Maandagoggend eerste ding kry ek, na maande se uitgerekte onderhandelinge en herhaaldelik uitgestelde fotosessies, ’n e-pos. Die ster is nou baie meer beskikbaar maar sy het ’n paar voorvereistes. Ek dink dat my benewelde naweekbrein nog nie terug in Johannesburg pas is nie en lees die brief van voor af.
Is dit dieselfde celeb wie se elke inspirerende onderhoud ek in my universiteitsdae in my dagboek geplak het?
Is dit dieselfde celeb wat ek stileer het reg aan die begin van my loopbaan, ’n meisie wat lief en plat-op-die-aarde was, ’n engel wat die aarde bewandel?
Is dit dieselfde mens wie se meevoerende treffer selfs ’n Boksburg klub remix het wat ek Vrydag-aande vol opgedraai in my groen gevaarte luister wanneer ek in die laaste van die week se spitsverkeer sit?
Die e-pos voorspel onheil. Dit het die primadonna-aanslag wat enige een kriewelrig laat rondskuif. Al is dit netjies verpak in die ge-oliede aanslag van haar agent. Maar lees self.
Sien vereiste riglyne rakende my klient. Stuur vir my die skedule so gou moontlik deur want sy is tans op haar laase opname en haar skedule vul verskriklik vinnig op.
She will only wear -
1. V-necks
2. Winter colours like lovely baby pink, dark pink, dark pink red, purple.
3. Silver jewels, NO gold! Nothing around the neck but lovely big earrings.
4. NO frills!
5. NO dresses!
6. ONLY tops with sleeves
7. ONLY stretch materials
8. Make-up- lovely maroon, pink or, black smokey eyes, pink lips.
9. Hair - straight, with lift at the top and curl at the bottom.
10. She ONLY has green apples for lunch.Uhh…. Ok dan!
Ek vryf my oë en begin soek vir die woorde Madonna, Barbra Streisand of menopouse. Ek kry dit nie en stuur ’n skietgebedjie op dat alles orraait gaan as ek haar ontmoet.
Beep-beep.
“Hi. Ryno? Praat ek met Ryno? Het jy my e-pos gekry?”
(Wiedejoosisdit? Maar ek kan hoor dit sal nie goed afgaan as ek sou vra nie. Sy is beroemd genoeg dat sy nie haarself hoef voor te stel nie.)
“Die een oor my betrokkenheid by welsyn? Want dis belangrik vir my. En dat skoonheid van binne kom. Hoor hier, wie is die makeup artist? Jy weet ek gebruik net MAC op my gesig?”
(O, praat van die helsem.)
“Maar om terug te kom na die artikel as jy regtig wil weet wat in my handsak is, kan ek dit ook stuur maar dis glad nie wie ek is nie. Ek wil nie klink soos een van daai oppervlakkige celebrities nie! Bel my vanmiddag, ek het nie nou tyd om hieroor te praat nie, ek is oppad na my platemaatskappy en dan gaan ek vir ’n kolonspoeling.”
(Maar jy het vir my gebel, dink ek. En die kolonspoeling klink na ’n goeie idee, hopelik is sy nie so vol…. Toemaar.)
Na die gesprek save ek haar nommer in my adreslys onder “Cruella De Vil” dat as sy weer skakel wys my foon Cruella De Vil is calling.
Wil nie eers praat oor die ontmoeting in lewende lywe nie. Sy het ’n uur laat in haar slap goue kar daar aangekom want sy het reg voor die sessie in ’n histrioniese oomblik besluit om brons lyfgrimering orals van haar ken af ondertoe aan te smeer en onder luide aanmoediging van haar mini-entourage die lafste posisies ingeneem dat ek haar later moes een kant neem en haar geluk wens met die resultate van haar yoga-klasse maar kan sy asseblief haar bene bietjies meer toe hou.
Wonder by myself of mens met sulke gekheid en geite opgeskeep wil sit? Om disfunksionele mense, te pamperlang en hul in hul kwaad te sterk tot die dag dat ek aftree en dan moet ek met slap wenkbroue pille sluk oor so ’n banale lewe gelei (gely?)? Nee, o nee! Ek sal liewer ’n boek skryf oor Suid-Afrika se celeb skandes.
En dan my kolon laat spoel.