sug ek die diepste sug van verligting ooit, skaars getemper deurdie hoop dat die modefoendi’s dink ek het die vertoning onuithoudbaar pynlik ervaar. Hulle sou nie half verkeerd wees nie. In daardie klompie minute het ek ’n dekade verouder.

    Basta met die bessies.

    NS. Kom gou weer terug - ek hou julle op hoogte van al die nuwe ontwerpe op die loopplank en die herontwerpte gesigte in die voorste ry by Africa Fashion Week.

    Share/Save/Bookmark

    X-files

    Moenie paniekeer nie! Ek is terug uit die nimmereindigheid van die kuberruimte.

    (My verskonings is…)

    1. Vir ’n rede wat steeds onverklaarbaar is verskyn julle kommentare nie by my inskrywings nie. My paranoïde teorieë vier hoogty maar ons hoop dis net ’n kortstondige tegniese obstruksie en ons hou aan om die saak aandag te gee.

    2. Dollar het na ’n skermutseling met die Noi Si gesin (hulle het haar daarvan beskuldig dat sy die Bassett-hond na hul kind Gracie vernoem het om hulle te treiter!?!) ons Walletjies-rige huisie opgegee en ek het getrek na ’n kompleks nader aan Finesse Torings. Die kompleks was verlede week op Top Billing en selfs na my halfdosyn desperate Facebook boodskappe vir hul vervaardiger en twee-daaglikse stapsessies met Marseille die Poedel in haar nuwe metallic onderbaadjie het ons nie die insetsel vir ’n millisekonde gehaal nie.

    3. Die ander rede dat ek nie geblog kry, is dat ek kwalik ’n sin klaar kan tik met my een vlytige wysvinger want die Prinses van Pretoria se voorliefde vir techno-gadgets gee haar die jollie jeuk. Sy jil sonder end omdat ek Saterdag met Blackberry Storm opgradeer het. Die prinses verkneukel haar in die selfoon se UFO-agtige liggies en dat dit kan alles doen (behalwe om die poedel vir ’n wandeling te neem). PvP moes nou belowe om sagter uiting aan haar entoesiasme te gee anders vat ek my speelding terug.

    Nou dat ons praat van ontneem wees van klein gelukkies.

    Laas week bel my suster uit die Kaap van Goeie Hoop. Sy vertel my ek het die sjarme van ’n begrafnisondernemer. Blykbaar my Addams Family intonasie. Dit kan wees dat ek ’n voorgevoel gehad het oor wat sou volg.

    Sy soek skoene.

    [Voeg hier in gedetailleerde beskrywing van skoen in ’n boetiek in Stellenbosch gesien het.]

    “Nou hoekom het jy dit nie gekoop nie?”

    [Verkeerde grootte. En die winkelassistent wat soos E.T. lyk maak haar bang.]

    “Whatever.”

    [Kan ek met my kontakte reël dat sy die skoene in haar grootte kry. Die skoen het die perfekte lae hak.]

    “?!

    ?!!

    ?!!!”

    Dit kom nou van iemand wat vir alle praktiese doeleindes haar pad uit die moederskoot gebeur het in ’n paar 5 duim spykerhakke.

    [Hierdie kant toe en daardie kant toe maar sy kan nie langer wees as die belastingekspert met wie sy deesdae uitgaan nie.]

    Ek sit die foon neer vir ’n wyle en sprits Beautiful Earth Aromatherapy se Sanctuary Spritzer om my lessenaar. Dit bevat malvalekker ekstrak en ander terapeutiese dinge wat ons hoop ’n atmosfeer van kalmte en innerlike vrede skep so ek gaan deur ? bottel ’n week – altyd die week voor spertyd. Eliza Do Little, die gesondheidsredakteur, onderbreek haar getik-tik op die sleutelbord met ’n gesteurde trek op die gesig. Sy is immers besig met ’n fassinerende in-diepte ondersoek na die gesondheidsvoordele van suurstof kabinette. En ek dag net Michael Jackson slaap in sulke goed.

    Hoe kan enige vrou haar skoene aanpas vir ’n man? Plat skoene! Nicole Kidman het probeer en lyk sy nie vandag haar beste sonder die bankspringende lid van die Kerk van Scientologie-ex van haar nie?

    Bygones!

