Bekendes word soms gekou soos toffies!

    “Is Juanita du Plessis regtig so nice as wat sy op televisie is?” vra ‘n vriendin  terwyl ons Saterdagaand Skouspel Plus kyk.

    “Ja sy is…sy is baie professioneel en ‘n regte dame,” antwoord ek.

    “En Kurt Darren, hoe is hy in die werklike lewe?” vra ‘n ander vriendin nuuskierig.

    “Baie aangenaam,” antwoord ek. “Hoflik, vriendelik en baie professioneel.”

    Ek is al jare gewoond aan die tipe vrae. Omdat ek so “close”met baie van die “celebs”werk, wil mense by my weet hoe lyk Brumilda van Rensburg se slaapkamer, of Theuns Jordaan ‘n vaste meisie het, of Shaleen Surtie-Richards so pittig soos Nenna is en of Phillip Moolman en Susan Coetzer gelukkig getroud is. En verloor Steve regtig sy humeur so baie? is nog ‘n vraag wat baie gevra word.

    Nuuskierigheid, beheptheid met bekendes of net opsoek na ‘n nuwe, lekker skinderstorie. Noem dit wat jy wil, maar sangers, akteurs en rugbyspelers se lewe “tickle” ons ou volkie.

    “Miskien is dit net lekker ontvlugting, al die skinder oor bekendes,” som my vriendin Mariaan dit op.

    “As jy in die kollig wil beweeg, dan moet jy maar weet jy is ‘n toffie wat gekou gaan word,” het Carike Keuzenkamp altyd gesê. En gekou,  word die sogenaamde celebrities gekou…noem hulle maar op…Steve Hofmeyr seker die meeste van almal, en Joost, Jurie Els, Robbie Klay en Ray Dylan. Trap hulle skeef, dan loop hulle deur.

    Die aktrise Milla Louw (sy is tannie Schoeman in 7de Laan) wat al 86 somers agter die rug het en vandag nog steeds klas gee vir akteurs en aspirant-akteurs het na die Joost- en Steve-sage in ‘n neutedop gesê”As jy bekend is, het jy ‘n verantwoordelikheid teenoor die publiek.”

    Wel, myns insiens ‘n hengse verantwoordelikheid.

    Hierdie mense word ikone, rolmodelle (wat in ‘n sekere sin seker ‘n goeie ding is in ‘n onsekere land met soveel korrupsie), mense na wie ander kan opkyk, op ‘n troontjie kan sit en dalk ook verafgod.

    “Celebrities became a religion” het Katie Melua, Brittanje se gewildste sangeressie tydens een van haar besoeke aan Suid-Afrika aan ‘n joernalis gesê.

    Dit is amper soos ‘n simbiose, ‘n wisselwerking tussen joernaliste en bekende persoonlikhede. Die bekendes is afhanklik van publisiteit , joernaliste is afhanklik van stories, sensasie en nuus oor bekendes om die koerante en tydskrifte vol te maak. Die een voer die ander, die een hand was die ander. Joernaliste bou celebrities op, sit hulle op ‘n troontjie en die publiek verlustig hulle daarin. Hulle “slurp” dit as’ t ware op!

    Toe die Joost-skandaal in Rapport breek, het ‘n vriendin  se pa eers die koerant eenkant toe gegooi en gesê: “Wie gee hulle die reg om Joost so af te breek en te vernietig?”

    ‘n Rukkie daarna het hy die Rapport opgetel en die hele storie woord vir woord verslind.

    “Is Steve se buite-egtelike verhoudings en Joost se sekskapades dan in openbare belang?” was onlangs die onderwerp van bespreking tydens ‘n ete. Ons was ‘npaar joernaliste om die tafel.

    Ek het lank daarna nog oor die vraag gewonder. Wanneer het bekendes ‘n reg op hul privaatheid….waar word die streep getrek?

    En wanneer is iets in openbare belang en wanneer nie?

    Komaan, Finnesse-lesers sê bietjie hoe julle oor die saak voel!

    Share/Save/Bookmark