‘n Rowwe Rol - Lindie Strydom

    Ek het hierdie week vir ‘n fondsinsameling vir my kinders se kleuterskool ‘n praatjie gelewer.  Die tema het ek by my baie goeie vriendin, Adriana, se een-vrou-stuk, “Rowwe Rol” geleen.  Ek het gehou van die dubbelsinnigheid daarvan en het gehoop om so klein bietjie nuuskierigheid uit te lok.  (Ek het eerlikwaar ook nie geweet waaroor ek met ander Mammas – nes ek – gaan praat nie, so die interessante tema het vir my tyd gekoop vir voorbereiding tot op die laaste.)

    Die Rowwe-Rol-geselsie het toe uitgedraai  in ‘n belydenis van my tekortkominge as ouer, my opregte gewilligheid om die rowwe rol van ma-wees tog reg te kry en die druk wat ek en baie Christen ouers ervaar om te bewys ons Christen metodes werk en dat dit mooi voorbeeldige kinders lewer.  Ek kan verantwoordelikheid aanvaar vir die aanslag wat ek as ouer kies, maar die uitslag is eintlik buite my beheer.  Op die ou end is my belangrikste rol dié van ‘n fasiliteerder wat my kinders na Jesus toe moet bring en hulle nie verhinder soos die goed-bedoelende dissipels nie.

    Die volgende oggend in die parkeer area van die skool kry ek aanbod op aanbod om my te help dra aan die 3 lomp boksie tassies en 3 woelwaters wat elkeen hulle eie koers kies die oomblik wat daai voetjies die teer slaan.  Daar is iets anders.  Amper soos Steve liedjie: “ek en jy verstaan mekaar.”  Miskien het dit iemand gevat om te bieg, “ek kry nie hierdie ma-ding altyd reg nie”, om al die ander ouers vry te maak van die vals juk van ouer-perfeksie.

    Nou wanneer ek die kinders op- en aflaai is daar hierdie wetende wenkbrou groet wat sê ek dink ook dis ‘n rowwe rol en sterkte vir joune vandag…

    Share/Save/Bookmark