    Hierdie week is ’n eerste op die modekalender. Ons kontinent kry ’n modeweek waar ontwerpers van regoor Afrika hul versamelings kom wys in die goudstad. Ek moet egter by julle bieg oor ’n stylemma wat ek gehad het by die laaste modeweek. Op daardie stadium het ek myself belowe dat ek die waarheid nie met ’n lewende siel ooit sal deel nie. Maar die terapeut van wie ek julle vertel het? Sy verklaar my blog as ’n katarsis ervaring. Vir my wat Ryno is. Nie vir haar as kopkrimper nie. Om te bieg is om bevry te word. Aldus haar. So ek gaan my moed bymekaarskraap en my sonde openbaar.

    Maar vir nou moet ek terug teleport na my lessenaar toe.

    Xoxo vanaf Planeet Fabulous!

    Share/Save/Bookmark

    Skinderbek!

    ryno_fabulous-blogOnthou julle daai stewige meisie met die plaas-aksent en die do-it-herself gekleurde swart hare wat eens op ’n tyd op Glitterati (KYKNET) was? Ek dink haar naam is Yolanda Barnard.

    Ons het uitgevind waarmee sy intussen besig was.

    Sy het my voorgespring en die eerste tell all geskryf oor Suid-Afrika se celebs. Die boek – slegs op die internet beskikbaar - se naam is Die Ponies Galop. Ja mense, sy het haar pos as joernalis ingespan, op slinkse wyse die celebs se vertroue gewen en wat die res betref haar ore uitgeleen en héérlik aangedik. Sy vertel Minki is rof met almal, Robbie speel kleilat met Nicholus Nicholis Louw en dat Amor al die pad snuf in die neus gehad het oor Joost. O ja en dat Yolanda geen ooghare het vir die sangeres Nedine Blom nie maar dan is Yolanda nie die eerste om so te voel oor juf Blom nie. (Die skinderskrywer se redes vir laasgenoemde is so skurf julle moet maar liewer self gaan lees….).

    Die schmelebrities moet nou nie te kwaad wees vir Yolanda nie. Sy het huur om te betaal.

    En hulle het geweet waarvoor hulle hul inlaat toe hulle hulself in die publieke oog begewe het. Die lessie? Vergeet roem. Of, as jy bekend is, gedra jou mooi. Want iemand gaan jou sien en vir ’n bloedhond joernalis vertel wat op haar beurt vir almal gaan vertel!

    NS. Gedorie, Yolanda, as jy Ryno se blog raaklees, soek hy kommissie vir die bemarking my pop!

    Share/Save/Bookmark

    DIVA!

    Maandagoggend eerste ding kry ek, na maande se uitgerekte onderhandelinge en herhaaldelik uitgestelde fotosessies, ’n e-pos. Die ster is nou baie meer beskikbaar maar sy het ’n paar voorvereistes. Ek dink dat my benewelde naweekbrein nog nie terug in Johannesburg pas is nie en lees die brief van voor af.

    Is dit dieselfde celeb wie se elke inspirerende onderhoud ek in my universiteitsdae in my dagboek geplak het?

    Is dit dieselfde celeb wat ek stileer het reg aan die begin van my loopbaan, ’n meisie wat lief en plat-op-die-aarde was, ’n engel wat die aarde bewandel?

    Is dit dieselfde mens wie se meevoerende treffer selfs ’n Boksburg klub remix het wat ek Vrydag-aande vol opgedraai in my groen gevaarte luister wanneer ek in die laaste van die week se spitsverkeer sit?

    Die e-pos voorspel onheil. Dit het die primadonna-aanslag wat enige een kriewelrig laat rondskuif. Al is dit netjies verpak in die ge-oliede aanslag van haar agent. Maar lees self.

    Sien vereiste riglyne rakende my klient. Stuur vir my die skedule so gou moontlik deur want sy is tans op haar laase opname en haar skedule vul verskriklik vinnig op.
    ryno-blog3She will only wear -

    1. V-necks
    2. Winter colours like lovely baby pink, dark pink, dark pink red, purple.
    3. Silver jewels, NO gold! Nothing around the neck but lovely big earrings.
    4. NO frills!
    5. NO dresses!
    6. ONLY tops with sleeves
    7. ONLY stretch materials
    8. Make-up- lovely maroon, pink or, black smokey eyes, pink lips.
    9. Hair - straight, with lift at the top and curl at the bottom.
    10. She ONLY has green apples for lunch.
    Uhh…. Ok dan!

    Ek vryf my oë en begin soek vir die woorde Madonna, Barbra Streisand of menopouse. Ek kry dit nie en stuur ’n skietgebedjie op dat alles orraait gaan as ek haar ontmoet.

    Beep-beep.

    “Hi. Ryno? Praat ek met Ryno? Het jy my e-pos gekry?”

    (Wiedejoosisdit? Maar ek kan hoor dit sal nie goed afgaan as ek sou vra nie. Sy is beroemd genoeg dat sy nie haarself hoef voor te stel nie.)

    “Die een oor my betrokkenheid by welsyn? Want dis belangrik vir my. En dat skoonheid van binne kom. Hoor hier, wie is die makeup artist? Jy weet ek gebruik net MAC op my gesig?”

    (O, praat van die helsem.)

    “Maar om terug te kom na die artikel as jy regtig wil weet wat in my handsak is, kan ek dit ook stuur maar dis glad nie wie ek is nie. Ek wil nie klink soos een van daai oppervlakkige celebrities nie! Bel my vanmiddag, ek het nie nou tyd om hieroor te praat nie, ek is oppad na my platemaatskappy en dan gaan ek vir ’n kolonspoeling.”

    (Maar jy het vir my gebel, dink ek. En die kolonspoeling klink na ’n goeie idee, hopelik is sy nie so vol…. Toemaar.)

    Na die gesprek save ek haar nommer in my adreslys onder “Cruella De Vil” dat as sy weer skakel wys my foon Cruella De Vil is calling.

    Wil nie eers praat oor die ontmoeting in lewende lywe nie. Sy het ’n uur laat in haar slap goue kar daar aangekom want sy het reg voor die sessie in ’n histrioniese oomblik besluit om brons lyfgrimering orals van haar ken af ondertoe aan te smeer en onder luide aanmoediging van haar mini-entourage die lafste posisies ingeneem dat ek haar later moes een kant neem en haar geluk wens met die resultate van haar yoga-klasse maar kan sy asseblief haar bene bietjies meer toe hou.

    Wonder by myself of mens met sulke gekheid en geite opgeskeep wil sit? Om disfunksionele mense, te pamperlang en hul in hul kwaad te sterk tot die dag dat ek aftree en dan moet ek met slap wenkbroue pille sluk oor so ’n banale lewe gelei (gely?)? Nee, o nee! Ek sal liewer ’n boek skryf oor Suid-Afrika se celeb skandes.

    En dan my kolon laat spoel.

    Share/Save/Bookmark

    Celebrity Diaries (hoofstuk 1)

    Ek lees die memoir met die boonste titel geskryf deur Mark Frith. (Hy is die redakteur wat Heat omskep het in die sappige skindertydskrif wat mense vandag verslind) Hy skryf “my sensasionele inside story van die celebrity dekade is ’n storie oor verspotte ego-maniakke in wie se gekheid ek vasgevang was.” Elke bladsy wat ek boek omblaai, wil ek uitroep “maar dit het nou die dag met ons gebeur!”

    As jy lid is van die pers is jou ervaring met celebrities, universeel. Wel, ter wille van korrektheid: skinderskrywers en stiliste ervaar ’n kant van sterre wat min mense sien. Die kant wat die joernaliste wat skryf in meer genadige publikasies as Heat, nié sien nie.

    Nee, vir joernaliste wat kwistig is met ’n heuningkwas, bied sterre ’n meelewende glimlag, ’n treffende aanhaling oor hul liefde vir gade/gesin/troeteldier, hul diepsinnigheid en wonderlike loopbaan word in een asem genoem. En hulle beroemde hart bloei vir ’n medemens wat krank is. Die ster gee soveel om vir melaatses en mankes dat hulle fondse sal skenk aan diesulkes mits gewone sterflinge soos jy die ster se nuutste cd aanskaf. As die ster betaal word vir die onderhoud kan hulle ’n traan wegpink en bieg oor hul hartverskeurende egskeiding. Hulle praat nie Afrikaans nie, hulle praat voorblad opskrifte! Die melodrama word poleer om impak op die skaal van ’n Griekse tragedie te hê. Want wie se hofdrama, dwelmprobleem, vete of skeisaak kan erger en meer glansryk as ’n celeb s’n wees?

    Mens kan nie die joernalis kwalik neem nie. Dalk is hulle naïef en slurp die spookasem op wat die bekende kwytraak? Maar ’n joernalis behoort tog slimmer te wees? Of dalk is die mediamense desperaat-naïef om te glo dat so bietjie van die glamour en glorie sal reflekteer op hulle wat joernaliste is. ’n “Oe, ek het mos sus-en-so op speed dial” mentaliteit. Die naakte waarheid is meeste van die sterre het een ware liefde: hulself.

    ’n Poplap wat deur ’n romantiese teleurstelling werk, het haar beste rol vertolk. Ons heldin het gebroke dog dapper geglimlag ten spyte van die skok onthulling dat haar man ’n string flerries aanhou. Sy was verskriklik geskok hieroor terwyl die res van die land eers verdeeld en nou verveeld is met die nuus. Op ’n stadium gooi sy haar kop agteroor, sug diep en kondig aan dat sy sal flou val as sy nie dadelik eet nie. (Soos ek gesê het sy werk deur haar pyn.) Gou het haar getroue vriendin-cum-sidekick wat oral met haar saamgaan, haar dagboek vir haar reël en die ster se kroos rondkarwei, nader geskarrel met ’n energie-stafie om die ster te voer. ’n Ligte teleurstelling want ek wou hoor of ’n lugleegte ’n slag maak as dit die vloer tref. Helaas is ons ster se floute afgeweer en sal ons nooit weet nie.

    ’n Ander persoonlikheid wat werklik haar plek in die vermaaklikheidswêreld met reg vol sit, is Suid-Afrika se kletskoningin, ons eie “Oprah”. ’n Lewende bewys dat kamera truuks wondere verrig want in persoon het sy selfs meer van ’n reuse teenwoordigheid. In so ’n mate dat klere dit met moeite akkommodeer. Mini-Oprah rook lustig terwyl haar grimering aangepleister word, blaf as die grimeerkunstenaar nie volgens die kletskoningin se sin verf nie en vertel breedvoerig hoe die sangeresse Christina Aguilera en Will Young hulself skuldig maak aan gruwelike diva gedrag. (Pop poplap Christina wou nie haar onderhoud doen voordat sy 6 pizzas kan bestel waarvan sy elke topping persoonlik kies nie en teen die tyd wat dit by die SABC studio’s afgelewer is het sy intussen besluit sy is vegetaries.) Terug by ons eie Oprah. Sy val oor in ’n vertelling oor haar inkopie verslawing, haar koop-orgie in Parys (nie die een duskant Hartebeespoort nie) en haar beste oefening is om ’n winkeltrollie te stoot. Nadat sy ’n poffertjie poot wikkel uit ’n blink sandaal sien ek in die skoensool dis Jimmy Choo. Dae na ons fotosessie bulk die kletskoningin soos ’n walvis (via e-pos via haar persoonlike assistent). Haar artikel moet radikaal herskryf word: sy is glad nie materialisties nie en het ’n intense voorliefde vir daaglikse gym sessies. …Het ons geliefde kletskoningin raad geneem van Christina en Will?

    Oor Kurt Darren, sy klere groottes en kafee-middagetes het ek geen uitlatings nie. Dit is ’n herinnering wat ek wil laat vervaag soos ’n nagmerrie wat jou in koue sweet laat uitslaan.

    Maar more kan ek julle so bietjie insae gee in die diva gedrag van ’n beroemde nagtegaal met ’n soet stem en ’n swak manier van sit….

    Share/Save/Bookmark

    Kaapse draai

    Julle! Het ek ’n heerlike naweek gehad. Laat my toe om bietjie te “brêg” – ek glo baie van julle het ook ’n storie of wat om te deel? Jy stem sekerlik saam die enigste negatiewe is om ? maand te moet aanpak SONDER die vooruitsig van al die salige publieke vakansiedae….

    Boulders Beach Lodge in Simonstad, Kaapstad het laat weet ek moet ’n draai kom maak. As ’n bederfde Kapenaar-by-oorsprong het dit nie vir my gelyk na ’n besonder eksotiese eindbestemming nie, ek is mos gek oor alles wat kleurvol en outlandish is – volksvreemd soos Oubaas sal sê in 7de Laan. En die Suidelike skiereiland was nog nooit iets wat my in besonder aangetrek het nie – al my herinneringe daaraan het te make met komplekse fotosessies in die dae toe ek die modeblaaie van ’n wilde tienertydskrif stileer het. Ons het onder andere ’n fotosessie gedoen op ’n skip wat ’n week later gesink sou word – almal het geskeurde denim aangehad en my enigste verskoning hiervoor is Christina Aguilera wat in my prulle jeug my inspireer het met haar gaterige klere. Dit was die 1990’s orraait, ’n ander millenium!

    My ervaring met die deel van die Kaap laas naweek was soos ’n herontmoeting met ’n kennis wat jou voorheen nie interesseer het nie maar wie jy nou nogal sjarmant vind ’n dekade later. (Mens moet net seker wees dit het nie te make met goeie beligting, duur wyn en die skielike afwesigheid van jou rekenaar nie, wat genoeg is om enige een se helder denke te befomfaai nie…)

    Ek en die Prinses van Pretoria (kom ons noem haar PvP ter wille van bondigheid) - laasgenoemde deliries van opgewondenheid asof ons gaste gaan wees van die Sultan van Broenei - kom eers laataand by die oord aan weens tegniese probleme waaroor ek nie gaan uitwei nie (“ek sê jou mos jy moet eers later afgedraai het!”) oppad vanaf die lughawe. Die weer doen gestand aan die eertydse “Kaap van Storms” titel met winde en ’n gotiese volmaan wat soms tussen onheilswolke deurskemer. Sterk in kontras met Boulders Beach Lodge. Die plek is ’n vrolike Madeliefie-geel huis met blou afronding wat uitkyk oor reuse geronde rotse wat rys uit die see, hier waar die twee oseane aan die punt van Afrika bymekaar kom.

    En, asof dit so gereël is, waggel ’n pikkewyn in sy manelpak, snawel in die lug, tot reg by die ingang om ons te verwelkom.

    Hy strek tot op heuphoogte maar met sy waardige houding neem ek aan die meneer is die gasheer!

    Ons is té laat om Boulders se legendariese aandete te geniet maar betyds om ’n Skotse toeris te hoor prysliedere sing daaroor en te vertel dat hulle daar bespreek het omdat vriende van hulle so lekker hier geëet het op besoek aan Suid-Afrika. Die bestuurder – die vrolike Jenine Genade – verwelkom ons hartlik met vrolike geskater en staaltjies asof ons al jare bure is. En my badkamer met sy skeepsvenstertjie wat uitkyk oor ’n kinderboek-mooie prent is meer as ’n troos. Alle sorge vergete met die wispelturige maar passievolle Kaapse verwelkoming.

    Die volgende dag sluit ek aan by enkele Japannese toeriste voor ontbyt. Ons gaan maak kennis met die vrolike en vriendelike pikkewyn kolonie wat nuuskierig na mens nader stap totdat jy retireer want… die skattige dierasies ruik nogal sterk na die see! Ek koop die mooiste klein pikkewynbeeldjie uit klip gekap en loer deur die curio winkel. As iemand my sou vertel oor so ’n wegbreeknaweek sou ek “nee dankie” sê maar dis asof ek weer terugklim in myself. Jy raak weer grootoog kind hier.

    Ek en PvP eet regtig een van die lekkerste brêkvisse (soos ons eg Kaapse kelner praat) ooit. Ek haal diep asem, die lug hier is verfrissend. Jy voel nie langer soos ’n skarnier in ’n masjien wat olie kort nie.

    Later die dag gaan stap ons in koddige klein winkeltjies in Kalkbaai, kyk uit oor die Suidelikste punt van Afrika by Kaappunt, eet die varsste seekos en ry op wit perde op die Noordhoek strand.

    Maak tyd vir jouself, moenie dat jou binnelewe vergaan nie. Boulders Beach Lodge is ’n plek waar jy dit terug kan vind.

    VIND MEER UIT OOR BOULDERS BEACH LODGE OP www.bouldersbeach.co.za OF SKAKEL 021 786 1758. bouldersboulders-2

    Share/Save/Bookmark